Gaan Switserland ʼn kuslyn kry?

Foto: Facebook

Foto: Facebook

“Canton Marittimo” – Kanton by die see. Switserland gaan ’n kuslyn kry – dis nou as twee vriende van Sardinië hul sin kry.

Die twee, Andrea Caruso en Enrico Napoleone, het ’n paar jaar gelede met ’n veldtog begin on steun te werf vir die idee dat Sardinië onafhanklikheid van Italië kry en dan aan Switserland verkoop word. Met die koopsom kan Sardinië sy potensiaal, waaronder toerismepotensiaal, behoorlik ontsluit, sê hulle.

Op hul Facebookblad het hulle gou meer as tienduisend ondersteuners gehad vir dié idee. Na aanvanklike nuusdekking, het die media ongeveer twee jaar lank dié twee,  ‘n tandarts en ‘n motorverkoopsman, geignoreer. Maar skielik is hulle weer terug in die nuus in koerante en publikasies in talle lande.

Hoekom? Die antwoord, so lyk dit, het nie veel met Sardinië en Switserland te make nie. Die samesmeltingsplan se kanse om te slaag is immers ignoreerbaar klein.

Die antwoord, so lyk dit, lê by Europese regerings se vrese dat die Skotse onafhankliheidsreferendum tot druk sal lei dat ander lande ook sulke referendums moet hou en dan ná ’n “ja”-stem, onafhanklikheid moet toestaan.

Eve Hepburn, ’n senior lektor aan de Universiteit van Edenburg in Skotland en kenner van selfbeskikkingsbewegings, wys op talle gevalle waar minderhede hul stemme begin dik maak vir groter outonomie, aangevuur deur die Skotse voorbeeld.

Sedert die Skotte “nee” vir onafhanklikheid, maar volgens beloftes van die Britse regering “ja” vir groter outonomie gestem het, het die onafhanklikheidsentimente skynbaar hand oor hand gegroei.

Afgesien van die Skotte het ook die inwoners van Katalonië in Spanje en van Venesië en omgewing in Italië, raadplegende referendums gehou wat dui op oorweldigende steun vir onafhanklikheid. Hepburn verwys ook na die Duitssprekende Suid-Tirool in Italië waar sentimente om los of losser van Italië te wees, steeds woel.

Dit is teen hierdie konteks wat Sardinië beoordeel word. Onafhanklikheidsentimente van Italië loop hoog en Sardinië word derde op die Europese “ranglys” geplaas van gebiede wat op onafhanklikheid kan aandring. ’n Mosie om ’n referendum vir onafhanklikheid te hou, is met een stem in die eiland se streekparlement afgekeur, maar ná die Skotse referendum is dit nie seker of so ’n mosie weer sal misluk nie. Altesaam tien politieke partye staan onafhanklikheid van Italië voor.

Dit is ook nie heeltemal vreemd dat die idee van aansluiting by Switserland in Sardinië aanklank sal vind nie. Switserse Italiaans word in ’n aantal kantons in die suide van Switserland gepraat en in Ticino is dit die enigste amptelike taal. Ook die inwoners van Sardinië praat Italiaans wat merkbaar verskil van die dialekte in Italië.

Maar wat is die kanse dat Switserland sy grondwet sal wil verander om dit vir Sardinië moontlik te maak om ’n kanton te word? In 2010 het ’n Switserse parlementslid, Dominique Baettig, voorgestel dat die land sy grondwet wysig om dit vir naasliggende gebiede moontlik te maak om aan te sluit. Verskeie sulke gebiede, selfs so ver as Milaan, het al aangedui dat hulle graag sal wil aansluit. Die Switserse regering het die idee egter as “’n onvriendelike daad teenoor buurlande” van die tafel gevee.

Switserland en Italië is ook bevriende lande. Maar as Sardinië in ’n, wel, onafhanklike proses ’n onafhanklike land word en dan by Switserland wil aansluit? Dan word op niemand se tone getrap nie. Maar die eerste struikelblok is dat die Italiaanse grondwet sesessie verbied.

Open Democracy

Wall Street Journal

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.