‘Afrikaans het my na God gebring’

lebo-ndlovu

Lebo Ndlovu is ‘n matrikulant aan die Hoërskool Middelburg. Foto: Middelburg Observer/Afrikaans.com se Facebook-blad.

Lebo Ndlovu, ’n matrikulant aan die Hoërskool Middelburg, het hierdie brief geskryf. Dit is deel van die Middelburg Observer se rubrieke vir jong stemme, ‘n veldtog wat van stapel gestuur is om jonger lesers by die koerant te betrek en weer aan die lees te kry:

 “Kom ons bind mekaar met woorde, met die brug en die gom van ons mooi tale, ook die brug en gom van Afrikaans. Kom ons maak Afrikaans ’n taal van versoening, van vrede en van vryheid” – Mathews Phosa

Hierdie woorde begroet my elke dag in die Afrikaanse klas – my juffrou het dit kunstig voor op die muur geverf. Ná ’n jaar het Mathews Phosa se woorde soos mos op my begin groei. Dit herinner my aan Laurika Rauch se liedjie waarin sy sing van haar hartsmense wat soos ’n moskombersie op haar groei. In my geval, is dit Afrikaans wat onder my vel ingekruip het.

My naam is Lebo Ndlovu. As negejarige seuntjie het ek ’n tuiste gevind in Kosmos-kinderhuis in Kriel. Ek was nie wees nie, maar my ma was ’n enkelouer en kon weens haar siekte nie meer vir my sorg nie. Dit is hier by die kinderhuis waar my pad gekruis het met Kiewiet – my boesemvriend wat my geleer het om Afrikaans te praat en om my hart vir die Here te gee.

As tjokkertjie het ek met Kiewiet se Afrikaanse Bybel gesit en hy het weer uit my Zoeloe-Bybel, wat ek by die kinderhuis gekry het, probeer lees. Saam met Kiewiet het ek vir die eerste keer geleer om oopbek vir die lewe te lag – iets wat ek tot op daardie stadium nie kon doen nie, weens my ongunstige huislike omstandighede.

In 2011 word ek ’n Middelburger toe ek deel word van Care Village se kinderhuisfamilie. Tot nou toe het ek gedink dat my ma my weggegooi het. Maar soos ek ouer geword het, het ek na rede begin soek. Ek het besef dat ek my ma nooit sien lag het nie en al wat ek van haar kan onthou, is die seer in haar oë en die kneusplekke op haar lyf.

Ek het vrede gevind in die wete dat alles met ’n rede gebeur. By my ma sou ek nooit in my geloof in Jesus Christus kon groei nie. Nou het die lewe vir my die geleentheid gegee om my hart vir die Here te gee. Ek lag altyd, want ek glo dat God in my leef en dat Hy elke probleem saam met my sal hanteer.

My lewe in die kinderhuis het my geleer dat ek oor niks bekommerd hoef te wees nie en met ’n dankbare hart moet bid vir alles wat ek het. Nóg ’n kosbare les wat ek hier geleer het, is dat geld niks is nie, maar dat tyd kosbaar is.

As ’n matrikulant van Hoërskool Middelburg is my boodskap dat Afrikaans onder my vel ingekruip het, want dit het my na God toe gebring. Mathews Phosa se woorde waarna ek elke dag in die Afrikaanse klas kyk, het volle betekenis in my lewe gekry. Hier by Hoërskool Middelburg is dit ’n taal van versoening, waar ons leerders oor kultuurgrense heen mekaar respekteer.

In my persoonlike lewe het dit vrede gebring oor my verlede en ek het die vermoë om ’n glimlag op ander mense se gesigte te los, omdat ek werklik vry is.

Die sanger, Refentse Morake, som my gevoel oor Afrikaans op met die woorde:

“Ek is ’n groot aanhanger van Afrikaans, want daarsonder weet ek nie wie ek is nie.”

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

55 Kommentare

RHG ·

My trane loop. Dis pragtig!
Lebo Ndlovu, jy is pragtig!
Dankie MM dat julle dit met ons gedeel het.

Minora ·

Nou met sulke mense kan ons n nasie bou!n Volk vir God en n volk van God.

Sanché ·

Lebo….daar breek jy my soutdamme en water stroom oor hul walle. Traan en hoendervleismooi getuie. Mag God jou en jouse mense elke dag styf vashou en dra in goeie en minder goeie tye. Weet dat Hy altyd daar is en in beheer is en soms as dit voel of mens twyfel is Hy juis dannnn daar. Vat net Sy Hand elke dag. Moet nooit laat los nie. GOD se Seën bid ek vijou en jouse mense.

E.K. die eerste ·

Baie mooi getuienis. Mag goedheid en guns jou volg al die dae van jou lewe.

Annemarie Swanepoel ·

Dankie, dis so kosbaar. My wens vir elke Suid-Afrikaanse kind in hierdie mooi land van ons.

Veer ·

Lebo, ag dit maak my hart warm om hierdie getuie te lees. Welgedaan jongman, jy het soveel insig en wysheid op jou ouderdom. Jy kon so anders redineer het, maar jy het uit gestyg bo jou omstandighede. ‘n Les vir soveel van ons. Jy is reeds n merkwaardige jongman wat jou ma verseker bree bors moet laat rondloop, bou so voort!!

Heinrich ·

Dankie dat jy hierdie mooi artikel gedeel het Lebo, jy is ‘n inspirasie!

Theresa Papenfus ·

Hoe lieflik! Jy is ‘n inspirasie en hoop, Lebo.

En nou? ·

Knap gedaan jong man!
Ek wens 40 miljoen ander mense kon sulke goeie waardes soos jy gehad het, dan was SA defnitief ‘n beter plek vandag!

Ronel ·

Liewe kind, wat ‘n besonderse jong man is jy nie! Mag die lewe sy sonkant vir jou wys, en mag elke dag ‘n goudgeel sonneblom vir jou wees. Ek dink jy is uniek, Dankie dat jy hierdie pragtige woorde met ons deel.

Cathy ·

Jou brief het my hartsnare geroer. En jy skryf so pragtig afrikaans :) Dankie vir die inspirasie

Lizelle Terblanche ·

Wonderlike getuienis. My pa was Mathews Phosa se Afrikaanse onderwyser, hy het vir hom sy liefde vir Afrikaans geleer. So kring sy invloed na 50 jaar nog steeds uit!

$ ·

Sjoe Lizelle, jy kan voorwaar trots wees op jou pa.

Lebo is werklik ‘n inspirasie – wat hy nié in sy brief sê nie is dat hy ook die hoofseun van die Care Village was verlede jaar; ongetwyfeld ‘n jong man wat as voorbeeld dien vir baie jong (en ou!) mense.

Mag sy toekoms geseënd wees.

Sann ·

Lizelle, baie groot respek en waardering vir jou pa. Ek het briljante Engelse (tweede taal) onderwysers gehad, maar ek moet eerlik wees, dat ek nog nooit ‘n liefde vir die taal ontwikkel het nie. Dis vir my ongelukkig nogsteeds net die manier waarmee ek by ander wêrelde en mense kan uitkom, maar Afrikaans sal altyd my eerste liefde bly. Ek gebruik my tweede taal met respek, en so keurig as moontlik, en ek salueer elke anderstalige wat dieselfde doen vir Afrikaans.

Christina ·

Liewe Lebo. Jy is so kosbaar! Jou positiewe gesindheid en die liefde in jou hart sal bly uitkring na ander mense. Mag God jou ryklik seën!

Alida X ·

Baie dankie MM vir die plasing van die brief.
Na die lees van al die sterftes op ons paaie en geweld by taxistaanplekke is die soos ‘n sonstraal of reënbui.
Dit bring hoop.
Was heerlik om te lees, sommer hoendervleis gekry.
Lebo, dankie vir jou getuienis.

Landi Naude ·

Ek stem 100% saam.
Was n voorreg om so iets mooi te kan lees , wat sommer eerste verskyn het.

Eintlik weer iets tragies of bedroef verwag.

Mooi ·

Jesus maak alles nuut en daar waar Hy aanraak maak Hy heel, altyd. Daar is geen groter vreugde as om HOM te ken nie, hierdie kind is die lewende bewys

Essa ·

Pragtige seun hierdie. Lebo, jy is ‘n ware inspirasie met jou geloof, jou pragtige gesindheid, jou Afrikaans en hoe jy jou hartseer kinderdae verwerk het. Jy is jou ma se wonderlike nalatenskap. Seënwense vir jou en jou vriend Kiewiet se lewenspaaie ?

André ·

Wow, wat ‘n wonderlike manier om ‘n nuwe week en maand met só ‘n positiewe getuienis te begin. Lebo, Mag God jou seën!

Ander Gert ·

In die 1990’s was Hoerskool Middelburg amptelik ‘n Christelike skool.

In die praktyk is daar meesal twee gode in daardie skool gedien: rugby in die eerste plek, met netbal en hokkie wat vir die tweede plek meegeding het.

Dit is verblydend as dinge daar verander het.

Arno ·

Lebo WOW. Pragtig jongman. Jy is n kosbare les vir elke Suid-Afrikaner. Ongeag ras, taal of geslag as meer van ons jou gesindheid gehad het was ons land reeds genees.

LD ·

Baie baie mooi! Dankie dat jy dit op sosiale media deel! Hoop van harte daar is baie wat jou storie sal lees en dit ook wil leef! Ons land het soveel meer van jou nodig! Kan my net indink hoe lekker en veilig ons almal saam kan lewe as almal so wil terugkeer na ons Skepper??

van der Merwe ·

Wow. Wat ‘n inspirasie. Ons hele parlement kan gaan kers opsteek . . .

Landi ·

Sjoe en wow

Dankie vir jou brief Lebo.
Ek bid dat God ons almal so hart kan gee wat soveel goed en mooi kan raak sien in iets “klein” soos n taal.
Jy my trane van trots gegee en n bietjie van teleurstelling in myself.

Asb bly altyd die mens wat jy is.
Die wereld kort jou en jou hart.

madels ·

Wat n kosbare mooi jong man. Dankie Lebo, jy gee ons hoop, nie omdat ek Afrikaans is nie, maar omdat jy so n positiewe jong man is wat die wereld vierkantig in die oe kyk en nie toelaat dat jou agtergrond jou “definieer” nie. Mag daar talle mense soos jy hande vat met almal in hierdie land, n voorbeeld stel van hoe dit lyk om saamgebind in die “ketting” van liefde te leef. Baie baie dankie, jy het voorwaar my hart diep aangeraak vandag

Juffrou ·

Sjoe, so diep uit eie hart. Baie sterkte vir die toekoms. Jy is reeds n wenner om so bo jou omstandighede uit te styg. So bly jyt Jesus leer ken.

Elvira ·

Dankie Lebo jy gee my hoop vir hierdie land. Wens daar was nog baie soos jy.

Teresa ·

Dankie vir jou motivering Lebo. Jy bring weer hoop vir ons almal terug!

Erika ·

Lebo wat ‘n puik getuienis, mag GOD jou vandag styf teen SY bors druk, en MAG jy SY liefde ervaar. Ons kort baie meer kinders soos jy. My wens vir jou toekoms is, dat jy elke dag in elke besluit wat jy gaan neem, ons Skepper sal ken en dat jy HOM sal ken in elke besluit \ keuse wat jy neem. Hy is ons Saligmaker, ons Leidsman, ons Raadsman. Baie baie sterkte met jou lewe vorentoe. Jy is ‘n pragtige kind, weet jy hoekom, want SY liggie skyn deur jou! Trots op jou.

Liza ·

Sit ek en tjank nou, Lebo so so dankie vir hierdie mooi getuienis dit het my weer op nuut laat besef dat ek moet my lewe regkry, jy is so ‘n mooi voorbeeld vir oud en jonk…….sterkte vorentoe en mag Jesus se liggie altyd by jou skyn……..

Penellope Jones ·

Seer en moeilike omstandighede wat omgeskakel is in vreugde en vrede!!
Die Here het jou lewe aangeraak en dankie dat jy dit oordra en deel!
Alle voorspoed vir jou vir die toekoms.

JWC ·

Ja, prys die Here – en gee vir ons almal U genade en Vrede …. seën die jong man!!

lh ·

Baie dankie Kiewiet! ek glo jou plekkie is geboek in die hemel . . . Jy het van Lebo ‘n vriend en ‘n Koningskind gemaak!

Adel ·

John, ek het dit nogals weer nie so ervaar nie….As ek die kommentaar lees, is dit juis die Here wat gedank en verheerlik word..

Middelburger ·

Ek moet vertel dat Lebo ‘n groot inspirasie is vir my kinders. Hulle is so lief vir hom en wil altyd by hom wees, want sy pragtige siel straal uit hom uit en hy het soveel vriendelikheid en liefde wat hy met almal om hom deel. Hy is ongelooflik nederig, en al hemel ek hom nou op, is hy ook net ‘n mens soos ek en jy, ek sê dit so, sodat almal kan besef dat as jy God eerste stel en andere dien voor jy jouself dien, dan val liefde, vriendelikheid en respek ook in lyn en word jy ook ‘n voorbeeld vir ander.
Jy kan ook soos Lebo ‘n verskil maak in andere se lewens. Probeer vandag deur heeldag vir almal te glimlag en te groet, sonder om ‘n groet terug te verwag.

Johannes ·

Aangrypend mooi en kosbaar! Alles wat mooi is vir Lebo en vir Kiewiet!

Annie ·

Kan iemand nie dalk vir hierdie seun ‘n beurs vir verdere studie reel nie? As weeskind is daar sekerlik nie die nodige fondse nie, Ons taal het Lebo’s nodig vir voortbestaan.

Madeleine ·

Ek stem saam! Pragtige seun! Hy moet n goeie geleentheid gebied word na skool vir verdere studies! In afr…

Cora Thomas ·

Ek stem saam met vorige skrywe – dat hierdie seun n beurs vir verdere opleiding moet kry. In Afrikaans ? Sal n aanwins wees. Doen so voort Lebo

Van Goch ·

Lebo. Kom hier jou mooi Jongman sodat ek jou ‘n groot druk in bewondering kan gee! Pratige mens, jy en ek wens jou’ n wonderlike en gelukkige toekoms toe.

Koos Marais ·

Dit is verby hoogtyd dat elke Afrikaner die moeite doen om een van die swart tale aan te leer. Ek het dit gedoen, op 63-jarige ouderdom.

Nici ·

WOW.!!!!!!
Lebo, uit my hart uit sê ek vir jou dankie & vir Kiewiet sowel as Mathews.
Ek bid Onse Vader se seen toe op julle lewenspad vorentoe. Dankie dat jy die mooie getuienis en jou lewens verhaal met ons almal deel. Sterkte

John ·

Wow! Die mannetjie soek ‘n lekker verniet beurs vandaar die skrywe. Hy ken die triek. Geen hom ‘n beurs AfriForum en al die ander wat sy slim plan gaan volg…. Afrikaans en die trane rol oor jou bokkie… Die Afrikanerkinders sal maar betaal vir hul studies.

Esmé ·

So mooi.. kom ons bou brûe met ons verskillende tale.. Dankie Lebo

Connie Georgiou ·

Lebo so bly jy het die Here onmoet. Mag Jesus jou seen in jou lewe saam met Hom

Maria ·

Huil saam met ander kommentare regtig mooi dit wat Here van ons almal verwag nie teen rasse,tale ens nie ons is eindlik een dn almal saam een plek toe dit hemel . Dankie Lebo xxx

Rupert Ashford ·

Pragtige brief Lebo. Jy het ‘n mooi toekoms voor jou as jy saam met die Here loop. As daar een ding is wat ons Afrikaners nie goed gedoen het in die verlede nie, was dit om Afrikaans en ons mense wat die taal praat as die ligdraers van die Evangelie in Suidelike Afrika te he nie. Ons het dit gedoen, maar nie op groot genoeg skaal nie en dit is ‘n jammerte, want dit is eintlik waaroor die lewe op die einde gaan. Toegegee, die Afrikaanssprekende mens was nooit die rykes nie, en ‘n ang deel van die geskiedenis van Afrikaans was ‘n stryd om persoonlike opheffing, maar ek glo regtig ons kon meer gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.