Aurora-bestuurders moet miljoene terugbetaal

'n Skag by die Aurora-myn in Springs. Foto: Reint Dykema

‘n Skag by die Aurora-myn in Springs. Foto: Reint Dykema

Die voormalige bestuurders van Aurora en sommige van hul familielede en vriende moet ʼn bedrag van meer as R15 miljoen aan die maatskappye se likwidateurs terugbetaal.

Regter Eberhard Bertelsmann het Dinsdag die hofbevel in die Pretoriase hooggeregshof toegestaan ten gunste van Aurora se likwidateurs teen Sulliman Bhana, sy seun Faizel, vrou Zubaide en dogters Shamilla en Feroza asook sy vriende Mohamed Limbada en Zeenat Laher.

Bhana en sy seun is as “finansiële adviseurs” aangestel toe Aurora die bestuur van die gelikwideerde Pamodzi-goudmyne in 2009 in Springs en Orkney oorgeneem het. Hulle het glo “beleggings” uit “die Indiër-gemeenskap” ontvang om Aurora aan die gang te hou, maar die lenings is glo terugbetaal met rente wat tot 100% beloop het, terwyl myners steeds nie salarisse ontvang het nie.

Die likwidateurs het aangevoer die beleggers was eintlik die Bhanas, hul familie en vriende.

Die hof het betalings, wat Aurora tussen 2009 en 2010 aan die Bhanas en hul vriende gemaak het, tersyde gestel. Die betalings is gedoen terwyl Aurora eintlik bankrot was en ander krediteure soos die arbeidsmag en Eskom nie betaal is nie.

Dinsdag se hofbevel is die eerste in ʼn reeks soortgelyke aansoeke om nagenoeg R35 miljoen wat Aurora glo onwettig uitbetaal het, in te samel. Dit kan moontlik nog jare lank voortsleep met duur regskoste om die geld terug te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lorayne ·

Ek spandeer nie my geld op drank nie, maar ek het vandag GEEN probleem met ‘n BELL’S vir Regter Eberhard Bertelsmann nie!

Anita ·

Die persone betrokke as werkers kon nimmer slaag om enige betaling te ontvang nie, hoe sal dit na die hofsaak kan gebeur?……of is daar ‘n moontlikheid dat beslaglegging op die bates van die skuldiges kan plaas vind?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.