Ma deur 3-jarige doodgeskiet

Christa Engles

Christa Engles

ʼn 26-jarige ma is deur haar driejarige seuntjie doodgeskiet in Oklahoma, Amerika.

Tulsa World berig dat Christa Engles Maandag besig was om haar tien maande oue babadogtertjie se doek te ruil toe haar seuntjie haar in die kop geskiet het. Die voorval het by die gesin se huis in Tulsa plaasgevind.

Volgens die berig vermoed die polisie dat die seuntjie ʼn gelaaide semi-outomatiese pistool van ʼn tafeltjie af gehaal en sy ma per ongeluk geskiet het. Christa se ma het die skoot gehoor en haar dogter in die sitkamer gevind. Christa is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas, maar het aan haar beserings beswyk.

Christa se man, Brian, was nie tuis ten tyde van die voorval nie. Hy het Dinsdag op Facebook geskryf: “Dis ʼn nuwe dag, dit sal my eerste sonder jou wees. Ek het so baie in my gedagtes maar dit maak nie saak nie. Ek weet jy het my lief gehad, ek het die grond waarop jy geloop het, aanbid. Ek is die gelukkigste man wat leef, aangesien ek jou kon liefhê. Sedert die dag wat ek jou ontmoet het, was jy die beste deel van my. Ek is lief vir jou dierbare engel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Samantha Mostert ·

Dis tragies maar wat het die pistool in die eerste plek daar gesoek? Dit hoort in n kluis.

Jakes ·

Ja-nee wragtag. Dis die eerste vraag wat mens vra. Wat doen ‘n gelaaide pistool binne reikafstand van ‘n driejarige? Wat het jy dan nou gedink gaan gebeur?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.