Pukke draai die driedrukkrane oop

Die NWU-Puk is onoorwonne ná die wedstryde in die Varsitybekerreeks. (Foto: X/Varsity Cup)

Die NWU-Pukke en die Universiteit van die Witwatersrand is die enigste onoorwonne rugbyspanne ná die tweede ronde in die jongste weergawe van die Varsitybeker-reeks.

Die Potchefstroomse studente, wat verlede jaar met die Ikeys in die eindstryd afgereken het, het nou vir die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) geklop.

Pukke bult driedrukspiere teen UWK

Die NWU-Pukke het ʼn rits drieë op die Fanie du Toit-sportveld in Potchefstroom gedruk om die UWK met 49 – 15 te oorrompel.

Keano Windvogel en Shaun-Christian Baxter het elk twee drieë gedruk, terwyl Zinedine Robinson in die kol met vyf doelskoppe was.

  • Puntemakers:

NWU-Pukke: Drieë: Keano Windvogel (2), Shaun-Christian Baxter (2), Calvin Clack, Ntobeko Shezi en Marvelous Mashimyi. Doelskoppe: Zinedine Robinson (5) en Charles Williams.

UWK: Drieë: Emile Silvis, Carel van der Merwe en Ruben Swanepoel.

Wits wen ná terugvegpoging in tweede helfte

Wits het nie vir ʼn rustydagterstand van 14 – 8 teen die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (CUT Ixias) geskrik nie en hulle het goed in die tweede helfte teruggeveg om die wedstryd met 34 – 17 in Johannesburg te beklink.

Die tuisspan het ná rustyd die krane oopgedraai om vier drieë te druk.

  • Puntemakers:

Wits: Drieë: Cal Smid, Kabelo Mokheti, Marno Grobbelaar, Kivon Chirwa en Setshaba Moekona. Doelskoppe: Mokoena (3). Strafskop: Mokoena.

Ixias: Drie: Zachery Bester. Strafskoppe: Juan Smith (4).

Shimlas wen in ʼn nat Johannesburg

Swaar reën het weliswaar ʼn invloed op die wedstryd gehad, maar die Shimlas het nogtans genoeg gedoen om die Universiteit van Johannesburg met 34 – 31 te klop.

Die besoekende Bloemfonteiners het kop gehou in ʼn wipplankwedstryd en Siyambuka Ningiza en Siviwe Zondani se drieë in die tweede helfte het gesorg dat hulle die knoop kon deurhak.

  • Puntemakers:

Shimlas: Drieë: Michael Annies, Pierre Uys, Frank dos Reis, Siyambuka Ningiza en Siviwe Zondani. Doelskoppe: Ethan Wentzel (2).

UJ: Drieë: Prince Nkabinde (2), Marius Coetzee, Likhona Finca en Benjamin Moya. Doelskoppe: Rowen Malgas (2).

Maties wen in wind en weer

Maties se sterk pak voorspelers het die grondslag vir hul oorwinning van 15 – 10 teen Ikeys in ʼn winderige Kaapstad gelê.

Die Stellenbosch-studente, wat ʼn rustydvoorsprong van 10 – 0 geniet het, het die tuisspan doodeenvoudig weg van hul doellyn gehou om die Kaapse derby te wen.

  • Puntemakers:

Maties: Drieë: Matthew Emile van Schalkwyk en Vernon Matongo. Doelskop: Juan Mostert. Strafskop: Mostert.

Ikeys: Drie: Jonathon Roche. Doelskop: Ntokozo Makhaza. Strafskop: Makhaza.

  • Punteleer:
  1. Wits: 10 punte
  2. NWU-Pukke: 9 punte
  3. Shimlas: 7 punte
  4. Ikeys: 5 punte
  5. Maties: 4 punte
  6. Ixias: 4 punte
  7. UJ: 3 punte
  8. UWK: geen punte nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.