Maleisië ontken vermiste vliegtuig het aanhou vlieg

vermiste vliegtuig malaysia airlinesDie video volg onderaan die berig. Beamptes van Maleisië het Donderdag berigte ontken wat beweer dat die vermiste vliegtuig van Malaysia Airlines vier ure lank aanhou vlieg het ná sy laaste kontak.

Die Wall Street Journal het berig dat lugvaartondersoekbeamptes in Amerika en beamptes van nasionale sekuriteit hul teorie baseer op data wat outomaties van die Rolls Royce-enjins afgelaai en teruggestuur is. Volgens dié data het die vliegtuig vyf ure lank gevlieg.

Die Wall Street Journal skryf die inligting toe aan twee anonieme bronne wat “bekend is met die besonderhede”.

Dit beteken dat die vliegtuig, met sy 239 mense aan boord, honderde myle bly vlieg het ná sy laaste kontak met die lugbeheer Saterdag omstreeks 01:30. Dit is ongeveer ʼn uur nadat die vliegtuig, op pad na Beijing, by Kuala Lumpur opgestyg het.

Soekspanne dek reeds ʼn reusegebied, meer as 90 000 vierkante kilometer, van die Suid-Chinese see tot die water wes van Maleisië.

Ondersoekbeamptes het dit ook duidelik gemaak dat hulle steeds die moontlikheid van ʼn kaping ondersoek en die CIA het gesê die moontlikheid dat die voorval met terrorisme verband hou, is nog nie uitgeskakel nie.

“Beamptes oorweeg die moontlikheid dat ʼn vlieënier of iemand anders aan boord die vliegtuig na ʼn onbekende ligging gestuur het en doelbewus die vliegtuig se transpondeerders afgeskakel het om radar-opsporing te vermy,” het die WSJ berig.

Ondersoekbeamptes oorweeg glo ook die moontlikheid dat die vlug herlei is om die vliegtuig moontlik later vir ʼn ander doel aan te wend.

Vliegtuie van Viëtnam en Maleisië kon geen teken van die wrakstukke opspoor toe hulle oor ʼn gebied gevlieg het wat die Chinese owerhede aangedui het nie. China se weermag het gesê satellietfoto’s wys “drie vermoedelik drywende voorwerpe” wat as die “vermeende ongelukstoneel” beskryf word. Maar die Chinese owerhede het later gesê dit was ʼn fout om die satellietfoto’s vry te stel en dat hulle nie enige wrakstukke gewys het wat verband hou met die vliegtuig nie.
Bron: CNN, SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.