Tolprojek-geheimhoudingsaansoek afgekeur

Grafika: Sanral

Grafika: Sanral

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Donderdag aansoeke, om sekere hofdokumente oor die N1- en N2-Wynland-tolprojek geheim te hou, van die hand gewys.

Regter Ashley Binns-Ward het egter gelas dat sekere inligting wel teruggehou moet word totdat die hof begin het met sy hersiening van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se besluit om die paaie te tol. Die hersieningsdatum is nog nie geskeduleer nie.

Sanral en sy voorkeurbieër, Protea Parkway Consortium (PPC), het aansoek gedoen om die stad Kaapstad te verhoed om sy dokumente by die publieke hof in te dien. Binns-Ward het egter gesê die stad kan die hofdokumente soos normaal indien, maar niemand mag die dokumente of enige verklaring ontbloot of publiseer voor die hersiening plaasgevind het nie.

Die Demokratiese Alliansie en Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het die uitspraak verwelkom.

Sanral het nou sewe werksdae om aansoek te doen om verlof tot appèl teen die uitspraak.

Sanral het die inhoud van die projek glo in twee kategorieë gepubliseer. Die eerste kategorie behels die voorgestelde koste van die projek en Sanral voer aan dit sal tot “onregmatige en onnodige kommer” lei onder die publiek indien die kostes voortydig bekend gemaak word. Die tweede kategorie behels die stigtingsdokumente wat met die tenderproses verband hou. Hierdie dokumente bevat kommersiële inligting oor die bieërs, die skuldfinansieringskompetisie en Sanral se evaluering oor die aanbiedinge.

ʼn Interim interdik is verlede jaar in Mei aan die stad toegestaan om die voorgestelde projek op te skort. Ongeveer 180 km van snelweë in die provinsie sal getol word indien die projek voortgaan.

Lees ook:
Uitspraak voorbehou in Sanral-geheimhoudingsaak

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paplepel ·

Ons moet juis weet wie bie vir hierdie kontrakte. Hoe anders gaan ons weet wie by die volgende bedrog spektakel betrokke is? Dit maak dit makliker vir die kommissie van ondersoek wat aangestel gaan word. Ons moet darem weet of daardie tolgeld ook buiteland toe gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.