Luister: Liefde Wen-organisasie steun jong rugbyspelers


Bokke-Liefde-Wen

Die Springbokke in hul Liefde Wen truie. Foto: Facebook

Met die Wêreldbekerrugby-toernooi om die draai kry almal nou rugbykoors. Dit geld ewe veel vir die liefdadigheidsorganisasie Liefde Wen.

Die sanger, akteur en filmregisseur, Bouwer Bosch, het dié organisasie nege jaar gelede tydens sy universiteitsdae gestig en dit gaan van krag tot krag om ʼn verskil in mense se lewe te maak. “Almal kan liefde gee en ervaar, maak nie saak waarin jy glo nie,” het hy vertel. “Ek wou nog altyd die wêreld probeer verander.”

Hul jongste inisiatief, naamlik Groen en Goud, is van stapel gestuur om rugby onder jong spelers in die Transkei, en meer spesifiek Lusikisiki, te bevorder.

“Walton Krüger, wat vir Liefde Wen werk, is op ʼn sabbatsjaar daar saam met sy vrou en het toe begin om kinders daar in rugby af te rig. Ons wou saam met die gees van die Wêreldbekerrugby ʼn projek begin wat die spanne kan help ontwikkel,” het Bouwer verder gesê.

Die opbrengs uit die verkope van die Groen en Goud-reeks, wat bestaan uit onder meer klere, selfoonbybehore en juwele, word ten volle gebruik om truie en ander benodigdhede vir die vier informele laerskoolrugbyspanne aan te koop.

“Die projek verloop baie goed. Van die Springbokke het gevra vir die truie, so dit help ook baie om momentum te bou vir ons projek,” het hy gelag.

Gaan na www.liefdewen.co.za vir meer inligting en om die inisiatief te ondersteun.

Luister na die volle onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.