Staatsrede 2014: “Sukses is die teelaarde vir ʼn groter verwagting”

President Jacob Zuma tydens die staatsrede vir 2014. Foto: SA Government News, Facebook

President Jacob Zuma tydens die staatsrede vir 2014. Foto: SA Government News, Facebook

Pres. Jacob Zuma het Donderdagaand in die parlement in Kaapstad sy staatsrede vir 2014 gelewer.

Klik hier om die volledige toespraak te lees.

Zuma het verwys na die Nasionale Beplanningskommissie wat die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) op die been gebring het. Zuma sê die NOP is die land se sosio-ekonomiese bloudruk en een van die grootste prestasies. “Hierdie plan bied ʼn raamwerk om armoede uit te roei, werksgeleenthede te vermeerder en ongelykheid teen 2030 te verminder,” het Zuma gesê.

Zuma sê die regering fokus op vyf prioriteite, naamlik opvoeding, gesondheid, die stryd teen misdaad en korrupsie, plattelandse ontwikkeling en grondhervorming en om behoorlike werkskepping te vestig.

Werkloosheid

“Daar is nou 15 miljoen mense in die land wat werk het; dit is die hoogste aantal ooit. Meer as 650 000 poste is verlede jaar geskep, volgens StatsSA.” Zuma sê dit is nog nie goed genoeg nie. “Die werkloosheidsyfer bly hoog en werkloosheid onder die jeug is kommerwekkend.”

Verswakking van die rand

Zuma sê ontwikkelings in die Amerikaanse ekonomie het tot ʼn depresiasie gelei in opkomende markte se geldeenheid, insluitend die rand. “Tydens 2013 het die rand met 17.6% teenoor die Amerikaanse dollar verswak,” het Zuma gesê.

Mynbedryf

Hy sê die adjunkpresident fasiliteer steeds gesprekke tussen die regering, mynmaatskappye en arbeid. “Die doel is om seker te maak dat arbeidsverhoudinge stabiliseer. Daar was minder en korter stakings in dié belangrike sektor verlede jaar. Die prosesse vind ook binne wetgewing plaas,” het Zuma bygevoeg.

Zuma sê die regering moes ingryp in die mynbedryf, aangesien dit een van die sektore is wat die meeste werk skep. “Meer as 500 000 mense werk in die mynbedryf en die bedryf dra ongeveer R20 miljard by tot belastinginkomste.”

Vervoer

“Meer as 100 000 mense maak gebruik van die Rea Vaya-stelsel in Johannesburg. Soortgelyke stelsels word in Kaapstad, Tshwane, Nelson Mandela-baai, Buffalo City, eThekwini en Rustenburg gebou.”

“Ons het ʼn 700 km-petrolpyplyn van Durban na Gauteng opgerig om jaarliks meer as 4 miljard kubieke liter petrol, diesel en vliegtuigbrandstof te vervoer.”

Nagenoeg 1 500 km nuwe paaie is gebou.

Die Gautrain-projek is nou ten volle in werking en meer as 1.2 miljoen passasiers maak maandeliks van dié stelsel gebruik.

“Meer as R120 miljard sal oor die volgende 10 jaar aangewend word om nuwe treine te koop.”

Water

“Twee groot nuwe damme is gebou, naamlik De Hoop in Limpopo en Spring Grove in KwaZulu-Natal. Fase 2 van die Lesotho Hooglandwaterprojek sal binnekort bekend gestel word.”

Telekommunikasie

“Rykdom word geskep deur die internet en telekommunikasie. ʼn Vesel-optiese kabel van meer as 37 000 km is oor die afgelope vyf jaar deur die privaatsektor en staat gelê. Dit sal noemenswaardig uitgebrei word oor die volgende paar jaar.”

Wetenskap en tegnologie

“Ons is trots oor ons suksesse in wetenskap en tegnologie. Die oprigting van 64 skottelantennas van die MeerKAT-teleskoop, ’n voorloper tot die Square Kilometre Array (SKA)-radioteleskoop, sal binne die eerste kwartaal van 2014 afgehandel word.”

Landbou

Landbou is ʼn sleutel werkgewer en bied geleenthede vir entrepreneurskap. “Ons landbouondersteuningsprogram, Fetsa Tlala, lewer splinternuwe uitvoerders op.” Zuma sê die eerste 88 kleinhoewe-boere in hierdie program het 268 ton mielies en boontjies aan die Verenigde Nasies se Wêreldkosprogram verskaf wat verlede maand aan Lesotho gestuur is.

“Ons het goeie vordering gemaak in die grondhervormingsprogram. Nagenoeg 5 000 plase, wat 4.2 miljoen hektaar beslaan, is sedert 1994 aan swart mense oorgedra, en meer as 200 000 families het hierby gebaat. Nagenoeg 80 000 grondeise, wat 3.4 miljoen hektaar beslaan, is geskik en 1.8 miljoen mense het hieruit voordeel getrek.”

Onderwys

Zuma sê onderwys is die leer wat miljoene mense kan gebruik om uit armoede te ontsnap. “Ons is dankbaar dat daar ʼn groot toename is in skoolinskrywings, van voorskool tot ʼn tersiêre vlak.”

Twee nuwe universiteite, naamlik Sol Plaatje in die Noord-Kaap en die Universiteit van Mpumalanga word opgerig.

“12 nuwe FET-kolleges is in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap gebou.”

Gesondheid

Meer as 300 nuwe gesondheidsfasiliteite, insluitend 160 nuwe klinieke, is oor die afgelope vyf jaar gebou.

Tien nuwe hospitale is gebou of opgeknap in Ladybrand, Germiston, Mamelodi, Natalspruit, eThekwini, Zola, Bojanala, Vryburg-distrik, Swartruggens, Khayelitsha, Mitchell’s Plain en Upington.

Meer as 20 miljoen Suid-Afrikaners het sedert 2011 hulself vir MIV laat toets. “Lewensverwagting styg en Suid-Afrikaners leef langer.”

Misdaad

Die algehele misdaadkoers het sedert 2002 met 21% gedaal en werk word gedoen om gemeenskappe veiliger te maak.

Een van die sleutelgebiede is om geweld teen vroue en kinders uit te wis. “Ons het ʼn aantal maatreëls in plek gestel om op dié uitdaging te reageer.”

Renosters

“Ons land bly een van die teikens van renosterstropers. Ons het ooreenkomste met China, Viëtnam, Kenia, Mosambiek en ander SAOG-lande aangegaan om dié misdaad te bestry.”

Korrupsie

Sedert die aanvang van die nasionale teenkorrupsie-inbelsentrum deur die Staatsdienskommissie, is meer as 13 000 aanklagte van korrupsie en wanadministrasie na staatsdepartemente verwys om dit te ondersoek en te hanteer.

“Meer as R320 miljoen is van oortreders verhaal danksy die teenkorrupsie-inbelsentrum.”

* 1 542 beamptes is uit die staatsdiens afgedank
* 140 beamptes is met drie maande se salaris beboet
* 20 beamptes is gedemoveer
* 355 beamptes het finale skriftelike waarskuwings ontvang
* 204 beamptes is vervolg

Stakings

“Daar was weer gewelddadige betogings die afgelope paar weke in die land. Dit is kommerwekkend dat dit wil voorkom of die geweld met voorbedagte rade plaasvind, aangesien petrolbomme en ander wapens tydens betogings gebruik word,” het Zuma gesê. “Die demokratiese regering ondersteun die burgers se reg om hulself uit te druk. Die reg om vreedsaam en ongewapen te betoog is in die Grondwet vervat, maar wanneer hierdie betogings lewens bedreig en eiendom en waardevolle infrastruktuur beskadig, ondermyn dit die einste demokrasie wat hierdie reg moet verseker.”

Zuma sê die grootste rede vir betogings in Suid-Afrika word toegeskryf aan die regering se mislukkings. “Dit is egter nie eenvoudig die gevolg van “mislukkings” van die regering nie, maar ook die suksesse om basiese dienste te lewer. Wanneer 95% van huishoudings toegang het tot water, dan gaan die 5% wat nog wag vir water, voel hulle kan nie ʼn oomblik langer wag nie. Sukses is die teelaarde vir ʼn groter verwagting.”

“Die verlies aan lewens deur die polisie kan ook nie ontsien of goedgekeur word nie. Ons moet weet wat gebeur het en hoe dit gebeur het. Korrektiewe stappe moet gedoen word. Ons is egter besorg dat nagenoeg 800 polisiebeamptes tussen 2005 en 2013 gesterf het.”

Zuma sê polisiebeamptes is die beskermers en die buffer tussen ʼn demokratiese samelewing en anargie. “Soos wat ons die polisie aanspreeklik hou, moet ons seker maak dat ons hulle nie ontwettig en anargie in ons samelewing verheerlik nie.”

“Ons het ʼn kollektiewe verantwoordelikheid om ʼn samelewing te bou wat die wet respekteer, mekaar respekteer en wat lewe en eiendom respekteer.”

Kultuurskatte

ʼn Aantal nuwe museums en monumente is opgerig, insluitend die standbeeld van voormalige president Nelson Mandela, wat ʼn landmerk by die Uniegebou geword het. “Meer as 2 000 geografiese name is verander om die wanbenaming van plekke te herstel en gemeenskappe die reg te bied om self die name van hul gebiede te kies.”

Suid-Afrikaners wêreldwyd

Zuma het landsgenote erken wat wêreldwyd hul stempel afdruk. Hy het die musiekgroep Ladysmith Black Mambazo gelukgewens met hul vierde Grammy-toekenning. Hy het ook erkenning gegee aan Yvonne Chaka Chaka as welwillendheidsambassadeur van die Verenigde Nasies se kinderfonds vir malaria in Afrika, en die Oscar-bekroonde aktrise Charlize Theron. Theron is ook die VN se Boodskapper vir Vrede en doen baanbrekerswerk onder die jeug en jong vroue in die stryd teen MIV/Vigs.

Staatsrede

“Ons het in hierdie staatsrede ʼn verslag gegee van die afgelope vyf jaar spesifiek en die afgelope 20 jaar in die algemeen. Dit is nie die geleentheid om die aksieprogram vir hierdie finansiële jaar voor te lê nie. Daardie program sal deur die nuwe regering na die verkiesing voorgehou word.”

Afsluiting

“As ʼn land het ons talle suksesse behaal. Suid-Afrika is nou ʼn baie beter plek om in te woon as voor 1994. Ons staar steeds talle uitdagings in die gesig, maar ons lewens sal ook al hoe meer verbeter.
Nkosi Sikelel’ i Africa
God seën Afrika.”

Klik hier om die volledige toespraak te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Slim Daan ·

Nee kyk.
Vir eens is ek seker Mac Maharaj se bek hang oop as hy sien hoe n storie eintlik ” ge-spin ” moet word !
Dienslewering protes-aksies word aan die hand van n ” oor-presterende ” SA toegeskryf. Nou toe nou. ( En die ” curlers ” in my ma se kop is natuurlik donkie bolle……moet ek glo ? )

Demokraat ·

Wanneer op die samehang van Zuma se toespraak gelet word, besef mens maar te duidelik hoe vêr verwyder Zuma van die werklikheid af is.

Hy en sy regering sal baie vinnig moet wakker skrik as hulle nie wil sien hoe Suid-Afrika heeltemal in vlamme opgaan nie.

Hoop maar van harte Zuma en Kie word wakker met die Mei-verkiesing en besef hoe hulle die land gebluf het met mooi-praatjies.

Eben ·

Ek kan nie glo dan een mense, sonder enige geleerdheid soveel nonsens kan uitdink en glo steeds ons moet dit glo. Paaie gebou …. Waar? Wanneer …. en die toestand van die huidige paaie? Die gesondheids …. die staats hospitale val uitmekaar, julle my nie glo kom kuier in Nelspruit en kyk wat gaan aan by Rob Ferreira hospitaal. Neeee zumie jy het geen benul waarvan jy gepraat het, geen wonder jy lees alles af. Hoekom bly jy stil oor zumaville. Dis nou n hooi van korrupsie bymekaar … dus gaan jy jouself beveg teen korrupsie? gie gie jy is lagwekkend!

meisie ·

zuma vertel dat SA nou meer as ooit, `n beter plek is om te bly. Sekerlik net vir himself en beslis nie vir die gewone burgers nie, my liewe land , tot sy eie mense begin agterkom wat in ons land aan die gang is!!!!! Op watter planeet bly hy??

Monica ·

Ek wil ook na die Suid-Afrika toe gaan, wat Zuma beskryf, maar kan iemand my asseblief die pad daarnatoe beduie?! Dit is definitief nie die Suid-Afrika waarin ons woon nie. Statistieke is net so korrup soos die regering. Zuma lewe in ‘n droomland,

janene ·

Poste het die 18de Oktober 2013 by Provinsiaale Hospitaal in UITENHAGE al gesluit hulle bly se hulle is besig met shortlist maar jo man kan mos nie 5 maande vat nie kan iemand help asseblief baie treurige personeel daai daar kort cleaners en portiere maar hulle vat net cleaners aan ai ai

janene ·

Nou ek het al 3 goedere geplaas van Provinsiaale Hospitaal op Uitenhage nou waneer kry n mens trugvoering of is dit weereens n dood loop straat want iemand sal moet kyk wat daar aan gaan hulle het ook niks wit skoonmakers nie net swart geen nie om oor rasse nie maar jo gee n witte ook n beurt om n skoonmaker te word want daar is nie doen my n guns en gaan kyk self wil sien of ek na 11 jaar n skoonmaker pos daar gaan kry want dis my werk wat ek jare al lank soek daar maar nou ja. Sal julle my trugvoering gee of wat wil graag he iemand moet dit doen wil weet sal daar plan gemaak word. Ek is n aleen ouer ook sukkel ook maar wat my so kwaad maak is dat hulle nie wittes skoonmakers aan vat nie dis n skande

Herman ·

Kan iemand asb uitvind wat hy rook, want ek wil ook dit gebruik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.