10 dinge waarvan jy gewaarborg is by elke troue

Foto ter illustrasie. (Foto: Mariah Krafft/Unsplash)

Troufotograaf van Pretoria skryf:

Na ʼn klompie jare as troufotograaf deel ek graag ʼn prettige, tong-in-die-kies-lysie van dinge wat, met min uitsondering, op elke troue gebeur vanuit my oogpunt agter die kamera.

  1. Geen man huil as die troumars speel nie. Geen. Die arme ou kry ʼn benoude uitdrukking op sy gesig as daardie orrel lostrek, so moenie ʼn dramatiese foto verwag waar hy trane van sy gesig afvee nie.
  2. Daar is altyd ʼn ou, besorgde tannie wat teen 21:00 se kant vir my sê: “Haai jinne sussie, jy is seker al gedaan” en dan wil weet of ek al geëet het en “hoe lank moet jy nou nog hier wees”.
  3. Ek praat altyd van “daai een ou” op die troue. Dis die strooijonker wat laat is, ʼn bietjie stadig is om instruksies te volg, gewoonlik die kroeg se grootste ondersteuner is en, met ʼn sleeptong, 22:00 (wanneer ek uitklok) sal vra: “Gaan jy nou nie met my eers dansssss nie?”
  4. Met enige heildronk wat ingestel word op die bruid (gewoonlik deur die hoofstrooimeisie) wil ek oombliklik haar vriendin wees. Kyk, daardie toesprake laat enigiemand mos maar klink soos die beste mens wat jy in jou lewe sal ontmoet. So ja, ek oorweeg dit dalk vir ʼn paar sekondes om jou te nooi vir ʼn braai na jou troue.
  5. Gepraat van heildronke, élke heildronk op die ouers bevat “ons ma is ʼn Spreuke-vrou, sy is meer werd as edelstene”. En pa word altyd bedank vir hoe hard hy gewerk het, of iets in daardie lyn.
  6. Jy kan maar weet, “Butterfly Kisses” en “I loved her first” is altyd op die speellys vir die pa- dogter-dans. En die wenner vir die gewildste instapliedjie in die kerk is “I get to love you”. As daardie treffer begin speel, het ek en die platejoggie gewoonlik ʼn “Ai, nog een”−
  7. Met hoofgereg, as ek gelukkig genoeg was om ʼn plek aan ʼn tafel te kry, sal daar altyd ʼn tipe van onderhoud afskop terwyl ek ʼn pampoenkoekie in my mond het. “So, hoe lank doen jy dit al? Hou jy daarvan? Sjoe, jy’t seker al die snaakste goed gesien. Is jy nie al moeg vir troues nie? Wie gaan jou troue afneem eendag?” Dan probeer ek met ʼn mond vol kos die persoon langs my antwoord want ek moet vinnig sluk, die seremoniemeester is al besig om aan te gaan met die program.
  8. Soos ek van “daai een ou” praat is daar “daai een oom” ook. Die een wat by my kom staan en nou eers wil weet: “Watse kamera het jy daar, sussie? O, Nikon? En met watse lense neem jy? Dink jy nie Canon is beter nie?” Ai tog oom, oom kan netsowel vra is Ford dan nie beter as Toyota nie.
  9. Daar is altyd die slim mamma of strooimeisie wat sal sê: “Dink jy nie dit sal mooi lyk as ons… (vul belaglike foto voorstel in)?” Nee dit sal nie, anders het ek self gesê ons moet so ʼn foto neem. So nee tannie, hulle gaan nie vir mekaar om die boom loer nie, dis nie 2001 nie.
  10. Aan die einde van die aand gaan groet ek die paartjie, verduidelik vir hulle dat hulle binnekort ʼn voorskou van hulle foto’s kan verwag en maak dan seker hulle verstaan die eindproduk sal 12 weke neem. Die bruid wat hierop reageer met: “Moenie bekommer nie, ons is nie haastig nie”, is ALTYD die bruid wat my na vier weke WhatsApp – “Hi, ek wil net hoor hoe ver is my foto’s.” Ai, pop…

 

  • Is jy Maroela Media se Herfsbruid? Jy kan in aanmerking kom vir ons Herfsbruid as jy tussen Maart 2022 en Mei 2022 trou. Inskrywings vir ons Herfsbruid sluit op 5 Junie 2022. Lees hier hoe jy vir die kompetisie kan inskryf.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maryna

Ag dit was nou ‘n lekker-lees :)

Nommer 7

Presies soos dit is. Ek het in my jong dae trouvideos gedoen. Niks het verander nie, net die musiek, Daardie tyd was dit altyd What is Love van Haddaway, en 2 Unlimited se No Limit. O ja, en die beste vir my was as die een famile ordentlike mense was wat gekom het vir die troue, en die ander famile skarminkels wat gekom het vir die verniet drank, en ek gesukkel het om hul voor die kamera weg te kry. Moes dan baie “editing” gedoen het.

VaalDonkie

Jy’t vergeet van daai tannie met die iPhone wat voor jou inspring om foto’s te neem

Hannelie

Ek het dit nou geniet hierdie hoor. Dit wys jou net die fotograwe het nooit ‘n “dull moment” nie.