Afrikaners is hier om te bly

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Deur Henk Hefer

Die Afrikaner is deur die jare heen beskou as ’n nasie of volk wat vasklou aan sekere, skynbaar niksseggende ideale. Veral die Engelse kon of wou nie aanvaar dat hierdie klomp nasate van die Voortrekkers na ’n eie identiteit gesmag het nie. Twee vryheidsoorloë, twee wêreldoorloë en ’n hele rits sanksies het die Afrikaner net meer vasberade gemaak om ’n eie identiteit te behou.

Om die een of ander rede word die Afrikaner uitgesonder as die wêreld se slaansak wanneer dit kom by dinge soos taal, godsdiens, nasietrots, kultuur, voor- en afkeure en al die ander dinge wat eie is aan ’n trotse volk. Die grootste euwel in die oë van die wêreld is die Afrikaner se beheptheid met sy taal, godsdiens en kultuur. Dit steek hulle dwars in die krop dat dié klein volkie, ná al die aanslae teen hom, steeds bestaan en selfs nog groei.

Dit bring ons by die verskillende groepe Afrikaners.

  1. Die rassis. Dit is diegene wat hul ras verhewe bo alle ander rasse stel. Dit is verreweg die mees gewilde groep wanneer die Afrikaner afgekraak word. Die teendeel is egter waar. Die rassiste verteenwoordig slegs ’n handjievol van die ware Afrikaners. Die AWB se ledetal is ’n sprekende bewys hiervan.
  1. Die klassis. Ook genoem die Afrikaner-snob. Aan hom maak ras nie veel verskil nie, maar wel die aansien en posisie van diegene met wie hy meng en hom vereenselwig. Dié groepie is eksklusief en verteenwoordig seker nie eens een tiende van die Afrikanervolk nie.
  1. Die liberalis, die ou “hanskakie”. Hierdie mense weet eintlik nie waar hulle staan nie. Nóg vis nóg vlees. Hulle noem hulself Afrikaners omdat hulle huistaal Afrikaans is, maar dit is ook waar die ooreenkoms, met die ware Afrikaner, eindig. Hulle word met minagting deur die Afrikanervolk verwerp en hul aansien by ander volke is beperk tot watter mate hulle gebruik kan word om die Afrikaner by te kom. Gelukkig is daar slegs enkelinge wat hulle in dié nikswerd groepie bevind.
  1. Die realis. Hierdie groep is die ruggraat van die Afrikaner en maak verreweg die grootste deel van die Afrikanervolk uit. Dit is diegene wat trots is op eie herkoms, taal, kultuur en godsdiens, maar besef dat die Afrikaner nie in isolasie kan voortbestaan nie. Hulle redeneer prakties en is bereid om geskille en verskille met dialoog en onderhandeling by te lê. Dié groep glo nie in “laertrek” nie, maar sal saamstaan wanneer hulle Afrikaner-identiteit bedreig word. Hulle neem die tradisies en deursettingsvermoë van die volksvaders en -moeders in gedagte wanneer belangrike besluite geneem moet word, maar sal nie blindelings daaraan vasklou as dit die Afrikanervolk kan benadeel nie. ’n Gesonde balans tussen tradisie en aanpassing is vir hulle belangrik. Hierdie groep maak van Afrikanerskap die suksesverhaal wat dit tans is. Dankie daarvoor.
  1. Die dwars-groep. Hulle word meesal, soos by alle volksgroepe, verteenwoordig deur die ouer garde; hulle wat hulle lewe gewy het aan die heil van die Afrikaner en nie altyd die nodige erkenning daarvoor kry nie. Die groep senior burgers is nie baie buigsaam nie en dit is te verstane. Ou gewoontes het ’n manier om te kleef. Ongelukkig is die getalle van hierdie rigtingwysers aan die kwyn en hulle gaan nie meer lank met ons wees nie. Oom, tannie, vir dit wat julle vir ons volk beteken het, kan ons net sê: “Ons salueer julle en hoop dat ons, wanneer ons tyd kom, julle skoene sal kan volstaan.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Oom Boer ·

Nou-ja toe, dan moet ek maar aanvaar ek en ou wederhalfie val onder die Dwars-groep-No 5, maar solank die ou asem nog jaag sal ons maar die ou stoere Afrikaners bly. Baie goeie skryfstuk en samestelling.

Willem Grobler ·

Ja…? Het jy nie iewes langs die pad van die Boere vergeet nie?

Veritas ·

Willem nee. Defnitief nie van die Boere vergeet nie. My doel was om die Afrikaner te klassifiseer. Na my mening val die Boere hoofsaaklik onder die realiste-groep en maak ook ‘n beduidende persentasie van die totale Afrikanerbevolking uit.

Boerseun ·

Het ons almal maar nie ‘n bietjie van meeste groepies in ons nie? Ek is ‘n realis, soms met rassistiese en klassistiese neigings, oor sommige dinge kan ek lekker dwars trek en oor ander voel ek weer meer liberaal. Is ons almal nie maar in ‘n mindere of meerdere mate so nie? Die feit is dat Afrikaners lankal “laer trek” (sien bv. die ongekende groei van ‘n plek soos Orania) en derhalwe hier in Afrika is om te bly – nie omdat ons vol bravado daaroor praat nie, eerder omdat ons dit eenvoudig net doen. Die “ware” Afrikaner is en was nog altyd ‘n doener, ‘n vasbyter, ‘n aanhouer… ‘n wenner.

Henry ·

Stem saam met jou Boerseun.
Afrikaners soos die geskiedenis reeds bewys het, kan nie sommerso in boksies gedruk word nie. Die oorgrote meerderheid van ons vertoon inderdaad kenmerke van elkeen van die 5 groepe wat hierbo beskryf word.

Cilliers ·

Dié opbeurende en gaaf geskryfde indeling het my taamlik ironies laat dink aan die Engelse “From your lips to God’s ears”, maar die Net lewer toe ‘n Jiddisje oorsprong (dalk via Arabies) op wat aardiglik leesbaar is: “fun dayn moyl in gots oyern”.

In ieder geval hoop ek die skrywer is reg, nou en voortaan al hoe meer!

Nic Grobler ·

Henk, ‘n pragtige artikeltjie. Wil jy dit nie oorweeg om dit ook vir plasing op die webwerf van PRAAG te stuur nie? Ek ‘blaai’ soms op die internet rond om iets opbouends te soek om in Afrikaans te lees en kom toe op PRAAG af. Wat ‘n teleurstellende quasi-filosofiese getjommel word nie daar opgedis onder die vaandel van my Boere Afrikanerskap nie! Daar sal sekerlik onder die lesers daar ‘n paar ‘Regte Afrikaners’ wees wat skrywes soos die van jou sal waardeer.

Veritas ·

Naandsê Nic. Dankie vir die kompliment. Ek hou van jou beskrywing van die ‘quasi-filosofiese getjommel’ op Praag se webwerf. Die probleem is dat die skrywers daar, na my mening, oor die algemeen, probeer om te debatteer op ‘n vlak waar meeste Afrikaners ontuis voel. Wat meeste van hulle nie besef nie is dat die deursnee Afrikaner nie belangstel in ‘n akademiese gegogel nie maar in praktiese, verstaanbare Afrikaans. ‘n Taal waarby hulle kan aanklank vind en wat hulle, as Afrikaners, positief oor die toekoms laat voel. Ek stuur graag die artikeltjie aan Praag maar of hulle dit sal publiseer, is ‘n ander vraag. Groetnis, Henk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.