Standbeelde: Een grootte pas almal-benadering gaan nie werk nie

Die Paul Kruger-standbeeld in Kerkplein (Foto: Verskaf)

Die Demokratiese Alliansie het sy versoek benadruk dat die finale verslag van die taakspan, wat aangestel is om openbare sentiment oor standbeelde, simbole en monumente te bepaal, bekend gemaak moet word.

Veronica van Dyk, DA-LP, het gesê die party is nie gekant teen ʼn oudit en dat sekere standbeelde geskuif moet word nie, maar dit is ʼn projek wat nie ligtelik gedoen kan word en sonder omvattende openbare konsultasie aangepak kan word nie.

“Elke standbeeld en monument moet individueel hanteer word. Daar is nie ʼn ‘een grootte pas almal’-benadering wat gevolg kan word nie,” het Van Dyk Vrydag in ʼn verklaring gesê. “Besluite van dié aard moet die siening van die gemeenskap in berekening bring waar die betrokke standbeeld of monument opgerig is, insluitend alternatiewe oplossings teen absolute verwydering daarvan – dit kan moontlik insluit dat ʼn gedenkplaat aangebring word om historiese konteks daaraan te verskaf of meer inligting oor ʼn standbeeld of monument; of om toe te laat dat die standbeeld na ʼn museum of privaat eiendom verskuif moet word.”

Van Dyk het gesê die DA ondersteun beslis nie die skuif van standbeelde na sogenaamde “temaparke” of “erfenisparke vir kulturele nasiebou” nie, omdat dit die weg baan vir ʼn enkele regergingsbeheerde narratief van Suid-Afrika se geskiedenis. “Ons land se geskiedenis lê in ons stories. Ons stories is nie die eiendom van enige regering nie.”

Sy sê die proses moet in sy geheel deursigtig wees. “Verskeie meningstukke wat die afgelope paar weke oor die onderwerp verskyn het, het dit duidelik gemaak dat dit ʼn sensitiewe kwessie is vir al die verskillende kulture wat Suid-Afrika hul huis noem. Die regering se stomp ‘een grootte pas almal’-benadering kan nie die antwoord wees op hierdie probleem nie.”

Die DA sê dit blyk daar was tot dusver sekere onreëlmatighede in die proses. “Die DA het die taakspan en Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, versoek om voor die betrokke parlementêre portefeuljekomitee te verskyn om vrae te beantwoord oor die proses wat tot dusver gevolg is en die planne wat beraam word.”

Sy het gesê die geskiedenis van Suid-Afrika, so tragies en gewelddadig as wat dit is, kan nie gesaniteer word nie. “Dit moet in die gesig gestaar word en ons moet daaruit leer, sodat dieselfde foute nie weer begaan word nie. Die DA het ʼn visie vir Suid-Afrika wat inklusief is en waar ons openlik kan praat oor ons verlede en sodat ons saam kan werk om ʼn toekoms te skep waaraan almal kan deelneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Persheks Adri ·

Julle krap nou waar dit nie jeuk nie! Ons boere is nou al mooi dik vir julle. Pasop julle het ons 1 keer ondermyn ons is nie bang nie

#Tsek ANC tsek man

Sarel ·

Dan moet hulle ” Wall of Shame ” waar al die Korruptes
Se name verskyn

Gerrie ·

Interessant dat hulle die naam van Shaka, die grootste massamoordenaar van swart mense in die geskiedenis van SA so verheerlik.

Corne123 ·

Haal dan mandela sin ook af! haal als af laat daar niks in land oorbly nie.

Nico ·

Hoe gaan die minister van sport en kultuur die Voortrekker Monument skyf? hy wil mos alles skyf, skyf ook Mandel se standbeelde, ag man, haal alles af dan is daar mos nie erfenis beelde nie,

Pampoen ·

Ek dink nie Oom Paul wil meer daar op kerkplein staan nie. Dit lyk sleg daar en mens voel nie meer veilig daar nie. Gee maar al ons standbeelde vir Afriforum en dan vind ons ‘n gepaste plek waar ons hulle kan sit.

annie ·

Die spul is bloot navolgers van Afro-Amerikaners wat volgens geskiedenisgeskrifte, soos nou na Europa plaasvind, in hul duisende op bote gespring het na groener weivelde… maar dan skielik ‘n ander storie spin en alles wil afbreek omdat hul droompaleise nie realiseer sonder selfwerksaamheid nie.

My siening ·

Onderdrukking en apartheid seëvier in SA teen oor wit mense.

Kokerboom ·

Ek sê weer: ‘n land wat nie ‘n geskiedenis het, het nie ‘n toekoms! Hoekom dink jy lyk Afrika soos hy lyK/!!! Die woorde toekoms en onderhoud bestaan NIE in Afrika se verwysingsraamwerk.
Ons MOET dus nou ons eie toekoms beplan en van die grond af kry!!

Sydwes ·

Sekerlik kan hierdie verigtinge na die Pandemie plaasvind. Hoekom in n tyd van nood moet dit op die regering se prioriteits lys wees.

JohanR ·

Nee hierdie is maar weer net ANC smoke and mirrors. Sodra slegte aandag te veel op hulle gevestig is, dan gooi hulle nou hierdie storie die wereld in om aandag af te trek…….smoke and mirrors. Die ANC dink moes die hele SA is dom behalwe hulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.