Afrikaanse Alex uit Duitsland: ‘Ek stoor die woorde in my hart’

Alexander Mickel (Foto: Vanessa Ly Pham)

Alexander Mickel van Duitsland skryf:

Op 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag gevier. Daar lê ʼn baie interessante storie agter die ontstaan van dié dag.

In 1952 het die regering van die destydse Pakistan besluit om Urdu die enigste amptelike taal te maak, alhoewel slegs 3% van die bevolking dit as moedertaal gebruik het. In Oos-Pakistan (die hedendaagse Bangladesj) is amper uitsluitlik Bengaals gesproke. Tydens proteste in Dhaka op 21 Februarie is studente dood toe hulle vir die reg van hul moedertaal geveg het. Die voortgesette taalkundige en kulturele onderdrukking van Oos-Pakistan het uiteindelik tot die afskeiding en stigting van Bangladesj gelei. Op versoek van Bangladesj is dié dag deur Unesco in November 1999 tot ʼn Internasionale Moedertaaldag verklaar om die slagoffers van die Bengaalse taalbeweging te herdenk. Moedertaaldag mik op die beskerming van nie alleen die taalkundige en kulturele erfenis nie, maar ook van veeltalige opvoeding. Die doel is verder om mense bewus te maak van die bedreiging wat globalisering vir taalkundige diversiteit inhou indien kommunikasie deur ʼn enkele taal oorheers word. Dit veroorsaak dat minder gebruikte tale verdwyn.

Ek is ʼn Duitser en in Duitsland is daar nie ʼn kwessie van in watter taal ʼn mens onderrig gaan ontvang nie; dit sal Duits wees. My eerste addisionele taal is Engels en my tweede is Frans. Ek het nie probleme gehad om albei nuwe tale aan te leer nie. Ek het in albei tale presteer en dit kan sekerlik aan my stewig gevestigde vaardighede in my moedertaal toegeskryf word. Ongelukkig het ek ná skool my Frans nie weer prakties gebruik nie, sodat ek baie daarvan vergeet het. Dalk slaap dit net iewers in my onderbewuste en vind ek nog ʼn manier om dit weer wakker te maak.

Ek praat vervolgens van my ondervindings op tersiêre vlak. Ek het in Halle (Saale) aan die Martin-Luther-Universiteit Halle-Wittenberg biologie gestudeer. Die tersiêre opleiding het in Duits plaasgevind, maar daar word deesdae verwag dat ʼn student om verskeie redes in Engels vaardig is. Navorsingspublikasies is meestal slegs in Engels beskikbaar. Daar was professore wat vir hul skyfievertonings Engels gebruik, maar Duits gepraat het. Toe ek ʼn doktorale student was, was dit aan die orde van die dag om myself en die resultate van my navorsing in Engels aan ʼn wetenskaplike gehoor bekend te stel. Verskillende soorte seminare aan Duitse universiteite vind weekliks in Engels plaas. Sulke seminare help studente om Engels op ʼn wetenskaplike vlak te oefen. Ná ek die doktorsgraad behaal het, het ek begin werk in die afdeling van gehalteversekering by ʼn farmaseutiese maatskappy wat, onder meer, entstowwe vervaardig.

Afrikaans is my derde addisionele taal; ek het egter nooit formele onderrig gehad nie. Ek beskik oor sterk dissipline en het saans een of twee lesse Afrikaans geoefen uit Engelse oefenboeke (Duitse handboeke was nie verkrybaar nie). Dis hoe ek my Afrikaanse grondsteen gelê het. Nadat ek klaar was met die grammatikaoefeninge, het ek begin om baie te lees. Vir woorde wat ek nie verstaan het nie, het ek my woordeboek gebruik of die betekenis uit die konteks afgelei. Ook lyk baie Afrikaanse woorde soos die Duitse woorde of hulle kan selfs eenders wees. Die gebruik van die woordeboek het minder en minder geword, omdat ek begin het om die woorde in my hart te stoor. Ek het nooit woordelyste geleer nie. Ek het so baie pret gehad gedurende die leer en die toepassing van die Afrikaanse taal. Die sukses het my aangemoedig en ek het ʼn groot passie vir die taal ontwikkel, sodat ek die woorde maklik onthou het. Juis omdat my moedertaal gevestig was, het ek die vermoë ontwikkel om ander tale aan te leer. Kennis en begrip van my moedertaal, Duits, was dikwels maklik na Afrikaans oordraagbaar. So kon ek nuwe kennis met bestaande kennis integreer. Ek het egter ʼn paar taalkundige mense byderhand vir wie ek al my vrae kan vra en glo my, ek gebruik die kans! Dan wil ek graag hierdie kans gebruik om vir Rina Loader, Universiteit van Wenen, dankie te sê vir haar taalwenke in hierdie brief.

Ofskoon my Afrikaans moontlik ʼn bietjie hoogdrawend is – gesien in die lig dat ek Afrikaans alleen uit boeke geleer het – is dit egter mý Afrikaans. Natuurlik is daar foutjies, maar wees verseker dat ek baie trots is op elke woord wat ek geleer het en baie trots is op die vlak wat ek bereik het.

Een van die lekkerste gevolge van my nuwe taal, is die interaksie met Afrikaanse moedertaalsprekers. Ek geniet dit baie. Hulle gee nie om om sekere gesegdes en uitdrukkings aan my te verduidelik of om my met sekere dinge reg te help nie. Die mense sien my passie raak en hulle verbaas hulle oor my spitsvondighede. Dit het, na my ervaring, ʼn positiewe invloed op hulle. Die feit dat ek Afrikaans so ver van Suid-Afrika af praat, inspireer moedertaalsprekers om hulle meer met hul eie taal besig te hou. Om my “onderwysers” te wees, lei hulle daartoe om meer na te dink oor hul eie taal, ou gesegdes weer op te diep en te besin oor hoe hulle taalstrukture aan my kan verduidelik. Sommige mense het vir my gesê dat hulle hul taal suiwerder praat en gebruik. Om nie by niemoedertaalsprekers af te steek nie? Dit laat my sommer glimlag.

Ek het geleer dat dit nie moeilik is om as ʼn enkele persoon ʼn verskil te maak nie. Ek voel asof ek in die midde van die Afrikaanse taalgemeenskap geplaas is en ek kan nie net van alle rigtings af ontvang nie, maar ook uitreik! Die positiewe terugvoering bind mense oor taalgrense heen.

Ek het onlangs in ʼn boek gelees oor die vestiging van Duits as wetenskapstaal in Middel-Europa. Dit is nou baie vanpas om my skrywe af te sluit met die volgende stelling: Vir Gottfried Wilhelm Leibnitz (1646-1716) was taal ‘n denkinstrument op die pad na kennis en dit moet so wyd as moontlik effektief toegepas word. Dít kan, volgens Leibnitz, slegs die moedertaal volbring.

Moedertaalonderrig het beslis my kognitiewe en sosiale vaardighede verryk en was die fondasie vir my akademiese prestasie.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Susan ·

Wat ‘n fantastiese brief in pragtige suiwer Afrikaans. Alex, dit is werklik puik om jou brief te lees en ek kan net dink dat jy Afrikaanse mense inspireer om ons taal mooier te gebruik. Ons het ons taal al so deurspek met woorde uit ander tale, dat dit glad nie meer mooi is nie. Baie dankie vir jou inspirerende skrywe. Werklik uitmuntend!

Peet Schabort ·

Voorwaar, voorwaar, die taalgebruik is keurig en die spelling is onberispelik! Hoogdrawend? Nee ek glo nie. Wat Alex se prestasie des te meer merkwaardig maak is dat hy via Duits/Engelse-woordeboeke Afrikaans moes bemeester! Hy moes dus ook taalvaardig wees in ‘Ingels’.
Dalk bewaringswaardig is my oorlede vader se ‘Wörterbuch/Woordeboek, Deutsch-Afrikanisch/Afrikaans-Duits’ van Steyn & Schultze gedruk in 1925 deur J.L. van Schaik. Daar is gebruik gemaak van Duden se ‘Rechtschreibung der deutschen Sprache und der Fremdwörter’ van 1921 asook die ‘Afrikaanse Woordelys en Spelreëls van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns’ van 1921.
Nogmaals veels geluk met jou prestasie Alex!

Gert ·

Baie dankie Alex! Dit laat mens regtig goed voel om hierdie te lees.
Dis ook ‘n aanklag teen Afrikaanses wat hulle kinders Engels grootmaak.

Therese van Schalkwyk ·

“Ek is ‘n Duitser en in Duitsland is daar nie ‘n kwessie van in watter taal ‘n mens onderrig gaan ontvang nie; dit sal Duits wees”.

Wat ‘n voorreg om dít te kan sê! En dáár is die rede waarom Duitsers bo-gemiddeld presteer met alles wat hulle aanpak.

Mag alle Afrikaners en Afrikaanssprekendes, wat so maklik handdoek ingooi omdat “die wêreldtaal dan nou Engels is”, hierdie stuk van Alexander lees.
Alexander Mickel, wat jy vermag het, is verstommend; jy is ‘n ster!

Carolin ·

Hello Alexander

Sjoe, ek moet jou komplimenteer met jou vlot en vleklose Afrikaans, dis ‘n riem onder die hart om iemand so te sien skryf. Veral omdat dit jou derde addisionele taal is! Afrikaans is ‘n pragtige taal en baie verwant aan Duits (ek het laas Duits gepraat in matriek), dus gaan daar heelwat woorde / frases wees wat vir jou sin maak.

Baie geluk met al jou prestasies, en veral jou sukses met die leer van ons Taal (hoofletter, ja). Dis ‘n ware ligstraal in tye van kuber-taal en sulke onverstaanbare nonsens, waar dit onnodig geword het om ordentlike taalgebruik toe te pas. Jou brief is pragtig en glo my, amper geen foute nie.

Groete uit Pretoria

Alexander Mickel ·

Ek is bly om dit te hoor! Waardeer dit baie! Baie dankie, Carolin!

Anita (die 1ste) ·

Alexander, jou Afrikaans is sodanig dat ek as moedertaalspreker op grond van jou skryfwerk sou reken jy het dit aan moedersknie geleer.
Jou Afrikaans is bepaald nie hoogdrawend nie.
Net normale standaardtaal sonder styfgestyselde aanstellerigheid.
Jy het bepaald ‘n bogemiddelde taalaanleg.
My Duits is as derde taal net op hoërskool geleer, en is saam met Nederlands die tale wat ek geredelik kan lees.
Dalk onthou ek Duits so goed omdat ons op die hand geslaan is oor veral werkwoorde. Sterk werkwoorde se klinkerveranderings in die Imperfekt en Perfekt asook hulle slaggate in die tweede en derde persoon enkelvoud is behoorlik by ons ingeprent.
Ek onthou nog hoe uit die veld geslaan ek was toe ‘n Duitse vrou vertel het sy beloon haar studente met lekkers as hul iets reg het. Ondenkbaar, ons onderwyser het glad nie geglo in daardie tipe kindersielkunde nie.

Hartlike groete vanuit Pretoria!

Gisela van Reenen ·

Alex, jou Afrikaans is uit die boonste rakke! Ek haal my hoed af vir jou besonder goeie taalvaardigheid. In Suid-Afrika is die tendens om die taal te deurspek met Engelse woorde, wat n jammerte is. So jy stel eintlik aan ons die voorbeeld hoe keurig en elegant mens jouself in Afrikaans kan uitdruk. Also, herzlichen Glückwunsch! Wir sind höchst beeindruckt! Ich selber bin die Tochter von Immigranteneltern, die nach dem 2. Weltkrieg nach Südafrika ausgewandert waren. Meine Brüder und ich gingen auf afrikaanse Schulen und Universitäten, sprachen aber stets Deutsch zu Hause. Ich merke, daß in den letzten Jahrzehnten Deutsch auch sehr viel englische Wörter aufgenommen hat. Schade, auch da. Was ist die Chance, daß sie je nach Südafrika zu Besuch kommen? Oder waren Sie bereits hier? Alle sterkte en sukses met jou Afrikaans vorentoe!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.