“Almal is veilig na die oppervlak gebring,” het Memory Johnstone, woordvoerder van Harmony, gesê. Geen sterftes of beserings is aangemeld nie. “Die werknemers sal vir waarneming gestuur word om seker te maak hulle is almal fisies gesond.”
Johnstone het gesê die brand is onder beheer gebring. “Daar sal ʼn skadeberekening gedoen word maar die belangrikste was om seker te maak almal is veilig.”
Pres. Jacob Zuma het intussen sy skok en kommer oor die voorval uitgespreek. “Ek doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om die mynwerkers in hul gedagtes en gebede te hou in die moeilike tyd.”
Die brand het omstreeks 09:40 Sondagoggend op vlak 75 sowat 2 300m ondergronds ontstaan. “Sowat 287 van die 486 werkers is veilig in toevlugareas onder die grond waar daar vars lug, water en telefoonkommunikasie is,” het Harmony vroeër in ʼn verklaring gesê.
Die brand het glo ontstaan tydens instandhouding van ʼn reuse lugverkoeler. Alle bedrywighede by die myn is opgeskort.
Brande is deur die geskiedenis van SA myne een van die grootste oorsake van mynrampe. Dit is verskriklik dat so iets ondergronds gebeur, maar ek is baie verheug en dankbaar dat daar geen sterftes of ernstige beserings was nie. Daarvoor verdien Harmony en MRS ‘n pluimpie: Dit is knap gedaan! Kom ons dank en loof ons Hemelse Vader dat Hy die vasgekeerdes gered het.