Villiers-boer stabiel ná aanval

Jannie du Plessis. Foto: Facebook

Lees ook: Villiers-plaasaanval: “Bid vir my pa”

Jannie du Plessis (64), die boer van Villiers wat Sondag geskiet en saam sy vrou in ʼn kluis toegesluit is, is in ʼn stabiele toestand in die Unie-hospitaal in Alberton.

Maroela Media het Sondag berig Jannie, en sy vrou Stinnie (59), is Sondagoggend omstreeks 04:00 by hul plaashuis aangeval. Sers. Thabo Litabe, ʼn woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media bevestig dat Jannie se toestand ernstig maar stabiel is. “Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort. Die polisie ondersoek sake van gewapende roof en poging tot moord,” het hy gesê.

“Twee verdagtes het die egpaar wakker gemaak waarna hulle die boer in die maag geskiet en hom en sy vrou in die kluis toegesluit het,” het Litabe Sondag gesê. Die egpaar was vir ʼn hele paar uur lank in die kluis toegesluit en is later deur ʼn plaaswerker en huishulp bevry. Die mans het glo met ʼn onbekende bedrag geld, twee vuurwapens en een van die egpaar se motors op die vlug geslaan. Die motor is later verlate naby Heidelberg gevind.

Jannie is Sondagmiddag in ’n kritieke toestand met ʼn helikopter na die hospitaal geneem vir spesialis behandeling. Stinnie is in die Riemland-kliniek in Frankfort opgeneem waar sy vir skok behandel is.

Enigiemand met inligting kan die Villiers-polisiestasie kontak by 058 821 3009.

Stinnie du Plessis. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LOUIS JORDAAN ·

Dit ruk nou erg hand uit en die regering van die dag gaan of kan niks daaraan doen nie.Ons sal erns n plan moet maak,ons boere en ou mense word as sagte teikens beskou en hierdie optrede teen hulle gaan nie ophou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.