Vier vas vir wrede Oranjeville-moord

Vivien Ponté. Foto: Verskaf.

Vier mans is Dinsdag in hegtenis geneem vir die wrede moord op Vivien Ponté (57) wat Sondagaand in haar huis in Oranjeville in die Vrystaat vermoor is.

Maroela Media het Dinsdag berig Ponté is aangeval, aangerand, vermoedelik verkrag, op haar bed vasgebind en verwurg waarna haar bed aan die brand gesteek is. Lees meer hier.

Konst. Peter Kareli, polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die polisie het op wenke van die Oranjeville-gemeenskap reageer wat tot die inhegtenisname van een man gelei het. “Die verdagte het die polisie na die ander drie verdagtes in Oranjeville se informele nedersetting, Metsinaholo, gelei,” het Kareli gesê.

Volgens Kareli is gesteelde goedere wat glo aan Ponté behoort het, in hul besit gevind. “Die polisie het beslag gelê op duur eetgereistelle, een goud en een silwer, asook juwele wat aan haar behoort het,” het hy gesê.

Die verdagtes is tussen 23 en 27 jaar oud.

“Die mans is van mekaar geskei en word by aparte polisiestasies in die gebied aangehou, sodat hulle nie met mekaar kan kommunikeer en die ondersoek beïnvloed nie. Ons is besig om ʼn sterk saak teen die mans bymekaar te stel. Hulle sal na verwagting Vrydag in die Heilbron-landdroshof verskyn en ons wil nie hê hulle moet borgtog kry nie.”

Kareli het die Oranjeville-gemeenskap in besonder bedank vir hulle samewerking met die polisie wat tot die spoedige inhegtenisname gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peter Bezuidenhout ·

Wrede barbarisme,om van siek te word.Simpatie aan die familie…

Ebeth ·

Skokkend Ek het daar skoolgegaan en my pa hulle daar begrawe Ek hoop die bliksems hang

Sonja Pieterse ·

Wanneer sal die regeerings se oe oop gaan en die doodstraf terug bring dit is al hoe ons hierdie land nog kan red. Dit is om van siek te word..

Lid van die Boervolk ·

Dankie Maroela dat julle die nuus gedra het.Alweer nog n blanke slagoffer.Dag na dag dieselfde smartlike,tragiese nuus.Aan naasbestaandes ons innige medelye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.