Jayde Panayiotou: Derde verdagte was uit op borgtog

Sizwezakhe Vumazonke in die hof. Foto: Twitter

Sizwezakhe Vumazonke in die hof. Foto: Twitter

Die derde verdagte wat vir die moord van Jayde Panayiotou (28) in hegtenis geneem is, was ten tyde van sy inhegtenisneming uit op borgtog.

Sizwezakhe Vumazonke (30) het Dinsdag vlugtig in Port Elizabeth-landdroshof verskyn in verband met die moord op die Oos-Kaapse onderwyseres. Panayiotou se liggaam is op 22 April aan die buitewyke van die Kwanobuhle-township naby Uitenhage gevind.

Daar is intussen bevestig Vumazonke is drie maande gelede op borgtog vrygelaat nadat hy na bewering betrokke was by ʼn gewapende roof by Dales Liquor in die Mount Pleasant-buurt in Port Elizabeth op 23 Desember verlede jaar.

Vumazonke is ook glo in Julie 2011 tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die diefstal en die besit van ʼn gesteelde vuurwapen. Hy is in Oktober 2013 op borgtog vrygelaat nadat hy twee en ’n half jaar van sy vonnis in die St. Albans-tronk uitgedien het.

Ten spyte daarvan dat hy reeds op borgtog uit was toe hy vir die Dales Liquor-rooftog in hegtenis geneem is, is hy weer op borgtog vrygelaat.

Brig. Marinda Mills, polisiewoordvoerder, het bevestig dat Vumazonke op borgtog uit was en tereg gestaan het op ʼn aanklag van gewapende roof.

ʼn Foto op Vumazonke se Facebook-profiel, gedateer Februarie 2014, wys hoe hy in ʼn oranje oorpak poseer met die woorde “Inenkani mayihlangene”, wat losweg vertaal kan word as “daar is verset wanneer daar ondersteuning is”.

Vumazonke het Dinsdag in die landdroshof ʼn geswelde regteroog gehad wat hy toegeskryf het aan aanranding deur die polisie. Volgens Mills het Vumazonke die besering tydens sy inhegtenisneming opgedoen. “Die ondersoekspan het gesukkel om hom op te spoor, so toe hy gevind is, was hulle haastig om hom vas te trek. Hy was in ʼn voertuig met ʼn skare mense buite ʼn kroeg en hulle moes hom uit die motor uit kry voor hy ʼn kans kon kry om te ontsnap,” het sy verduidelik.

Mills het gesê die korrekte prosedure met Vumazonke se besering is gevolg en hy is mediese behandeling aangebied. “Dit was ʼn ongelukkige voorval wat plaasgevind het toe hy uit die voertuig getrek is,” het sy gesê.

Vumazonke het nie Dinsdag regsverteenwoordiging in die hof gehad nie en sy saak is uitgestel na 19 Junie wanneer Panayiotou se man, Christopher, ook weer sal verskyn.

Vumazonke kan egter vir borgtog aansoek doen voor sy volgende hofverskyning.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SNEL ·

Hoeveel moorde, verkragtings en wat nog als, was nie al deur akkers wat op borgtog uit is gepleeg nie. Kan mens nie die staat dagvaar in so geval of iets doen nie. Iewers moet iemand aanspreeklik gehou word vir hierdie maklike borgtog uitdelings. Dis skokkend om te dink die peste word net weer op straat gesit om ons leed aan te doen.

Andries ·

Die ou MOET glad nie borgtog kry nie ek dink ons regstelsel moet wakker word hy gaan net weg raak

Peet Schabort ·

En daar vee ek ‘per ongeluk’ my kommentaar uit so al asof ek uit ‘n voertuig ‘ gehel(p) word.
Ek sal maar volstaan om nie hier te tik oor wat ek dink van die regstelsel in hierdie geval want ek sal nie só gelukkig wees om borg te kry.
Ek kan net nie glo wat ek hier lees en tog is dit in Afrikaans.

Semaarnet ·

Kan iemand net vir my verduidelik hoe de hel dit moontlik is dat borg nogsteeds vir hierdie gewetenlose skepsel oorweeg kan word? ? ? ? ? Dis belaglik, dit is hoekom die wetter eenvoudig net voortgaan elke keer wat hy uit kom, want hy weet hy kom elke keer weg…. net soos dié keer MET MOORD

scalla ·

Een maal n tronkvoel altyd n tronkvoel in die geval, hou hom daar permanent

Tammy ·

Hierdie is n geharde misdadiger. As hy weer borg kry is dit sy paspoort om te se hy doen die regte ding. Sluit hom toe en verbied enige lewende wese om met hom kontak te he. Hy is duidelik onrehabiliteerbaar. Na soveel misdaad, soveel borgtog…ag nee wat hier ruik n rot.

Asjas ·

So eintlik het hy in ‘n deur vasgeloop? ‘n Kar deur in hierdie geval. Baie bly om te hoor dit was net ‘n ongelukkige voorvalletjie ;-)

Pieter ·

Bly om te sien hy is goed “oortuig” om sy samewerking te gee tydens arrestasie! Sy borg is natuurlik omdat ons tronke tot barstens toe vol is van misdadigers, en, met n regstelsel wat besig is om te verval, is hierdie insidente te wagte…

CHRISTA ·

Hierdie landdroste en regters moet besef hulle het ook familielede en misdadigers gaan nie eers navraag doen om uit te vind of hulle van regters, landdroste, polisielede of ministers familie is nie – hulle slaan net toe!!!

Berhalet Beukes ·

Dit gaan my verstand te bowe dat ‘n gewoonte misdadiger kort kort terug in die samelewing gestuur word net om weer misdade te pleeg. Is dit só moeilik om die wetstoepassing te beoefen? Nee magtig, dis ‘n skande!

Adri ·

Die skurke kry keer op keer borgtog, maar iemand soos Derby-Lewis moet in die tronk sterf. Waar is geregtigheid heen?

Marcia ·

Hallo, mens praat van parool waarop iemand uit is/was nadat hul reeds gevonnis is. Nie borg nie. Borg is wanneer ‘n saak teen iemand nog hangend is. Hierdie beskuldigde het reeds ‘n gedeelte van sy tronkstraf uitgedien toe hy (op parool) vrygelaat is. Miskien kan jul die oorsig regmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.