Afrikaners, skrik wakker uit jul winterslaap

apatie

Foto: Lookfordiagnosis.com

Afrikaners het die ongelooflike talent om die “punch te vat”. Ons kan alles verloor en weer sterker opstaan uit die as, maar dit is juis die probleem: Ons moet eers alles verloor voordat ons opstaan en saamstaan.

Hoewel die gevoel van Afrikaner-Nasionalisme weer aan die lig begin kom, gebeur dit te stadig, en natuurlik is die groot vraag: Hoekom het dit in die eerste plek verdwyn? Hier is die redes:

Ná 1994 is die Afrikaner so gekriminaliseer in sy eie land déúr sy eie land dat hy nie weet of hy kom of gaan nie. Ons is ingekort tot ’n “ek is jammer”-volk. Ons het al te bereid geword om so ver agteroor te buig dat ons nou met die gebakte pere sit, en omdat Afrikaner-Nasionalisme verdwyn het, het die houding van en daadwerklike wil om op te staan voordat dit te laat is, verdwyn. Ons mense sal eerder Engels praat as om aan te dring dat hulle in hul eie taal gehelp word. Die gevolg? Ondernemings verskaf nie meer bystand in Afrikaans nie, want niemand gebruik dit nie. Dieselfde geld vir skole, universiteite, en so meer.

Die gevolg van die Afrikaner se laat gaan van sy kultuur, taal en erfenis is dat Afrikaners apaties geword het ten opsigte van die toekoms en oorlewing van hul volk se taal, kultuur en erfenis. As jy mense konfronteer oor die wydverspreide aanval op Afrikaans, word jy vriendelik geantwoord dat daar nie so iets is nie, en dat die taal sterker lewe as ooit danksy die musiekbedryf. Dit word ook verder aan jou gestel dat Afrikaans nie in gevaar is nie. Net die feit dat daar ’n debat is oor die oorlewing van die taal sê mos nou vir jou dat die toekoms van die taal in gedrang is. Kyk maar, daar is nie een Afrikaans-enkelmedium-universiteit oor nie, nie één nie. Maar daar is talle Engels-enkelmedium-universiteite.

Die volgende ding is die verlies van identiteit. Op Stellenbosch kry ’n mens nie meer Afrikaners nie, net “Afrikaanses”. Hoekom is ons mense skaam om te sê hulle is AFRIKANERS? My bors bult wanneer ek dit sê! Ek het die voorreg om te sê ek is ’n afstammeling van mense wat met ’n ossewa oor die Drakensberg is, wat geveg het in die Anglo-Boere-oorlog en vir Afrika gesê het, “Ek is hier om te bly”. Ons moet ons jeug bewus maak van hul identiteit en hul herkoms. Ons moet die ouer geslag herinner wie en wat hulle is. Ons moet besef dat dit tyd is om op te staan en saam te staan vir die toekoms van die Afrikanervolk.

Dan nog nie eens gepraat van skole nie; ja, ons het nog die groot skole soos Affies en Waterkloof. Maar weet die Afrikaanse kinders van daardie skole dat hulle Afrikaners is en wat dit beteken? Of is hulle ook maar net “Afrikaanses” wat nie eens weet dat hulle deel vorm van die Afrikanervolk nie?

Die probleem is egter weereens dat Afrikaners gaan terugsit en sê hulle sal dit doen wanneer hulle ’n leier kry en hierdie leier vir hulle sê om dit te doen. Wel, mense, ons het tans nie ’n leier nie, en ek sien nie dat ons binnekort een gaan kry nie. Hoe dan nou gemaak? Wel, kom ons lei mekaar, kom ons vat hande en trek ’n streep – nie in sand nie maar beton – en sê “tot hier toe en geensins verder nie”.

Afrikaners is verder afgeskaal tot toetsbordkrygers. Gaan kyk net op Facebook, Media24 se webwerwe, en so meer. Ons mense dreig al te lekker oor wat ons bereid en in staat is om te doen, en oor wie en wat die Afrikaner is. Maar ek waarborg jou, reël ek môre ’n optog by Stellenbosch, die UWK, UV of Tuks sal daar nie 50 mense opdaag nie, want dan is al hierdie toetsbordkrygers se mentaliteit skielik “iemand anders kan dit doen”. Wel, word wakker, as ons nie vir onsself gaan baklei nie, gaan niemand anders nie.

Ek laat julle met ’n skryfstuk wat ek onlangs van ’n Afrikanerstudent ontvang het:

“Ek wonder maar net deesdae al meer wat gaan met ons Afrikanervolk gebeur. Dit is net vir my sleg om te sien hoe my mense swaar kry. Hoe ons moet baklei om te bly voortbestaan, hoe dit lyk of ons besig is met ’n nimmereindigende geveg vir oorlewing as kinders van God onder die son van Afrika. Wat dit slegter maak, is die apatie van ons eie mense, ons fantastiese vermoë om nie saam te kan staan vir een doel nie, om nie saam te kan staan vir mekaar nie. Almal sê heeltyd ons kort ’n leier, iemand om ons saam te trek. Dis nie waar nie, ons kort mekaar om die wa deur die drif te trek, nie ’n leier nie. As ek bid, sien ek in my geestesoog ’n lig op die horison, maar daar lê ’n berg voor ons wat die lig van ons af weghou. Dis tyd vir ons om te sê “te hel met die status quo”, met die stadige vergaan van ons taal. Ons mense het trots verloor, vir wie en wat ons is. Die sterk hart van die Arikaner het gaan staan. Maar ek kan nie ophou glo dat dit weer sal klop nie, dat ons weer sal opstaan nie. Hoekom is dit altyd nodig vir ons om swaar te kry om ons volkstrots te vind? Binne my brand ’n vlam, ’n vlam vir my mense, maar dit is my eie mense wat besig is om dit te smoor met hul apatie.

Ek is ’n Afrikaner, maar wat beteken dit? Deesdae is dit net mense wat terugbuig, die kop laat sak in skaamte en jammer sê vir hul erfenis en in ’n toestand van ’n identiteitskrisis leef. Dit kan ek nie glo nie. In my hart glo ek die siel van die Afrikaner kan nie gebreek word nie, dat ons nie sal ingee of opgee nie. Dit voel net vir my of ek die enigste een is tussen al die mense hier.”

Groete

Pieter Burger, ’n derdejaar-ingenieurswesestudent en die voormalige voorsitter van die Adam Tas-studentevereniging.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Werner ·

Die Afrikaner gaan opstaan. Ons gaan binnekort nie ‘n keuse he nie. Die tyd is amper reg en dit gaan natuurlik gebeur. Kan nie wag nie! Ons gaan terug baklei en ons gaan wen.

Magda ·

Soveel woorde en so waar- dit is so dat ons dreig en saampraat ,maar niemand is bereid om die eerste tree te gee om die stryd aan te pak nie. Ons maak liewers ons kinders groot om eendag ,as hul studies voltooi is,weivelde elders te gaan soek.
Dit is maklik om te sê ek sal saam betoog en ek sal my wapens opneem om my mense te beskerm,maar wie van ons is nog bereid om ons lewens neer te lê ter wille van dit waarin ons glo? Hoekom is Malema en sy veldtogte so geslaagd? Want…hy is nie bang om te sê wat hy wil en waar hy wil nie..selfs al kan hy natuurlik onmoontlik alles glo wat hy sê nie.

Adriaan Els ·

Ons is wakker. Deur Afriforum ens, is ons besig om ons eie kultuur te behou. Afrikaans is n pragtige taal. Wat vir my baie ontstellend is, is die toenemende gebruik van Engelse woorde. RSG is so erg dat dit my laat wonder of hulle nie daadwerklik beplan om Afrikaans stadig maar seker af te breek nie. Selfs die skrywer gebruik n lelike woord soos “apatie”. “Impak”, is nou normaal. Op skool hier in Natal het ons dit Pretoria Afrikaans genoem. Pik Botha het in daardie tyd die wonderlike “disinvestering” sommer in my taal ingewerk. Ek dink dat baie sogenaamde Afrikaners eenvoudig te sleg of lui is om Afrikaans te praat.

Therese van Schalkwyk ·

Adriaan, “apaties” is ‘n erkende woord in die HAT wat “onverskillig” of “gevoelloos” beteken. (apatie, simpatie, empatie)

Die skrywer het “apaties” verkies, en ek sou ook in hierdie geval. Afrikaners is so apaties dat dit behoorlik tragies is. Skitterende stuk, Pieter Burger!

Disselboom ·

Stem oor die algemeen saam om mooi Afrikaans bo anglisismes te gebruik, maar iemand het ‘n keer opgemerk dat woorde soos “drink” en “water” mens moet laat besef daar is ‘n onvermydelik band tussen sekere tale en mens nie woorde moet probeer vermy net omdat dit dalk ook in Engels voorkom nie.

Ek stem wel saam dat daar dikwels hoogdrawendheid of sommer net agtelosigheid is wat maak dat mense onnodige verbuigings uit Engels wil gebruik waar daar mooi en verstaanbare Afrikaanse woorde beskikbaar is.

Taal is ook nie staties nie: as dit so was, het Afrikaans nie ontwikkel nie. Dis seker met daardie besef wat mens die vele Engelstalighede en slordige taalgebruik wat ook maar op van die CVO-skole se webblaaie en Facebook-blaaie te siene is, moet verstaan.

William ·

Jy is heeltemal reg oor RSG.Ek dink ons moet begin om die stasie te ignoreer as hulle so aanhou.Neem byvoorbeeld die woord SABC in plaas van SAUK.Dit word gereeld gebruik.

Theresa ·

Dis lekker om ‘n Afrikaner te wees en genoem te word. Mense wat daarmee ‘n problem het, is die een met die probleem. Wat wel waar is, is dat daar talle mense agter die groot gros aanbeweeg, want dis bloot makliker. Die gevolge vir die oomblik vergete. BAIE erg – want dis makliker om dit so te doen. Maar op die ou end as dinge nie lekker werk of is nie, dan besef hul (of dalk nie eers nie) dis beter om ‘n trots te hê, ‘n trots te hou en te bou rondom dit wie jy regtig is. My hart sal altyd glo dat die innoverende volk, die Afrikaners, bo sal bly. Daar is egter miljoene wat ons dit nie gun nie. Dus sal mens inherente krag en sterkte moet behou.

Jaap ·

Ek dink voor die Afrikaner kan opstaan, sal hy eers sy Morele waardes moet regkry. Die Afrikaner het so stil stil al sy waardes verloor. As mens kyk na Andries Pretorius se lewe tydens die groot trek, toe hulle hom gekry het as leier, het hy eerstens gesorg dat daar Goddelike standaarde gehandhaaf word. Hy het geweet, as hulle nie opreg voor God kan staan en Sy hulp vra nie, het hulle nie ń kans nie. As mens kyk na Putin in Rusland, wat ń groot kommunis was, hoe streng hy teen pornografie is, om net een voorbeeld te noem. Hy weet hoe om ń nasie af te breek, maar hy weet ook hoe om ń nasie op te bou.

Bruno Stef ·

Dit gaan nog te goed met die Afrikaner volk baie van ons mense wil op die kantlyn staan en handeklap of kritiseer maar moet die persone tog net nie vra om n positiewe bydrae te maak nie.Self verloening en Jannie jammergat houdings het so eie geword aan sommige se houdings en dit is deur jarelange NP breinspoelings bereik tot ons eie ondergang.SO SKRIK WAKKER.

christa ·

Ek staan al lankal by daardie lyn en wag dat my volksgenote by kom. Daar is al baie wat by daardie lyn in die beton staan en wag.

Herman ·

By CVO skole maak ons nog seker dat ons kinders trots is op hulle geskiedenis. My dogters (15 en 14 jaar) skroom nie om op te staan vir hulle volk nie.

Henry ·

Jackie
Waarom jy jouself geroepe voel om Afrikaners so te beledig, is jou probleem.
My probleem is dat Maroela sulke kru en beledigende kommentaar toelaat.
Aan die ander kant.
Dit is miskien ‘n goeie besluit om nie jou poging te verwyder nie, siende dat dit meer van jou vertel as wat dit van enige waarde is.

Johan 2 ·

Dankie Henry! Dit is net soos mense wat ons beledig deur te sê ons kan nie saamstaan nie. Onder die omstandighede dink ek ons doen goed.

Henry ·

Dankie Johan 2.
Ek dink ook ons doen skitterend, onder omstandighede.

Francois ·

Mense.

Die probleme wat ons ondervind in ons volk is nie uniek nie. Ander lande se mense ervaar dit netso en erger. Saamstaan is n proses en gebeur nooit oornag nie. 2de Vryheidsoorlog het nie net skielik gebeur nie, ook het baie mense nie saamgewerk nie. Daar sal altyd probleme wees met mense wat nie saamwerk nie. Wees geduldig met mekaar. Laat elke persoon se kant skoon wees en moenie die ander een met modder gooi nie. Leiers in ons volk is daar baie en van hoogstaande gehalte. Eenvoudige bewys: oom Flip Buys kon n beweging sien en dit bou wat deur Solidariteit Beweging die Afrikaner se grootste hulp is vandag. Dit vat n leier om so iets te bou. Laat elke Afrikaner so lewe dat God, Volk en Familie op hom trots kan wees.

Winston ·

As ek al die kommentare lees hier is daar soveel uiteenlopende sienings. Heeltemal reg want elke mens se siening verskil van ander of hy stem saam. Ons afrikaner volk het egter gewoond geraak om agteroor te leun om vir ander n plek in die son te maak. Ons het ook n plek daar en ons het ook regte. En ons sal ons nie laat uitdruk of dood druk nie. As jy n volk in opstand wil sien, onderdruk hom. Ons tyd is op pad.

Mike ·

Die Afrikaner is geldgierig en naief glad nie polities bewus nie en loop agter elke politikus aan wat hom die maan en die sterre beloof.

Teleurgesteld ·

Ons probleem is groter as wat ons dink.Ons weet nie meer hoe om saam te staan nie,ons verskille is hopeloos te groot.Ons het nie meer politieke leiers nie tensy ons invoer. Ons het nie genoeg geloof nie tensy al die afrikaners hul bekeer.Ons dink ons is beter as ons buurman,maar ken ons hom werklik.Ons stel net in ons self belang maar wat van ons kinders se toekoms.Ons hoor en lees van moorde,verkragtings,motorkapings,diefstal,bedrog,ens,maar steur ons nie daaraan nie.Weet julle,ons spat uitmekaar tov alles wat ek genoem het en nog meer,jy wat hier lees voel jy nie skuldig nie ? Kom ons vat hande en maak vir ons self n beter toekoms,ondersteun mekaar,help mekaar waar ons kan,wees simpatiek,geen slegte kommentare meer nie en ondersteun die Vryheids Front of Front Nasionaal,as hul n koalisie vorm kan ons baklei vir ons reg om voort te bestaan,ek dank u

Simon ·

Die Afrikaner moet sy wereldse wee laat staan en terugkeer na sy God toe. Maar ek sien nog te veel wat die Rugby aanbid voor hulle televisie skerms en die kroeg is vol op naweke en die kerke leeg. Opstaan, ja ons moet, maar ons moet bekeer dan opstaan.

Peet J ·

Ooreenkomstig die Afrikaner se herkoms en die daaropvolgende geskiedenis van hoe die Afrikaner vanaf die Kaap na die binneland getrek het is dit baie duidelik dat die Afrikaner hom nie deur ‘n ander nasie wil of gaan laat regeer nie. Die saamstaan kwessie is nie ‘n probleem nie laat die kandidate wat bereidwillig is om op te tree as leiers hulle verkiesbaar stel d.m.v. die media dit moet nie polities georiënteerd wees nie sodat alle Afrikaners hulle kan ondersteun. Ek dink bv. aan Pieter Burger en Herman van Solidariteit.

Chris ·

Ons is nie geneties gerat vir saamstaan nie. Maar juis die diversiteit van opinie is die basis van oorlewing en groei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.