Prieska-veeboer aangewys as klimaatslim-ambassadeur

Piet Roux van die plaas Biega by Prieska is vanjaar se Veeplaas klimaatslim ambassadeur. (Foto: Youtube)

Veeboere wat ʼn passie het vir die bewaring van die omgewing en natuurlike hulpbronne kon vanjaar vir die tweede Veeplaas klimaatslim-ambassadeursprojek inskryf.

Die doel van dié projek is om boere te identifiseer wat volhoubare, omgewingsvriendelike boerderypraktyke op hul plase toepas en ook bereid is om hul kennis met ander veeprodusente, wat dieselfde ingesteldheid het, te deel en touwys te maak.

Om in te skryf moes deelnemers ʼn vraelys invul oor ses fokuspunte: Veldbestuur, kuddebestuur, die bestuur van kaal grond, erosie en bosindringing, droogtebestuur, finansiële bestuur en kennis oor klimaatsverandering. Die vraelys is na afloop van verlede jaar se projek hersien en bykomende vrae is bygevoeg om nog meer klem op weidingstelsels en veldbestuur te plaas.

Nege boere het vir vanjaar se kompetisie ingeskryf. Hulle is Zippo Lamprecht, Casper Slabbert, Brendan Kingwill, Joe van Wyk, Pierre Thirion, Piet Roux, Lochner Eksteen, Gerrit van Zyl en Matthys Grobler. Uit dié nege boere is drie finaliste, Piet Roux, ʼn Noord-Kaapse boer in die Prieska-omgewing, Matthys Grobler, ʼn saaiboer met ʼn ondersteunende veekomponent, en Gerrit van Zyl, ʼn bekroonde veeboer en bekende in Bonsmara-kringe, aangewys.

Talle kilometers is afgelê en deurtastende gesprekke is deur dr. Louis du Pisani, ʼn kundige op die gebied van veldweiding, lewende hawe en boerdery-ekonomie, asook Izak Hofmeyr en Koos du Pisanie van Plaas Media, met die finaliste gevoer. Nadat die uiteindelike punte deur Du Pisani en lede van die Plaas Media-redaksie geverifieer is, is Piet Roux as die wenner aangewys.

 

Piet Roux se vee op sy plaas Biega by Prieska. (Foto: Youtube)

 

Roux boer op die plaas Biega in die Prieska-omgewing en is ʼn bekende in landboukringe. Volgens die projekspan het sy kennis van sy veld en veral sy droogtestrategieë ʼn blywende indruk gelaat en is dit vir seker kennis waarby ander produsente kan baat vind.

Verlede jaar is James Faber, wat by Barkley-Wes boer, as die klimaatslim-ambassadeur aangewys.

Die borge wat vanjaar se projek moontlik gemaak het, is Zoetis, Nedbank en Elanco.

ʼn Boeredag en veldbesoek sal later vanjaar op Roux se plaas aangebied word waar hyself, asook ander kenners oor klimaatslim-boerderypraktyke sal gesels. Du Pisani sal onder andere ook ʼn oorsig gee van die inskrywings en vanjaar se finaliste.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.