AfriForum Jeug-prokureursbrief aan NWU-Raad

Ingang na Puk-kampus Foto: AfriForum Jeug

Ingang na Puk-kampus Foto: AfriForum Jeug

18 Junie 2014
Mnr PJ van der Walt
Die Voorsitter
Raad van die Noordwes Universiteit

Geagte Meneer van der Walt,

VERSLAG VAN TAAKSPAN: ONTGROENINGSPRAKTYKE IN SEKERE KOSHUISE

Ons tree hierin op namens AfriForum MSW, ‘n burgerregte-inisiatief wat georganiseerd is in plaaslike takstrukture regoor Suid-Afrika en met jeugstrukture op verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en in besonder op die Potchefstroom kampus van die Noordwes Universiteit.

Ons rig hierdie skrywe aan u in opdrag van ons kliënt. Ons kliënt het deur die media verneem dat die Raad van die Noordwes Universiteit op Donderdag 19 Junie 2014 ‘n verslag in behandeling gaan neem, welke verslag sekere bevindinge bevat wat na die oordeel van ons kliënt neerkom op onbillike diskriminasie soos gedefinieer in die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (hierna genoem “die Gelykheidswet”).

Volgens die betrokke mediaberig bevat die verslag wat deur die Raad in oorweging geneem gaan word onder andere die volgende beweringe:
– Dat koshuise by die Potchefstroom kampus “so wit” is dat dit lyk of ’n implisiete kwotastelsel daar geld om swart studente uit te hou.
– Dat dié syfers dui op ‘n besluit om die status quo te handhaaf, naamlik om so ver as moontlik die tradisies en die ‘kultuur’ van koshuise te beskerm.
– Dat die hoofoorsaak vir die bestaan en voortbestaan van sekere ontgroeningspraktyke is dat koshuisinwoners uit sogenaamde Afrikanerskole kom waar ontgroening ook bedryf word.
– Dat koshuisinwoners juis om daardie rede glo daar is nie eintlik veel fout met ontgroening is nie.
– Dat die “radikale verwatering” van die beweerde hoë konsentrasie wit, Afrikaanse studente in van die koshuise by die Puk-kampus nagestreef moet word om die voorkoms van ontgroeningspraktyke te bestry.

Uit bogenoemde blyk dit dat die taakspan die volgende diskriminerende en stereotiperende bevindinge gemaak het:
– Dat onregmatige ontgroeningspraktyke, Fascistiese optrede en boeliegedrag eie is aan wit mense in die algemeen en Afrikaners in besonder;
– Dat sogenaamde Afrikanerskole die teelaarde is van ontgroeningspraktyke, Fascistiese optrede en boeliegedrag – en by implikasie dat Afrikaanse skole uitgesonder en geteiken moet word deur projekte wat daarop gemik is om ontgroening, Fascisme en boeliegedrag uit te roei; en
– Dat wit mense in die algemeen en Afrikaners in besonder geteiken moet word met ‘n program van “radikale verwatering” van die beweerde hoë konsentrasie van wit studente in koshuise op die Potchefstroom kampus van die NWU.

U word in die verband verwys na die bepalings van veral Artikels 10 en 12 van die Gelykheidswet wat bepaal dat niemand inligting mag publiseer wat redelikerwys vertolk kan word dat dit:
– krenkend of skadelik is;
– haat teen enige spesifieke groepering bevorder; of
– met die bedoeling geskied om onbillik te diskrimineer teen ‘n groep persone op grond van hulle ras of taal nie.

Ons doen aan die hand dat die betrokke verslag inderdaad krenkend en skadelik is, dat dit voorts haat teen wit mense in die algemeen en Afrikaners in besonder bevorder deurdat hulle as Fasciste en boelies gestereotipeer word.
Ons kliënt het rede om te glo dat die verslag in sy huidige vorm selfs meer blatante vorme van diskriminerende, stereotiperende en krenkende “bevindinge” aangaande persone wat wit en Afrikaanssprekend is bevat en dat daar goeie gronde bestaan om die uiteindelike publikasie, verspreiding en/of oorhandiging van die verslag aan die Minister van Hoër Onderwys by wyse van ‘n interdik te stop.

U word derhalwe versoek om nie die verslag in sy huidige vorm te aanvaar of na die Minister van Hoër Onderwys te verwys nie, aangesien sodanige verwysing van die verslag die Raad van die Universiteit mede-aanspreeklik sal maak vir die onregmatige optrede van die opstellers van die verslag.

Ons verneem graag dringend van u in die verband.
Die uwe
HURTER SPIES ING
PER: W D Spies

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.