Lesersbrief: Afrikaanse skrywer se ope brief aan Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. (Foto: departement van kommunikasie)

Beste meneer Ramaphosa

Baie geluk met jou verkiesing as president van die ANC. Ek bedoel dit opreg. Glo my maar: As ‘n wit, voorstedelike, Afrikaanse tannie van Pretoria bly en verlig is dat jy hierdie stryd gewen het, sê dit nogal iets van die stand van sake in hierdie land.

Onthou asseblief dat jy vanaand die leier van ‘n party geword het, maar dat jy in alle waarskynlikheid die leier van hierdie land gaan word. Dit is twee verskillende hoedanighede, ‘n konsep wat jou voorganger blykbaar nie kon bemeester nie. Hier is dus so ‘n paar wenke:

  • Jy verkoop ons nie aan die Guptas en hulle trawante uit nie. Jy is die leier van ‘n demokrasie, nie die HUB van ‘n korrupte hongerloonfabriek waar werkers aan masjiene vasgeketting sit terwyl die eienaars aan G&T’s op die buiteklub se voorstoep teug nie.
  • Jy stel nie jou minnaresse in die kabinet aan nie. Ons wil mense hê wat die werk kan doen waarvoor hulle betaal word.
  • Geen landgoed nie. Hoor jy? Jy het ‘n huis. Om die waarheid te sê, as president gaan jy ‘n paar huise hê, wat ons reeds onderhou. Dis oorgenoeg. As jy nog ‘n huis wil hê, bou dit met jou eie geld, nie ons s’n nie. As jy ‘n opgaardam vir brandbestryding nodig het, laat kom vir my en Jabulani, ons sal vir jou een vir ‘n paar honderd rand kom grawe.
  • Jy sweer met niemand saam wat hulle belange bo ons s’n stel nie. Ja, ons wil elektrisiteit hê. Nee, ons wil nie Russe ryk maak nie.
  • Afrika is nie ‘n stortplek vir Chinese afval nie. In geen formaat nie.
  • Hou maar jou oog op Ace. Sê vir hom hy moet daai motors teruggee.
  • Jy neem dalk wel ‘n morsige regering oor, maar jy gaan die president van ‘n hele klomp besonderse mense wees. Soos my pa, wat een-en-tagtig is en steeds dink dis die beste land in die wêreld hierdie. En my seun, wat hier moet oorleef lank nadat ek en jy al twee al ingespit gaan wees. En Jabulani, wat by my huis aankom met ‘n glimlag en goeie wense elke keer as hy my sien, al is sy lewe nie maklik nie. En my vriende, en my kollegas, en my studente, en my seun se pel wat soggens vyfuur ‘n trein uit Soweto moet haal om betyds vir sy klasse te wees, en die karwag by Pick n Pay wat met ‘n sambreel aangehardloop kom as dit reën, sy arm deur myne haak en sê: “Stay close, Mama, this rain will make you ill if it catches you”. Jy gaan ons almal se president wees. Ons werk ons blikke af om te oorleef. Dit verdien jou respek. Regeer dienooreenkomstig.

Baie sterkte met ‘n moeilike taak. Streef daarna om ons waardig te wees.

Sophia

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Natasha kapp ·

Uitstekend. Tannie Sophia! Gee die tannie n Bells….

Heinrich ·

Goeie sentiment Sophia, ongelukkig is dit nog steeds die ANC van wie jy so baie verwag! Maar hei; ons kan seker hoop!

Christi ·

Ja! Verseker goeie hoop en nie net sentiment nie. En JA ons HOOP, GLO en VERTROU!

Nienie ·

Liewe Sophia Ek vrek oor jou boeke. Pleks skryf jy hierdie brief in Engels. Cyril verstaan nie Afrikaans nie. Nietemin, jou brief is ernstig, maar ook kostelik. Gaan voort om mooi boeke te skryf.

Sune van Heerden ·

Dagsê Nienie

Die brief het oorspronklik in Engels op Sophia se Facebook-blad verskyn. Sy het dit vertaal en toestemming gegee dat ons die hier op Maroela Media mag publiseer.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Elza ·

Cyril Ramaphosa verstaan, praat en skryf Afrikaans. Jare gelede toe hy nog n jong man was het ek persoonlik n brief gesien in sy eie handskrif. Hiermee gee ek geen politieke opinie of enige ander mening….slegs n feit.

Johanna Botha ·

Baie mooi mens hoop net dit val op die regte oor want SA is in die moeilikheid met die huidige stand van sake ….mens wonder net of hulle dit wel besef en of hulle netnie omgee nie ….begin dink dis laasgenoemde !

Elizabeth ·

Wees verseker dat die nuwe president (van wat nou weer …?) nie Afrikaans verstaan nie. Kom ons hou nogtans duim vas dat hy ‘n goeie vertaler gaan kry om jou brief te vertaal en homself aan ‘n “ou tannie” se raad gaan steur …

Sune van Heerden ·

Dagsê Elizabeth

Die brief het oorspronklik in Engels op Sophia se Facebook-blad verskyn. Sy het dit vertaal en toestemming gegee dat ons die hier op Maroela Media mag publiseer.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Christi ·

Bravo, Sophia! Ek sou dit nie beter kon stel nie… Ons bly glo. Ons bly positief in hierdie mooi land met sy baie mooi mense! Ek gaan nêrens heen nie. Ek en my kinders bly NET hier.

Leeu ·

Ag genade, dié “ope briewe” is maar n manier vir mense om “internet fame” te probeer bereik, n oop brief vir elk, elke 2de dag, net om viral te probeer gaan.

Daleen ·

Sophia Kapp het regtig niks om te probeer bewys met hierdie “ope brief” nie. Sy het haar lankal self bewys en lankal reeds “internet-fame” bereik. Haar skrywes gaan gereeld viral, so sy is regtig al gewoond daaraan. Sy besit die vermoë om dit wat almal voel te verwoord.

Elza ·

Cyril Ramaphosa verstaan, praat en skryf Afrikaans. Jare gelede toe hy nog n jong man was het ek persoonlik n brief gesien in sy eie handskrif. Hiermee gee ek geen politieke opinie of enige ander mening….slegs n feit.

SjN ·

Baie goed geste tannie Sophial, as die vorige lede kon gaan tee drink by tannie Betsie in Orania dan beskou ek dit as sy plig om u ook uit welwillendheid te besoek.

Cheeta ·

Die brief is weereens ‘n bewys van hoe naïef die Afrikaans sprekende blankes is.
Cyril gaan nie die brief lees nie en hy voel vir jou en al die ander Afrikaans sprekende bankes vere. Die feit dat jou aanhangers handeklap asof jy iets indrukwekkend gedoen het is weereens ‘n bewys van hoe naïef ons klompie is.
Die mag is deur al die JA stemmers verkwansel en in 1994 finaal verloor. Die rainbow nation is ‘n verbeeldingsvlug van liberalis wat hoop dit gaan beter gaan. Afrika is die bewys van wat in Suid Afrika gebeur.
So Sophia bly skryf jou briefies en kry jou aanhangers om hande te klap en voel goed oor jou poging.
Facebook likes is tog waar ons verandering gaan teweeg bring of so glo ons naïef.

Piet ·

Stem. En dan is die ou briefie nog oordrewe politiek korrek ook.

Melt Loubser ·

Mooi brief. Ek is hier gebore soos miljoene ander en SA behoort aan almal. Ons moet net ons hulpbronne bewaar en besef geen mens kan dit herstel. Kom ons leef in harmonie. Daar sal altyd mense wees wat anders wil wees, maar ons kan deur ons optrede n voorbeeld vir jonk en oud wees. Geduld, liefde, bedagsaamheid, verdraagsaamheid en verstaanbaarheid tesame met Vriendelikheid kos niks. SA is n baie mooi Land. Kom ons maak n verskil en onderhou dit.

Bert ·

Sjoe maar hierdie ope brief drup darem maar van ‘n meerderwarigheid en is baie aanmatigend. So asof die ‘madam’ vir die tuinjong die leviete voorlees. En dan die verpligte polities-korrekte verwysing na ‘n swart persoon ene Jabulani wat die skrywer moet of verskans teen enige klagtes van meerderwarigheid of as bewys moet dien van die persoon se liberale ‘credentials’. Waarom ook enigsins wit ‘tannies’ bykom asof hulle van niks weet nie? Daar is formidabele wit tannies daarbuite. So my kritiek is ongelukkig op die vrou af maar regtig die trant hiervan is ‘n onding wat ek gereeld ook hier in Johannesburg by veral die Engelse ‘madams’ raakloop. En wys mens dit uit dan kan die persoon die kritiek jou werklikwaar nie verstaan nie.

Die Jagter ·

SA is reeds in 1908 gecapture deur Opperman en sy Zionis boeties van JP Morgan, die Britse Kroon en banke.

Niks gaan verander nie. Die land se skuld gaan groter word, die ZAR gaan verder verswak en die elite gaan ryker word terwyl die middelklas meer belasting gaan betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.