Yolande Korkie nie in staat tot onderhoude nie

Yolande Korkie Foto: Sapa stringer

Yolande Korkie Foto: Sapa stringer

Die familie van Yolande Korkie, die vrou van Pierre Korkie wat deur Al-Kaïda-militante in Jemen gyselaar gehou word, het Dinsdag gesê sy gaan nie meer verdere media-onderhoude toestaan nie.

“Op mediese advies is sy aangeraai om nie meer haarself vir enige onderhoud beskikbaar te stel of enige mediakonferensie by te woon vir onderhoude nie,” het die familie in ʼn verklaring gesê. “Sy moet eers van haar beproewing herstel en tyd saam met haar twee kinders spandeer.”

Die familie het gesê hulle sal twee keer per week persverklarings uitreik en sodra daar nuwe verwikkelinge in die saak is.

Die jongste nuus was Maandagmiddag om 16:00 waarin bevestig word dat die humanitêre welsynsorganisasie, Gift of the Givers, voortgaan om met Pierre se ontvoerders te onderhandel en om sy veilige vrylating te verseker. Sy ontvoerders eis ʼn losprys van $3 (Byna R32.5 miljoen) vir sy vrylating. Die aanvanklike sperdatum vir die betaling van die losprys was Vrydag, maar die militante het dit met drie weke uitgestel.

Die egpaar is in Mei verlede jaar in Taiz ontvoer nadat hulle vir Amerikaanse toeriste aangesien is. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat sonder dat daar ʼn losprys vir haar lewe betaal is.

Diegene wat ʼn bydrae wil lewer tot Pierre se losprys, kan ’n SMS met die woord “Korkie” na 42402 stuur. Met die stuur van die SMS sal R30 outomaties op die skenker se selfoonrekening gehef word.

Persone wat meer wil bydra, kan Mariska by House of Bread in Bloemfontein by 051 444 0190 of 082 307 6925 bel. Kredietkaartbetalings kan ook by House of Bread in Stapelbergstraat in Brandwag gedoen word.

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.