Pryse skerp afwaarts op laaste wolveiling

Die Merino-markaanwyser het tot op sy laagste vlak vir die seisoen gedaal. (Argieffoto)

Die laaste veiling voor die Kersreses het vir ʼn teleurstelling gesorg toe die Merino-markaanwyser tot sy laagste vlak vir die 2202-’23-seisoen gedaal het.

Die aanwyser vir nie-RWS (Responsible Wool Standard) het met 6,1% gedaal tot R151,62/kg en die RWS-aanwyser het met 4,4% gedaal tot R157,85/kg.

Volgens ʼn verslag wat deur Cape Wools uitgereik is, kan die daling toegeskryf word aan die rand wat oor die tweedagveiling teen ander geldeenhede versterk het. Dit het met 1,3% sterker teen die VSA$ gesluit. Die Australiese mark (AUS$) het met 2,5% gedaal teenoor die vorige veiling wat op 23 November plaasgevind het.

Ander faktore wat die pryse afwaarts gedruk het, was die groot aanbod en moeilike handelsomstandighede.

Die aanbod het uit 14 837 bale bestaan, waarvan 94,5% verkoop is.

Fyn, lang merinovagwol het sowat 60% van die aanbod uitgemaak, terwyl 49% van die merinowolaanbod die “volhoubaar geproduseer”-stempel opgehad het.

Die grootste kopers op die veiling was Modiano SA wat 4 229 bale gekoop het, Tianyu SA met 2 602 bale, Standard Wool SA met 2 174 bale en BKB Pinnacle Fibres met 1 807 bale.

Die volgende veiling vir die 2022-’23-seisoen is vir 11 Januarie volgende jaar geskeduleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.