Hennopsrivier ‘herstel’ danksy rommelstrikke

Willem Snyman (Foto: Fresh/Facebook)

Sowat 500 000 ton plastiek spoel na raming jaarliks in die Hennopsrivier in Gauteng af. Nou beywer ’n nieregeringsorganisasie hom daarvoor om die tonne en tonne plastiek en ander rommel uit die rivier én ander te verwyder.

Dít word gedoen deur sogenaamde strikke met kabels en nette oor die rivier te span waarmee tonne rommel opgevang word wanneer dit weens swaar reën rivier af gespoel word.

“Daar kom soveel besoedeling uit Gauteng. As ons dit hier bo kan keer en dit by die oorsprong van riviere kan hou, sal dit ’n groot verskil maak,” sê Willem Snyman, direkteur van Fountain Rivers Earth Sanctuary Hennops (Fresh).

Fresh het tans kabels en drie nette van verskillende grootte by onder meer Olievenhoutbosch en Kaalspruit in die Olifantsfontein-vleiland naby Midrand in Gauteng gespan, waar sowat 150 ton rommel onlangs te midde van swaar reën opgevang is.

(Foto: Fresh/Facebook)

Die rommel wat versamel word, is meestal huishoudelike afval en kom onder meer van informele nedersettings langs die vleilande, of rommel wat by byvoorbeeld by brûe gestort word.

Riviere het nie-amptelike stortingsterreine geword, sê Snyman.

“Daar kom ook ongelooflik baie ander goed af tydens oorstromings. Die kabels vang hierdie groter en swaarder items op terwyl die nette plastiek opvang. Dit is ’n ingewikkelde proses en ook ’n groot uitdaging om die nette skoon te maak.”

Dit het net verlede week alleen agt mense geverg om ’n net skoon te maak, vertel Snyman.

(Foto: Fresh/Facebook)

Die nieregeringsorganisasie poog om spesifiek die probleem van afvalplastiek in riviere op te los.

“Dit is só skadelik. Dit gee toksiese gasse af en die probleem is dat dit jare lank in die waterstelsel bly. Dit breek nie af nie en diere gaan dood [as gevolg daarvan]. Dit is eintlik ongelooflik wat ons aan ons omgewing doen.”

Vir Snyman wat hom al meer as vier jaar beywer om plastiek uit riviere te verwyder, is daar vervulling daarin om ʼn rivier te help skoonmaak.

“Dit is só mooi om te sien hoe ’n rivier herstel, ontslae raak van die gemors, sy vloei verbeter en net weer vry word.”

Fresh se werk word moontlik gemaak deur eie finansiering, skenkings en enkele vrywilligers.

Om meer uit te vind oor Fresh se opruimingswerk, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JM ·

Dit is uiters ontstellend om te aanskou hoeveel gemors in ons riviere gestort word! Ons land het absoluut ‘n rommelhoop geword, omdat daar sóveel mense is wat nie ‘n duit omgee nie, want die basiese opvoeding ontbreek. Willem Snyman en sy organisasie behoort finansieel en fisies ondersteun te word vir sy verdienstelike werk.

Sê maar net ·

Wow, welgedaan en baie dankie aan Willem Snyman en Fresh!!

katerinadiekat ·

Tipies van hierdie land. Miljoene sprinkane breek af, vernietig en voel oor die algemeen n veer. Ek wil eintlik n ander woord as veer gebruik. En n handjievol vlytige miere probeer die skade herstel. Ek wens ek het geld gehad gehad om te skenk aan Mnr. Snyman en FRESH se werkers.

J ·

Wonderlike werk wat Willem Snyman en sy mense van FRESH doen! Ons Stadsrade behoort sulke werk te finansier uit ons belasting deur ‘n paar nuttelose FATCATS af te dank en die salarisse te kanaliseer na die werkers by FRESH! Verder behoort die groot besighede wie se verpakkingsmateriaal ons riviere verstop, verplig te word om dieselfde produkverspreingsnetwerk te benut om die afval te herwin. Gee klein belonings aan werkloses en kinders om die afval terug te besorg by die supermark waarvandaan dit kom. Langtermyn gevangenes (bandiete) behoort die kans gebied te word om hulle “skuld” teenoor die gemeenskap te betaal deur omgewingsopruiming te doen … in ruil vir afslag op hulle vonnis. China gee blykbaar aan hulle langtermyn gevangenes die geleentheid om bv paaie te kom bou in Afrika of om lewenslank te ‘vrot’ in die tronk. Maar die uiteindelike oplossing vir omgewingsbesoedling (verwoesting!) is GEBOORTEBEPERKING … soos China dit gedoen het. ‘Voorkoming is beter as genesing!’

Toktokkie ·

Wow! Baie dankie julle. Weet asb dat ons dit ongelooflik baie waardeer. Wat ‘n positiewe lekker om te weet iemand het uitgeklim en self iets gedoen waar die regering ons faal. Nogmaals baie dankie Fresh en elkeen wat so hard werk om ons riviere skoon te hou.

Coolbanana ·

So bly iemand gee om…meer mense moet betrokke raak !

Strandloper ·

Mooi man, iemand soos jy sal dit ver bring. Wees net versigtig vir die taxi’s, ek sien al hoe vat hul shortcut op jou nette.

christo ·

Goeie nuus. Die kusgebiede sukkel net dieselfde probleem. Dis ‘n uitstekende idee wat bewys het dat dit werk . Kaapstad kan definitief van Fresh se dienste gebruik om die rommel wat in die see en op strand uitspoel te bekamp.

Johan ·

Die eens pragtige omgewing van Hartebeespoortdam word ernstig onder druk geplaas. Tans is dit een vna die mees besoedelde damme in die wêreld, trouens ook een van die gifigste. Die onbeplande plakkerkampe groei daagliks teen ‘n onheilspellende spoed aan waar daar GEEN stadsbeplanning vir riool en ander afval-infrastruktuur bestaan nie.

Die “nuwe inwoners” vernietig die omgewing deurdat al die inheemse bome afgekap word vir vuurmaakhout, hulle raak ontslae van hul afval deur die riviere te stort en het geen basiese begrip van omgewingsbewaring nie. Dis nou ‘n ramp wat wag om te gebeur terwyl die hopelose ANC die land finansieël oor ‘n afgrond gedruk het.

Na die Tweede Wêreldoorlog het dit slegs 10 jaar geduur vir Europa, Engeland en Japan om uit die as en rommel te verrys as suksesvolle lande……..maar in SA erf die useless ANC ‘n land waar alles gewerk het en druk dit in die rioolgat in!!!!

Piet ·

Baie dankie vir die werk wat julle doen. Ek hoop dat die morsjorsse iets daaruit sal leer.

Anoniem ·

Wanneer dit baie reen spoel al die gemors by die Apiesrivier af (spesifiek by die Laagwaterbrug in Capital Park) af en die wereld le besaai met al die gemors. Kan Fresh nie asseblief ook by hierdie rivier dieselfde begin doen wat hulle met die Hennopsrivier doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.