Corrie Sanders bly ’n kampioen vir sy geliefdes

Corrie na die geveg toe hy die WBO titel op 8 Maart 2003 in Duitsland verower het. (Foto verskaf)

Deur Elize Perrin

Vir die wêreld was hy ʼn bokskampioen; ʼn man bekend vir sy uitklophoue. Vir sy geliefdes was hy ʼn seun, broer, pa en vriend.

Op 23 September sal dit tien jaar wees nadat Corrie Sanders gesterf het weens ʼn koeëlwond uit ʼn rower se wapen.

Wat die vorige aand as vrolike mondigwordingsfeesvieringe vir Corrie se broerskind begin het, is in ʼn tragedie verander nadat rowers die restaurant op Brits ingestorm en begin skiet het. Corrie is getref, maar het steeds sy dogter met sy liggaam probeer beskerm.

ʼn Vuishou op die hart

Na ʼn dekade onthou die familie die gebeure steeds helder.

“Ek onthou dat ons so 19:15 gebid het voor ete. Die volgende oomblik het ek net geweerskote gehoor en drie mans met handwapens die lapa sien binnestorm en skote afvuur,” vertel Mike, Corrie se broer. “Ek was totaal onkant betrap en het vir ʼn oomblik gedink, eerder gehoop, dat dit iemand is wat gekskeer. Die harde werklikheid het my met ʼn skok getref toe ek besef ons is midde-in ʼn gewapende roof.”

Corrie se ma, Alida Sanders, herroep hom in haar gedagtes met sy wit hemp wat vrolik met almal gesels, kort voor die rowers ingestorm het. Vandag is dit steeds die eerste beeld wat by haar opkom wanneer sy aan haar oudste seun dink.

Mense wonder dikwels na sulke gebeure of hulle nie anders moes optree nie?

“Ek sou nie regtig wou anders optree nie,” sê Mike. “Daar was baie ouer mense en jong kindertjies en dink net wat kon gebeur het as ons die moordenaars teengestaan of hulle aangeval het. Ek glo die Here het Sy heilige engele oor ons gebied sodat die skade, beserings en lewensverlies tot ʼn absolute minimum beperk is.”

Mike wys ook daarop dat mediaberigte oor plaasaanvalle en -moorde hom ontstel, want hy kan hom vereenselwig met dit wat die slagoffers en hul families moet deurmaak.

“Ek dink dat ʼn afsterwe aan natuurlike oorsake dalk makliker sou wees om te verwerk as die trauma wat sy skielike dood veroorsaak het,” sê Alida. “Dit voel soms nog so onwerklik. Ek was nog nooit na sy graf nie, want ek kan dit nog nie aanvaar nie.”

Die gebeure is soos ʼn vuishou op die hart wat innerlike skade aanrig met geen uiterlike wonde nie.

Mike en Corrie saam met Mike se swaer, Monte, wie ook in 2017 geskiet is. (Foto verskaf)

Om weer lewensfiks te raak

Na die traumatiese gebeure moes die familie weer maniere vind om lewensfiks te raak. Een van die hindernisse op die pad na genesing was die hofsaak van die drie verdagtes wat eers na twee jaar en vyf maande afgehandel is.

“Die hofsaak was geweldig uitmergelend,” sê Mike. “Ek het al die hofverskynings bygewoon, behalwe die eerste een op 1 Oktober 2012. Dit was die dag van Corrie se begrafnis. Ek het ook self in die verhoor getuig.”

Al drie verdagtes is uiteindelik aan moord en verskeie ander aanklagte skuldig bevind.

Mike het vir eers geen behoefte om met die moordenaars van sy broer in gesprek te tree nie.

“Daar is nog te veel seer wat ons daagliks ervaar.

“Wat my in hierdie tyd deursettingsvermoë gegee het, was die wete dat ons dit aan Corrie verskuldig was om toe te sien dat reg en geregtigheid geskied en dat die skuldiges agter tralies beland, waar hulle hoort,” sê Mike.

Om te rou is ʼn seer proses met emosionele binnegevegte. Om voor die wêreld te rou, is ʼn uitdaging. Uit die aard van Corrie se bekendheid as bokser, wat voormalige WBO-wêreld-swaargewigkampioen insluit, het sy afsterwe wyd aandag getrek.

“Die aandag en blootstelling aan die groter wêreld was oorweldigend en daar was soms by tye net te veel goed om te hanteer en te verwerk,” vertel Mike. “Ek en my vrou, Noekie, het van die aand met die skietery dit ʼn gebedsaak gemaak en die Here absoluut vertrou om ons almal deur die verskriklike tyd te dra.”

Mike verwys ook na die ondersteuning wat hulle van die familie, gemeente, vriende en die gemeenskap van Brits en ook van mense wêreldwyd ontvang het.

“Ons kan getuig dat net die Here mens deur so ʼn gebeurtenis kan lei, vertroos en versterk,” sê hy.

Vir beide Mike en sy ma bly die gemis na Corrie ʼn werklikheid, veral by familiebyeenkomste.

“Wanneer ek Corrie se kinders sien, word ek onwillekeurig daaraan herinner dat hy ook saam met ons kon gewees het, maar ons moet daarby berus dat hy nie meer is nie,” sê Mike.

In ʼn poging om deur hul pyn te stap, het Mike en sy ma ook ʼn kamp bygewoon.

“Ons het berading ontvang en kon met ander deel wat in soortgelyke situasies was. Dit het regtig baie gehelp. ʼn Mens kan aangaan met die lewe, soos Corrie dit sou wou hê.”

Vir Corrie se ma is daar nog heelwat af dae.

“My hart is baie diep seer,” sê sy. “’n Mens kom nooit daaroor nie. Jy bly wag dat hy enige tyd by die deur sal instap met ʼn glimlag en dat alles net ʼn nagmerrie was.”

Die Sanders gesin voor Corrie se afsterwe. Mike, Alida, Ruby Watson en Corrie. (Foto verskaf)

ʼn Plakboek van onthou

In hartseersituasies maak gister se onthou ʼn mooi plakboek vir die skadu-dae.

“In die afdae dink ek aan die mooi tye saam,” sê Alida. “Alhoewel dit my hartseer maak, bring dit ook troos.”

“Van my beste herinneringe is van die dae op die plaas,” sê sy.” Corrie het gereeld plaas toe gegaan. Ek onthou hoe hy en Mike kleintyd in die veld gespeel het. Soms kon jy net hulle koppe en die hond se stert bokant die gras sien uitsteek. Dan was hulle op hul gelukkigste.”

Corrie (middel) saam met sy pa(regs) en sy oom Ivan Jansen (voor).Ivan was Corrie se afriger as kind. Links agter staan ‘n neef. (Foto verskaf)

Alhoewel Alida trots was op haar seun se prestasies in die bokskryt, het sy nooit na sy gevegte gaan kyk nie.

“Hulle het altyd verwys na hoe sterk die opponente was en ek was bekommerd dat Corrie baie seer kon kry.”

Mike onthou sy broer se unieke ondeundheid en dat hy alewig almal ʼn poets wou bak.

“Corrie was ook ʼn baie goeie rugbyspeler,” vertel Mike. “Hy het ook Noord-Transvaal Cravenweek in die laerskool gespeel. Ons het ook vier keer teen mekaar gespeel. Ek was losskakel vir Hoërskool Brits se eerstespan en Corrie was losskakel vir Wagpos Hoërskool se eerstespan. Van die vier wedstryde kon Brits slegs een wen en Corrie-hulle die ander drie. Ek moet sê, in die aanloop tot die wedstryde het dit maar stamperig in die gange gegaan. Ek dink vir my ouers, veral vir my pa, was dit moeilik om ons uitmekaar te hou. Op die wedstryddag moes dit vir hulle ewe moeilik gewees het, want hulle kon tog seker nie net die twee losskakels ondersteun nie?”

Mike vertel ook dat Corrie ʼn groot liefde vir gholf gehad het en in die tyd voor sy afsterwe baie tyd daaraan spandeer het.

“Hy het baie vriende op die gholfbaan gehad; bekend en onbekend,” sê Mike.

ʼn Laaste groet

Dikwels is daar die behoefte aan ʼn laaste boodskap of groet.

“Corrie was ontsettend lief vir sy kinders, Marenique en Dean,” sê Mike.

As Mike vir sy broer ʼn boodskap kon gee, sou dit wees om nie bekommerd te wees nie.

“Die kinders is versorg en dit gaan baie goed met hulle. Ons mis jou baie… sal jou altyd onthou en liefhê.”

“As ek nog een keer vir Corrie iets kon sê, sou ek hom teen my vasdruk en vir hom sê hoe baie ek hom mis en hoe lief ek hom het; soos wat ek die afgelope tien jaar soveel keer in my gedagtes vir hom gesê het,” is Alida se laaste groet aan haar seun.

Corrie en sy dogter in vrolike luim. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.