Aan die boer, vergewe ons…

Foto: Bennie van Zyl (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Foto: Bennie van Zyl (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Nicole Viljoen

Ek is nie ʼn boer nie, ek en my man het ʼn hoewe buite Bloemfontein waar ons met lusern boer en ʼn paar skape het. Vandag was vir my ʼn sieldodende dag. Ons Damara-ram Oupa het vandag net gaan lê. Hy het goeie jare gehad en het vir ons baie dragtige ooie gegee. Ek moes hom in die koelte insleep want hy kon nie meer staan nie. Hy en ʼn ander ram het baie baklei en ek glo hy het skade aan sy skedel opgedoen. Met dit gesê: Hy was ook al oud.

Hy het nooit honger gely nie, daar is goed na hom omgesien en hy het nooit swaar tye geken nie. Ek het by hom gesit en huil, mooi met hom gepraat en dankie gesê. Ek het my man gebel en gereël dat ons werker hom uit sy ellende verlos.

Dit het my laat nadink. My hart bloei vir die boer wat sy haelgeweer moet laai en die besluit neem om sy beeste te skiet. Om in die kraal of land in te stap en jammer te sê vir sy Skepper dat hy dit nou moet doen – my hart bloei vir die boer. As ek só gevoel het oor een skaap waarna ek moes omsien, hoe hartverskeurend is dit nie vir ʼn boer wat sy beeste in die oë moet kyk en saggies vir hul jammer sê voordat hy die sneller trek nie? Hoe hartseer moet jy voel om in jou diere se oë te kyk en hul honger aan te voel?

My hart bloei vir die boer wat sy hande in die stof druk terwyl hy op sy knieë in sy land is en bid vir reën. My hart bloei vir die boer wat slapelose nagte het en wonder of hy en sy familie ʼn toekoms het. My hart bloei om te dink hoe moeilik dit is om huis toe te gaan en in jou vrou en kinders se oë te kyk. Dan talm jy dalk eerder maar nog ʼn paar minute op die land om jouself reg te ruk. My hart bloei vir die vroue van daardie boere wat hulpeloos bystaan en kyk hoe haar man deur hel gaan.

My hart bloei vir die werkers wat nie weet of hulle nog werk gaan hê nie.

My hart bloei vir die diere wat langs die drade afhardloop agter die boer se bakkie aan en smeek vir kos. Die hulpeloosheid wat ʼn boer moet voel terwyl hy sy leë hande optel en sê hy het niks nie. Hy hét nie kos nie. My hart bloei vir die boer soos hy trane stort en homself verwyt omdat hy nie kan voorsien nie. Die hulpeloosheid moet oorweldigend wees. Die verwyt moet ʼn donker skaduwee oor die boer gooi.

Ek kyk vanaand na my bord en besef dat alles wat op daardie bord is van ʼn boer af kom. Ek besef toe hoe ek nooit net gaan sit het en dankie gesê het vir ons boere nie. Ek het skaam gekry. Ek het gesukkel om te eet. Ek was oorval deur hartseer.

Boere, vergewe ons. Vergewe ons dat ons nooit besef het watter invloed julle eintlik op ons lewe het nie. Vergewe ons dat ons alles vanselfsprekend neem. Van vleis wat mooi verpak is tot groente wat vars en mooi gewas is. Mense besef nie as hulle ʼn produk in ʼn winkel optel hoeveel bloed en sweet in daardie kos ingegaan het nie.

Vergewe ons dat ons dink dat kos ʼn reg is. Dat kos altyd daar sal wees. Ons besef nie dat dit môre weg kan wees nie. Vergewe ons dat ons nie besef hoe goed julle vir ons is nie. Ek glo vas julle is die mense in hierdie land wat die minste vra maar die meeste nodig het. Julle maak nooit geraas as dit sleg gaan nie. Julle sak net neer op jul knieë en bid. Julle vertrou dat daar vir julle voorsien sal word.

Ek lees van boere wat in hul krale gaan sit en die sneller trek, wat die dood verkies bo die hartseer. “A captain never leaves his ship they say.” Ek kan my nie eens indink hoe desperaat en hartseer ʼn boer moet wees om dít te doen nie. Niemand wil gesien word as ʼn teleurstelling nie. Nie vir sy medemens, sy grond of sy diere nie. Dit maak my hart bitter swaar.

Vergewe ons dat ons net ons koppe skud en julle jammer kry, dat ons ʼn “post like” sonder om twee keer te dink en dan net aangaan met ons daaglikse lewe. ʼn “Like” op Facebook maak nie dat jou diere kos kry nie, ʼn “like” bring nie reën nie, ʼn “like” red nie lewens nie. Ons opinies verander nie jou realiteit nie.

Ek voel mense wat nie boere is nie, is te bang om eintlik te besef wat aangaan. Ons verkies om nie daaraan te dink nie. Ons gooi ʼn blinde oog. Ons verkies om te glo dat alles okei gaan wees. Vergewe ons.

Ek dink nie mense wil hartseer wees nie. Soos ek vandag gevoel het oor een dier kan ek my nie indink hoe ek sou voel oor ʼn kraal of ʼn land vol diere nie.

Vergewe ons dat ons nie jul desperaatheid kan voel nie. Ons weet nie wat dit is om ʼn vrag vol vee net te wil weggee omdat ons nie kos vir hulle het nie. Ons kla oor plante wat in ons tuine doodgaan en oor hoe onregverdig die lewe is. Ons verstaan nie hoe dit voel om in ʼn land te gaan staan in die stof, op te kyk na die hemel en te vra “hoekom”, terwyl die hartseer jou oorkom nie. Ons verstaan nie, vergewe ons. Ons verstaan nie die vertroue wat julle toepas nie. Ons kan soveel van julle leer.

Vergewe ons dat ons nie altyd kan help nie. Ons het julle en alles wat julle vir ons doen vanselfsprekend geneem. Boere moet mos dit doen. Dit is julle werk. Vergewe ons arrogansie.

Vergewe ons dat ons nie besef hoe groot die liefde is wat julle het vir die grond waarop julle boer nie. Die liefde, deursettingsvermoë en geloof wat dit vat om ʼn land te voed nie.
Ek sien op na elke boer, groot en klein. Ek wil julle laat weet dat julle in my gebede is. Ek wil julle laat weet dat julle die grondslag van die land is en dat sonder julle ons niks kan doen nie.

Hou moed, hulp is oppad. Hou moed, mense bid vir julle. Hulp is oppad! Hou moed, ons het julle nodig.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Rikku ·

Ons se Vader stuur asseblief reen vir hierdie Boere. Ek vra dit in Jesus naam, Amen.

Jacques Vermeulen ·

Pragtige waar woorde!!Ek ou sommer n knop in my keel!!

Delia ·

Die boere op plase en selfs die op kleinhoewes, is elke aand in my gebede……ek vra die Here vir hulle veligheid en bid ook vir reen. Sy tyd is nie ons tyd nie – ek glo wel uitkoms is naby.
Dankie dat jy my geleer het om ook dankie te se vir die bestaan van die boere. Mens aanvaar dinge soms net as vanselfsprekend!

hartseer en Skaam ·

Vrydag middag. Dis gewoonlik n lekker tyd van die week, en hier lees ek nou jou boodskap. JA ek is skaam, want soos jy se ons vegeet om dankie te se vir dit. EN ek kan nie die trane keer waar ek sit en dink dat jou woorde soveel waarheid dra dat dit nie net seermaak nie dit ook n “wake-up call” is.

Ons kan nie opgee op ons boere nie. GOD SAL VOORSIEN. Die dag sal kom wanneer die hemele sal oopbars en al die seer gaan kom wegwas.

Dorpenaar ·

WOW, so mooi gestel. My oë vol trane sommer en ‘n lekker knop in my keel. Vir elke boer, bly glo, bly bid. Ons het al ‘n paar keer bietjie reen gekry en ek bid uit my hart uit dat God vir julle ook van die reën moet stuur. Byt vas boere, elke boer in SA, byt vas. God sien julle seer, uitkoms sal daar wees. Sal harder bid vir julle. Geloof verrig wondere

Zanti ·

Ek woon nie in Suid-Afrika nie maar bid elke aand vir die boere en vir reën. Is daar nie n predikant wat voortou wil vat en n biddag vir reën wil reël nie. N dag wat ons almal by ons onderskeie gemeentes bymekaar kom en bid nie. Asseblief ek vra die predikante in SA baie mooi. Reël asb vir ons n dag.

MCS ·

Ek het self familie wat in die Noord Wes boer, mens vra nie eers meer hoe dit gaan! Die arme diere kry die swaarste! Hulle is bankrot gekoop aan voer en het nie meer geld om voer tekoop! Mense ons moet maar net bid vir uitkoms, ons weetnie hoe swaar boere kry ! Dan word hulle nog uitgemoor ook! Party stadskinders weetnie eers wat se bloedsweet en trane dit kos om wat op hul tafels is daar tekry nie! Hul koop dit mos vinnig in n winkel. Sterkte aan elke boer en dankie vir wat hul doen!’

Vlakte boerseun ·

Mense , mense , dit gaan rof….. . My hart het geskreeu met elke woord wat ek ek gelees het.Meer kan ek nie se nie , net bid en glo………….

SNEL ·

Baie sterkte aan elke liewe boer en sy gesin, ons bid vir julle….gereeld en onophoudelik, wat die Here se doel is met die droogte weet ons nie, maar ons moet vertrou dat Hy julle deur alles sal dra en uitkoms sal gee. Mag die Here julle versterk en krag gee deur die tyd en mag die reën spoedig kom uit die Vader se hand.

Leonora Taljaard ·

Ek sit hier en lees dit stukkie vir stukkie, ek huil so want ek weet how dit voel. My man is ook n Boer,al boer hy vir iemand. Die wolke pak maar reen is daar niks. Ek was alleen op vakansie want my man moes kyk wat hulle nog kon geplant kry. Soos ek teruggekom het, het angs my beetgepak want in die vrystaat le lande wat nie eers aangeraak is nie. Spog plase met stoet beeste lyk haaglik. Duskant bothaville lyk dit soos n woestyn niks gras, niks lande net rooi grond. Ek smeek elke dag die Heer vir reen tonne liters reen. Dit bitter sleg mense ons is in die moeilikheid

Leonie ·

Dankie aan die skryfster van hierdie stuk. Mevrou, jy het vandag my knieë soos die van ñ volstruis laat buig uit skaamte, omdat ék wat myself boeremeisie van die plaas wil noem, maar nog nooit gedink het soos jy nie. Ek het al gehuil oor my hands-lammers en -bokke wat in my arms dood is, maar as gevolg van brand of ñ wurm of iets, maar nooit van hongerte nie. Vanaand en môre oggend gaan ek NiE eet nie, ek gaan eerder daardie tyd afstaan om vir ñ boer, sy gesin en werknemers te bid. Ek gaan bid, nie vir reënt nie, maar vir krag. Krag dat hulle kan opstaan asook die Here se krag om El Niño aan te spreek. Om hom opdrag te gee om tot sy indringende en brekende einde te kom. Ek gaan bid vir diere op die lande wat nie bederf kan word soos my 3 honde-kinders nie… ek gaan bid, want elke Boer wie se moed breek, is ñ tamatie en ui op die winkelrak minder.

Dankie aan Boere. My eie Ooms en neefs ingesluit vir daardie lang ure waarvoor niemand jul ooit bedank nie; want sien, melk kom mos vir meeste mense in ñ boks of poeier vorm. Tamaties en wortels in pakkies. En Genade is ñ moet… want ons is mense en dink mos als is net ñ MOET.

Help ons dor wêreld Here. Skenk reën waar benodig en roep oorstromings om te stop. Amen.

Nicole Viljoen ·

Baie dankie vir die terugvoering. Die tyd het gekom om saam met ons boere te staan.

Tania Combrink ·

Ons bid vir ons vriende wat boer, vir kennisse en die ander boere oor die land! Een van die boervroue vertel vir my dis net stof, hulle het nie meer enige krediet om voer te koop nie en het ‘n groot stoet beeste! Ek kan net luister en dink: het ons land van God vergeet toe dit goed gegaan het? Here Jesus vergewe ons! Ons roep uit na U soos Dawid het in sy tye van benoudheid! Ons weet U hou Suid-Afrika steeds vas! Staan ons boere en gesinne by in hul hartseer en bewaar hulle harte. Maak asb die sluise van die hemel oop en gee aan ons reën! Water op ons dorre aarde en red on diere en aanplantings. Ons verklaar ons afhanklikheid aan U hemelse Vader. Amen

Hennelie Rust ·

Here, wees ons arme sondaars genadig, Here ons smeek U seëning af, vir mens en dier en veld. Ons lê U skepping, aan U voete neer. U sal dit mos nie tot niet laat gaan nie !! Die Here het ons gebring tot hier…… as Sy knegte om toe te sien en om te sien!! Hy sal die hemele oopmaak, Hy SAL. Ons vadere is gevoed tot hier,en Hy sal dit doen vir ons en die nageslagte………HOU MOED. Ons sal vertoeë rig dat latere hulp (dalk te laat) kan help om die boere te kan laat voortgaan (deur vergoeding en langtermyn hulp teen geen rente……. die banke gee die geld en die regering betaal die rente.) Die banke moet ook groot gee,as hulle sport byeenkomste ens. kan borg……….Hierdie is nie SPORTS nie en ek eis DIT namens almal in die land , wat moet eet, elke mens en die diere. Dankie aan ons hero’s wat so vreeslik hard gewerk, geploeg en geplant het,jul plig meer as nagekom het om die mense te probeer voed. (Die grond het later te droog geword om verder te plant en van die plante het dood geskroei in die son.Ons almal bid totdat die reën kom. DIE REGERING MOET NOU EERS HELP……………………..en later eet……………….want die wa is nou voor die perde,en nog al die tye verkeerd ingespan.

Elize ·

Mense, maak asseblief n finansiele bydrae aan Boere in Nood. Alhoewel gebede broodnodig is benodig die boere nou geld om voer vir hul diere te koop en te vervoer. Al reen dit nou so dat almal verspoel is daar steeds nie nou voer nie.

Cindy ·

Sit nou in skaamte hier en huil. God ek vra dat U genadig sal wees teenoor ons boere. Ons vra vir reen Here en vir hulp vir hulle diere.

Ek se dankie aan elke boer en sy gesin wat vir ons voorsien. Julle staan vroeg op elke dag gaan slaap laat, le wakker en is bekommered en ons gaan aan elke dag en verwag Alles moet wees soos gister.

Ek vra onverskoning. Hou julle in ons gebere.

Ronel ·

Miskien wil God he ONS moet iets doen om die boere te help bo en behalwe bid. Miskien moet ons ook by vra in ons gebede:’ Here gebruik my om te help waar dit moontlik is.’ Daar is mense wat omgaan en water insamel vir die boere. Hoekom skenk ons nie almal iets nie? Die Here sal reen stuur, maar ons weet nie waneer nie. So intussen hoekom help ons nie ons mede mens nie? Dit help nie ons sit en kry die boere net jammer nie. Kom ons spring in en wys hulle hoe dankbaar ons vir hulle harde werk is.

Magda ·

Dis nou net na 6 in die oggend ek sit in ons pragtige tuin met voel sang om my. Pragtig verby. Ek sukkel om die trane nou te keer, jou woorde is vreeslik roerend en waar. Ons Hemelse Vader sal voorsien, ons moet met aanhou glo, bid en dankie se

Johan Fourie ·

Pragtig ge se dankie net gister reen ge kry in secunda,ek staan en blaas na die wolke vrou vrae wat maak jy ek se ek proebeer die reen blaas na die boere toe wat dit brood nodig het,ons almal dink aan julle .

Jenny ·

Tyd om by mekaar te kom is deesdae n groot faktor in ons wereld. Kom ons verspei eerder die woord dat almal waar hulle ookal more is 10 die oggend n gebed sal opstuur na ons Vader vir vergifnis van ons sondes en dat hy die sluise van die hemel vir ons boere reg oor die land sal oopmaak.

Fia Steyn ·

Ja, dink ek terug aan n jaar as n klein dogtertjie hoe my pa en ma tot voelnessie in bome afgetrek het om kos te kon kry vir die vee hoe ons kinders gehelp het om water in hulle bekke te gooi . Hoe my pa pale in die grond geplant het en streepsakke daarvan vas gemaak sodat die bees of skaap net bietjie op hulle bene te laat staan . Hoe my ouers die dier gesoen het en gese het probeer net dit sal beter gaan . Ons moet net op ons kniee bly dis net die HERE wat uitkoms kan gee . So gaan my hart uit na elke boer wat onder hierdie droogte gebuk gaan. Ek bid vir julle boere .

Jurie Kotze ·

Nicole, ek is ook ‘n gebore Bosvelder alhoewel ek nie self boer nie is my familie boere . Baie diepsinnige artikel en wil sommer saamtjank en Bid en Bid vir ons boere ! Ek het dit ‘n paar keer beleef as kind en het swaar gelees daaraan sonder om te sluk !! Pragtige artikel !

Gesiggie ·

Mooier woorde as dit kon jy nie beter gekies het nie…. Jou verhaal vertel n baie waar storie… en ruk aan n mens se hart met die besef, dat ons boere hul hande moet af werk, hul als moet opoffer, hul hartseer moet wegsteek…. en met n trotse bors elke dag moet probeer maak…. Maar as n mens kyk na Faith Like a Patato dan moet ons aanhou Glo en Vertrou en weet daar sal n wonderwerk gebeur…. Sterkte aan elke Boer.

Sunet ·

Dit is so waar. Ons dink nie verder aan waar alles vandaan kom nie. Ons sal aanhou bid. Ons dien ‘n wonderlike God wat sal voorsien. Op die regte tyd! Hou vas aan Hom. Hou moed. Bly glo en vertrou!

Louis Slabbert ·

Ek is self n boer en sit met trane in my oe en wil net baie dankie se dat daar mense is soos julle wat aan ons boere dink en vir ons bid. Ek wil net se ons moet ons oe rig op ons God en Vader en mekaar ondersteun en vergeet van die regering hulle is nie ons uitkoms !!

Lallie ·

Ek bid saam dat julle binnekort reen kry. Die Here sal voorsien.

Ludwig Visser ·

Wonderlik gestel. Dit roer ‘n mens tot trane. Dis net jammer dat dit nie wyer sommer deur die hele land deur álmal gelees kan word nie! Vroutjie, ek belowe jou, daar geen dag verby dat ek en my vrou in ons stiltetyd soggens nie vir julle en alle ander boere en droogtelydendes bid nie. Ek glo die Vader sal voorsien.

Glonie Intwaknie ·

Sal dit regtig nie reen as mense nie bid daarvoor nie ? Kan my nie indink dat dit so sal wees nie of gaan dit maar in elke geval weer reen en dan sal gelowige mense dit toeskryf aan die feit dat hulle gebid het daarvoor…

Rooijan ·

Jy lees die verkeerde koerant leef in die verkeerde gemeenskap en moet sommer net stil raak. Daar is n wese groter as jy en die tyd sal kom dat jy in verwondering en vrees op jou knieë om vergifnis sal smeek. Intussen hou jou opinie vir jouself.

Annwen ·

Keer na God onvoorwaardelik en verlossing Sal kom, op ons knee moet ons wees 24/7. Mag God jule seen.

Ina Bushby ·

Dis hartroerend mooi gestel en my hart gaan weereens uit na elke boer in hierdie land, maar vandag wil ek vra dat ons ook sal bid vir hul gesinne, vir hul vroue en kinders wat vir Pa moet bemoedig, terwyl die vrees en swaarkry ook in hul eie harte ‘n weerklank vind. Hulle wat moet toekyk hoe hul man en Pa die steunpilaar van die gesin, ronddwaal omdat hy mageloos is om sy oes en vee te onderhou. Hoe hy voor hul oe ouer en krommer word soos die las swaarder word en hulle magteloos moet toekyk. Ook vir elke arbeider wat sy loon werd is. Hemelse Vader, dra asseblief hierdie boere, hul vroue, kinders en werksmense en hou hulle elke dag in die holte van u hand, want U genade is en was en sal altyd vir ons genoeg wees. Amen.

Sharon Anderson ·

Ons het 2000 hektaar beskikbaar vir boere wat hulp nodig het met weiding vir die beeste. Die grond is in Limpopo. Kontak Albert Anderson op [email protected]

Christa van Arkel ·

Baie dankie vir jou stukkie, dit het my so in trane en bitter diep geraak, ons glo en vertrou dat Ons ABBA VADER elke oproep en pleit aanhoor en daar gaan binne kort n antwoorde op alles wees, ons dank HOM vir die reen wat reeds die naweek neer gestort het, en die wat nog kom,
my hart gaan uit na al ons Boere en hul gesinne en so ook die arbeiders, ons moet net vas hou aan Jeremia 32 vers 22, “en aan hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning,

Theresa ·

Dankie vir ‘n pragtige stuk. ‘n Ware stuk. Ja, dit bring trane, want mense besef werklik nie wat Boere deesdae deurgaan nie. Mag daar hulp kom vir die mense wat al jare der jare sorg dat magies vol kom en ook bygedra het tot ‘n goeie ekonomie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.