Zuma-skildery ‘sadisties’

Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) sê die omstrede kunswerk waarop president Jacob Zuma met ontblote geslagsdele uitgebeeld word, is “sadisties”.

“Die SAKP is woedend oor die beledigende, minagtende… walglike en sadistiese sogenaamde portret van president Zuma deur die kunstenaar Brett Murray,” het ʼn woordvoerder van die SAKP, Malesela Maleka, in ‘n verklaring gesê. “Die kunswerk is aanstootlik en ‘n uiterse daad van uitlokking teenoor die oorweldigende meerderheid van ons mense. Murray het eenvoudig te ver gegaan.” Die 1,85 meter hoë skildery, getiteld “The Spear”, is deel van die versameling Hail to the Thief II wat by die Goodman Galery in Johannesburg vertoon word. Maleka het gesê die SAKP veroordeel mense wat die kunswerk verdedig onder die vaandel van vryheid van uitdrukking. Die National Interfaith Council of South Africa het intussen gesê die portret help nie om die verdeeldheid wat deur die land se verlede meegebring is, te oorbrug nie. “Die vryheid waarvoor baie van ons mense gely en gesterf het, moet nie misbruik word deur dié wat duidelik haat vir demokraties verkose leiers koester nie,” het Thamsanqa Mvambo, sekretaris-generaal van dié organisasie, gesê.

Die ANC het Vrydag ‘n dringende hofinterdik aangevra in ‘n poging om die Goodman Galery in Johannesburg en die City Press daarvan te weerhou om die skildery te vertoon. Die verhoor sal Dinsdag by die hooggeregshof in Johannesburg plaasvind, het Jackson Mthembu, woordvoerder van die party, gesê. Die Sunday Times het berig die skildery is reeds vir R136 000 aan ‘n Duitse koper verkoop. Dit gons intussen ook oor ʼn spotprent in die Sunday Times deur die spotprenttekenaar Zapiro waarin die geslagsdele vervang is deur ’n stortkop. Uit die stortkop spuit die woorde “seksskandale”, “korrupsie”, “nepotisme” en “baantjies vir boeties” (cronyism).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.