Video: Vroue 10 jaar ná ontvoering gevind

Amanda Berry (middel) saam met haar suster, Beth Serrano en ‘n kind wat Berry vermoedelik tydens haar ontvoering gehad het. Foto: 19actionnews.com.

Drie vroue wat vir byna tien jaar lank in Amerika vermis was, is Maandag lewend in ‘n huis in Cleveland, Ohio opgespoor.

Twee van die vroue het sowat ‘n dekade gelede as tieners vermis geraak, berig die BBC. Amanda Berry (26) het in 2003 vermis geraak toe sy haar suster laat weet het dat sy ‘n saamry-geleentheid van haar werk af huis toe gekry het. Gina De Jesus het van die skool af op pad huis toe verdwyn. Die derde vrou is as Michelle Knight uitgeken, wat 20 jaar oud was toe sy in 2002 ontvoer is.

Die polisie het die vroue Maandag gevind nadat ʼn buurman hulle hulpkrete gehoor en Berry uit die huis gered het.

Charles Ramsey, die buurman, het die vroue se hulpkrete gehoor en gaan ondersoek instel. Toe Berry vrygelaat is, het sy dadelik die polisie geskakel en haar self identifiseer as Amanda Berry, die slagoffer van ʼn hoëprofiel-ontvoering ʼn dekade gelede. In ʼn opname van die noodoproep, wat intussen deur die polisie vrygestel is, kan mens Berry hoor skree: “Help my! Ek is Amanda Berry… Ek is ontvoer en ek is al vir 10 jaar lank vermis. Ek is hier. Ek is nou vry!”

Ariel Castro, ʼn skoolbusbestuurder van Cleveland, Ohio en eienaar van die huis, is saam met sy twee broers, wat saam hom in die huis gebly het, in verband met die ontvoerings in hegtenis geneem.  Die verdagtes is tussen 50 en 54 jaar oud.

Volgens die BBC het die vroue se families gedink hulle was dood. Een se ma het gedink sy was dalk as ʼn slaaf verkoop.

Die vroue is na die MetroHealth Medical Center, geneem waar dr. Gerald Maloney bevestig het hulle is veilig en in ʼn goeie toestand.

Die video is deur CollectiveCheckup op YouTube gelaai. Klik hier vir meer inligting en foto’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HELENA SEABORNE ·

ai ons hoop nog maar steeds dat di kids wat destyds weggeraak het ok nog gevind sal word. dis nooit te laat ni.

Hannes Verburg ·

Ons sal moet aanhou hoop vir al die mensies wat so vermis word, nog lewend gevind sal word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.