Die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde (GRS) het beslis dat Woolworths die koeldrankvervaardiger, Frankies Olde Soft Drink, se handelsmerk naboots.
Frankies het die kettingwinkel by die GRS aangegee en aangevoer dat Woolworths hulle “Good Old Fashioned Soft Drinks”-slagspreuk gebruik. Die GRS het beslis dat Woolworths “aspris” en “met opset” die slagspreuk gebruik het. Volgens die uitspraak moet Woolworths onmiddellik die produk in sy huidige formaat onttrek. Woolworths het aangevoer dat die konsep van oudmodiese drankies niks nuuts is nie. Die GRS het egter bevind dat geen ander koeldrankvervaardiger die slagspreuk “Good Old Fashioned Soft Drinks” gebruik nie en dat Frankies dit eerste gebruik het. Frankies Olde Soft Drink is in 2006 in KwaZulu-Natal begin.