Agoa-aankondiging deurspek met ‘spanning’

Argieffoto (Foto: Spencer Platt/Getty Images)

Hoewel die aankondiging dat Suid-Afrika die 20ste forum oor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika – beter bekend as die Agoa-ooreenkoms – sal aanbied, wyd verwelkom is, is dit duidelik deurspek met “oorblywende spanning” tussen Suid-Afrika en die VSA.

Dít volgens die DA wat ook sê die aankondiging is ʼn stap in die regte rigting, maar dit vind plaas teen ʼn agtergrond van “plaaslike ekonomiese broosheid en oorblywende diplomatieke spanning”.

“Dit is noodsaaklik om hierdie diplomatieke spanning te hanteer aangesien ons ekonomiese stabiliteit gekoppel is aan robuuste handelsvennootskappe – veral met die VSA,” sê dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies.

Die Agoa-ooreenkoms verskaf belastingvrye toegang vir sekere Afrikalande, ook Suid-Afrika, tot die enorme Amerikaanse mark. Hierdie voorkeurtoegang strek oor ʼn diverse verskeidenheid van goedere wat verskeie sektore bevoordeel.

Die ooreenkoms ondersteun nie net Suid-Afrika se uitvoersektor nie, maar is ook ʼn jaarlikse inspuiting van miljarde rande in die ekonomie en verseker duisende werksgeleenthede.

“Die moontlike hersiening van ons geskiktheid vir die Agoa-ooreenkoms voorspel ʼn koue toekoms, een wat gekenmerk word deur handelstariewe wat ons mededingendheid op die wêreldmark sal saboteer,” sê George.

Die DA het in Julie ʼn voorlegging aan die Amerikaanse handelsverteenwoordiger gedoen oor waarom die Agoa-ooreenkoms met Suid-Afrika behoue moet bly. George sê hy glo die DA het ʼn boeiende saak gestel.

ʼn Afvaardiging van die Solidariteit Beweging het ook vandeesweek samesprekings in Washington met verteenwoordigers van die komitees vir buitelandse sake van die Amerikaanse senaat en die huis van verteenwoordigers gevoer.

Die afvaardiging het die Amerikaners versoek om Suid-Afrika se voortgesette deelname aan Agoa te steun én sterker standpunt in te neem teen die ANC se knus bande met outoritêre lande soos Rusland, China en Iran.

Suid-Afrika se bande met Rusland is juis wat aanleiding tot die VSA se besluit gegee het om die Agoa-ooreenkoms met die regering te hersien.

Die DA het intussen onderneem om by vanjaar se forum, wat van 2 tot 4 November sal plaasvind, voort te gaan om bande te bou met plaaslike en internasionale belangegroepe om te verseker dat Suid-Afrika deel van die Agoa-ooreenkoms bly.

“Hierdie verbintenis is ʼn bewys van ons onversetlike toewyding aan die welsyn van alle Suid-Afrikaners.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Die DA wil onder die vleuel van die hiperboliese liberale Biden-regering dien in die hoop dat hul die ANC uit die Kaap kan druk maar vergeet van die groot Moslem- en Kleurlinggemeenskap en 35 swart plakkerkampe. Die DA se liefde vir die neo-Nazi-gesinde Zelensky wat hul eerder met die ou Duitse groep verbind as die egte Joodse gemeenskap, is onvergeeflik swak gedrag terwyl die Russe die Jode uit die Nazikampe bevry het. Die DA/PP/ VP se ware kleur is geopenbaar… Die ou Sappe het ontwaak.

gatgogga ·

Annie, hoekom is jy so kwaad vir jouself? Altyd negatief, en braak gal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.