Soorte resepte:

Lynsaad: Hoog in vesel en laag in koolhidrate

lynsaad

Lynsaad. Foto: Curlyafro.com

Althea Nel

Lynsaad (flax seed of linseed) word al die afgelope 6 000 jaar geëet. Dit is klein, bruin- of goudkleurige saadjies wat die rykste plantaardige bron is van omega-3 vetsture in die wêreld! Die voedingswaarde van 30 g lynsaad is as volg:

  • Omega-3 (6,33 mg);
  • Vesel (8 g);
  • Proteïene (6 g);
  • Vitamin B1 (31% ADT);
  • Mangaan (35% ADT);
  • Magnesium (39% ADT);
  • Fosfor (19% ADT); en
  • Selenium (10% ADT).

Belangrikste voordele:

  1. Hoog in vesel, laag in koolhidrate

Een van die merkwaardige voordele van lynsaad is die hoë vlakke slymerige gom. Hierdie gom is ʼn wateroplosbare gel-vormende vesel wat ongelooflike voordele vir die spysverteringskanaal inhou. Dit help dat kos nie die maag te vinnig verlaat nie sodat daar genoeg tyd is vir die absorpsie van voedingstowwe. Lynsade bevat baie oplosbare- en onoplosbare vesel wat die detoksifisering van die kolon asook gewigsverlies ondersteun en dit verminder die lus vir suiker.

  1. Gewigsverlies

Omdat lynsaad vol gesonde olie en vesel is, help dit om jou langer versadig te laat voel en daarom eet jy minder. Die gesonde vetsure help ook om inflammasie te verminder.

  1. Verlaging van cholesterol

Die oplosbare vesel bind met die vet en cholesterol in die spysverteringskanaal sodat dit nie deur die liggaam geabsorbeer word nie. Oplosbare vesel bind ook met gal wat gemaak word van cholesterol in die galblaas. Die gal word dan deur die spysverteringskanaal uitgeskei wat die liggaam weer dwing om meer gal te produseer en sodoende al die cholesterol in die bloed opgebruik en dus verlaag.

  1. Lynsaad is gluten-vry

Dit is ʼn uitstekende plan om grane wat gluten bevat, wat inflammasie veroorsaak, te vervang met lynsaad wat anti-inflammatories is. Gebruik dit gerus saam met klappermeel in gebak.

  1. Lynsade bevat baie anti-oksidante

Lynsaad bevat baie anti-oksidante wat help met die vertraging van veroudering, hormoon-wanbalans en sellulêre gesondheid. Dit ondersteun ook die groei van probiotika in die spysverteringskanaal en help die liggaam om gis en candida uit te skei.

  1. Gesonde spysverteringskanaal

Lynsade help om die wand van die spysverteringskanaal te beskerm en kan voordelig wees vir mense met Krohn se siekte asook ander siektetoestande van die spysverteringskanaal omdat dit inflammasie verminder. Jy kan 15 – 45 ml lynsaadolie met ʼn glas wortelsap meng en dit drink om hardlywigheid te verminder.

  1. Menopousale simptome

Bewyse bestaan dat lynsaad estrogeniese eienskappe het en daarom verligting kan bring tydens die oorgangsjare. Om hierdie voordeel te ervaar, voeg 15-30 ml lynsaad asook 15 ml lynsaadolie by jou ontbytpap.

  1. Gesonde vel en hare

Indien jy ʼn gesonde vel , hare en naels wil hê, voeg 30 ml lynsaad by jou smoothie of 15 ml lynsaadolie by jou daaglikse roetiene te voeg. Die vetsure in lynsaad verskaf essensiële vetsure asook b-vitamiene wat droogheid en skilferigheid voorkom. Dit help ook om aknee en ekseem te verminder, asook die sensitiwiteit van droë oë.

  1. Kanker

Die voordele van lynsaad is al oor en oor bewys en help beveg selfs bors-, prostaat- en eierstok-, asook kolonkanker. Volgens ʼn studie wat onlangs in die Journal of Clinical Cancer Research gepubliseer is, kan lynsaad die voorkoms van borskanker verminder, vermoedelik weens die rol wat lynsaad speel in die balansering van hormone.

Hoe om lynsaad te gebruik

Daar is verskeie wonderlike maniere om lynsaad in jou dieet in te sluit, soos om dit by jou muffinbeslag, brode, beskuit of kleinkoekies te voeg. Een van die algemeenste vrae van verbruikers is of die hoë temperatuur tydens die bakproses die omega-3 vetsure vernietig. Volgens verskeie studies bly die omega-3’s stabiel indien die lynsaad vir 3 ure by 150°C gebak word.

Wenke hoe om lynsaad in die dieet in te sluit:

  • Voeg 15 – 45 ml gemaalde lynsaad by jou ontbytgraan of smoothie;
  • Meng 15 ml met jogurt en suiwer rou heuning;
  • Voeg gemaalde lynsaad by muffins, brood, beskuit of kleinkoekies;
  • Voeg by tuisgemaakte granola; en
  • Meng dit met water en gebruik in plaas van eier.

Dit is die beste om lynsaad te maal, anders kan ons liggame nie die voedingswaarde binne-in die saad gebruik nie en word dit onverteer weer uitgeskei. Jy kan die lynsaad in ʼn koffiemeule maal en net voordat jy dit eet. Die omega-3 vetsure kan galsterig word wanneer dit aan suurstof blootgestel word. Die beste manier om die voordele van die sade te benut, is egter om dit te laat spruit. Weking en die daaropvolgende ontkieming verminder fitiensuur en verhoog die absorpsie van minerale aansienlik.

Net soos genoem vir Chiasaad, drink genoeg water wanneer lynsaad ingeneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George Bekker ·

Belangrike en interessante artikel. Net jammer dit word ‘lynsaad’ genoem. Die regte Afrikaanse benaming is vlassade of vlassaadolie.

SNEL ·

Vlassade is baie gesond en Chia sade (weet nie of daar n ander naam vir dit is, dis maar hoe ek dit ken) ook. Chia seeds het vir 100g, 9 x meer omega 3 as salm, 2 x meer proteïene as eiers, 2 x meer vesel as oats en 5 x meer kalsium as melk. Dit is baie vullend en sit uit in water, ideaal om te gebruik in smoothies. Dit en vlassade is vir my n wonderlike kombinasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.