Lesersbrief: Aan die gewone mense

dankie-sê

Foto: Hietaparta/Pixabay.com

Rene du Preez skryf:

Gister groet die (swart) apteker my seuntjie so vriendelik. Hy knoop ʼn gesprek aan met die baba, lag en gesels met my vir ʼn rukkie nadat my transaksie afgehandel is. Die (swart) kassiere lag saam met my oor ek die lojaliteitskaart in plaas van die kredietkaart vir haar gee om mee te betaal. Die (swart) karwasser knoop ʼn geselsie aan in die parkeerterrein – vra my waar ek woon en vertel sy soek werk nader aan haar huis, maar sy woon in Diepsloot en dinge is moeilik daar. Die (swart) jongman wat by die robot oor die straat wil loop, bedank my glimlaggend omdat ek hom eers laat stap voor ek ry. Die (swart) petroljoggie by die vulstasie waar ek altyd volmaak, groet my soos ʼn ou vriend en vra hoe gaan dit met die tweeling.

Vanoggend lees ek ʼn opiniestuk van ʼn skrywer wat vra of ons nog welkom is in hierdie land. Ek lees van studente wat baie kwaad is oor hul lot in die lewe. Ek lees van stakings en oproer in die land. Ek lees van gesinsmoorde, plaasaanvalle, padwoede. Soveel pyn. Soveel haat. Soveel woede. Maar is dit die norm?

Hoe vereenselwig ek hierdie beelde van haat, rassisme en geweld met die Suid-Afrika wat ek sien? Hoe is dit dieselfde land waar die mense waarmee ek elke dag kontak het, vol hoop, vriendelikheid en oopheid is?

Vir julle wat die winkelwaentjie vir my gestoot het toe my hande vol baba en babagoed was, baie dankie. Vir julle wat my ʼn plekkie in die verkeer gegee het toe ek haastig was, baie dankie. Vir julle wat geduldig wag dat die waggelende babaseuntjie eers almal groet en alles ondersoek in die gang af waar julle probeer stap, baie dankie.

Vir julle wat oogkontak maak in die supermark en glimlag, baie dankie. Vir julle wat sonder verwagting help waar julle kan, baie dankie. Vir julle wat gewone mense is wat ander gewone mense met menslikheid behandel, baie dankie. Dis my mense – of hulle nou swart of wit is. Dis my land. Dis my Suid-Afrika. Nie daardie kwaai, haatvolle handjievol wat voorblaaie haal nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik ·

Ons ervaar dieselde wat jy ervaar maar dan gaan ek werk toe en die deure slaan toe omdat jy wit is. Jy werk jou oor ‘n mik want jou junior wat 20 jaar jonger is as jy het geen ondervinding nie en hy is daar omdat hy nie-wit is nie. Wat nou?

Daisy ·

Baie dankie hiervoor.Ek stem 100% saam. Ons gewone mense kom goed oor die weg. Dis die lot wat net hulle name op die voorblad soek wat haat aanblaas. En ek glo ook ‘n mens se “attitude” dra ook baie by tot ander se optrede. Hanteer ander met respek en dis wat jy sal terugkry

lindie ·

Ek weet presies wat jy sê. Ek sien dit ook. Maar ongelukkig is dit nie net ‘n ‘handjievol’ wat haat en kwaad is nie. Eerder ‘n handjievol met wie ons in vrede kan saamleef. Daar is ook die (swart) kassiere wat my aangluur en in haar taal kliphard praat en saam met die ander lag terwyl sy my steeds aangluur en nie reageer op my groet, my dankie as ek my kaart aangee vir betaling of my dankie as sy my kaart teruggee nie.

mc ·

Ja, daar is twee wêrelde wat ons elke dag betreë. Ons eie wêreld hier rondom ons waarin ons elke dag beweeg en wat nog vol van mooi is en mense wat vir mekaar omgee en dan is daar die groter prentjie, die politieke gemors en die haat en woede daar buite. Dikwels moet ‘n mens maar meer na binne lewe net om positief te kan bly in hierdie pragtige land van ons. Want daar buite is dit werklik ‘n groot gemors.

Flippie ·

Ja, ons voel almal so. Totdat die makste hond jou byt en jy uitvind dat die vriendelike persoon wat jy dink jy ken, jou eintlik met ‘n passie haat. Net omdat jy wit is.

Al die mense wat vermoor, vermink word gedoen deur sg. vriendelike mense.

Daar is goeie mense ooraloor. Maar bly maar op jou hoede.

Flippie ·

Wie is “gewone” mense? Is slagoffers “ongewone” mense. Het die skrywer dit dalk in gedagte dat slagoffers van geweld nie deel van die normale samelewing is nie.

Ek dink die skrywer sal dalk so effens anders oor “gewone” mense dink as hy/sy self geraak is deur die gewelsdsaanslag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.