Chili-aardbewing: Groter een volg dalk

Grafika: abcnews.go.com

Grafika: abcnews.go.com

Die aardskudding van 8,2 op die momentmagnitudeskaal wat Chili pas getref het, is dalk net ‘n voorskok van ‘n nog groter aardskudding wat dalk kan volg.

Prof. Rick Allmendinger van die Cornell-universiteit wys daarop dat die gebied waar die skudding voorgekom het, sedert 1877 nie ‘n skudding beleef het wat die opbouende spanning in die geologiese verskuiwingsvlak kon verlig nie. ‘n Skudding in die orde van M9 is verwag wat dié opgeboude spanning sou kon verlig.

Die momentmagnitudeskaal, soos die Richterskaal, is ‘n logaritmiese skaal, wat beteken dat ‘n skudding van 9 tien keer sterker is as ‘n skudding van agt. Die M8,2 skudding was dus heeltemal ontoereikend om die opgeboude energie vry te stel.

Die potensiële werklike groot skuddings vind plaas waar een plaat onder ‘n ander inbeweeg. Hoe kleiner die hoek, hoe groter is die aardbewings wat verwag kan word, wat die gebied wat nou getref is, uiters gevaarlik maak.

Dit vergelyk met die gebied waar die grootste gemete aardbewing ooit, ‘n skudding van M9,5, in die suide van Chili voorgekom het, asook die Japannese skudding van 9 in 2011, en die skudding van M9,2 in Alaska waarvan die vyftigste herdenking aan die einde van Maart in herinnering geroep is.

Die San Andreasverskuiwingsvlak bied in beginsel nie die potensiaal vir sulke groot skuddings nie, omdat die twee plate in teenoorgestelde rigtings langs mekaar verbyskuur. Trouens, na ‘n onlangse aardbewing van M 5,1 in die minder bekende Puente Hills-verskuiwingsvlak, waarsku wetenskaplikes dat ‘n kleiner skudding in hierdie sone veel meer skade tot gevolg kan hê as die uitstaande “Big One” wat in die San Andreas verwag word, omdat die Puente Hills deur die middestad van Los Angeles loop waar 4 miljoen mense woon.

Seismoloë wys daarop dat ‘n M7,5 skudding in die San Adreas na raming 1 800 sterftes in Los Angeles tot gevolg kan hê. ‘n Skudding van dieselfde sterkte in die Puente Hills, wat tot in Hollywood sterk, sal na verwagting tussen 3 000 en 18 000 lewens eis en $259 miljard se skade aanrig. Hierdie verskuiwingsvlak is eers in 1999 ontdek.

Intussen stroom nog berigte oor skade in Chili in, maar die tsunami-waarskuwings is opgehef. Talle telefoonverbindings is afgesny, en paaie beskadig wat dit moeilik maak om gou die omvang van die skade te bepaal. Agt naskokke van M5 of meer, waarvan een sterker as M6 was, het reeds voorgekom. Die beweerde potensiaal van ‘n skudding van M5 is gebruik as regverdiging om bunkers en ander aardbewingveiligheidsmaatreëls by Nkandla in te stel, terwyl die sterker naskok ongeveer so sterk was as die sterkste Bolandse skudding van die sestigs wat onder meer in Tulbagh en Ceres miljoene rande se skade aangerig het.

Lees ook:
Video’s: Chili-aardbewing nog die sterkste vanjaar
Chili-aardbewing: Tsoenami-waarskuwing; gevangenes ontsnap

Bronne: Los Angeles Times, Christian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.