Afrikaners, waar is julle?

UJ-betoging-universiteit-Johannesburg

Betogings by die Universiteit van Johannesburg (UJ). Foto: Twitter

Met die onlangse se gebeure op kampusse is die vraag oor waar Afrikaner studente met die betogings was, al tot vervelens gevra en beantwoord.

Die betogings het wel nog iets uitgelig, naamlik waar is Afrikaners oor die algemeen?

Studente, ongeag agtergrond, het met die#FeesMustFall veldtog en masse gemobiliseer en opgestaan vir ‘n kwessie wat hulle raak, eise is gestel en daar is toegegee aan dié eise. Die eise sluit onder meer eise in wat ons as Afrikaners direk raak, naamlik die verwydering van Totius, CR Swart en MT Steyn se standbeelde by die onderskeie universiteite.

Hierdie kwessies raak ons direk, of mense soos ou Max dit wil erken of nie. Dit bedreig ons taal, kultuur en erfenis, want dit gaan oor meer as net die standbeelde. Dit raak ons meer as ‘n wêreldse ding soos geld, dit raak aan ons menswees, dit raak aan ons hart en siel.

Afrikaners, waar is julle? Daar is ‘n petisie wat die rondte doen vir die behoud van MT Steyn en CR Swart se standbeelde. Dit is edel, regtig, maar hoe groot indruk maak dit regtig op die mense wat dit wil sien waai? Ek sal vir jou sê: niks, boggerol! Ja, dit skep by ons as Afrikaners die indruk van: “Kyk, die studente doen iets!”.

Verbeel jou die #FeesMustFall veldtog is gedoen deur middel van ‘n petisie, sou dit dieselfde uitwerking gehad het? Natuurlik nie, dit is mos vanselfsprekend. Die studente sou dieselfde resultaat gekry het, al het die betogings nie ‘n geweldadige klankie bygekry nie. Waarom? Want saamstaan en betoog maak ‘n verskil. Dit het mense bang gemaak, of jy dit wil erken of nie.

Ek kan nou al voorspel wat die ander kamp se antwoord op die petisie gaan wees: “Ag shame, die Boertjies probeer maar”. Waarom, al stry ons hoe hard word ons standbeelde verwyder, ons kultuur en geskiedenis gedemoniseer en dus ook Afrikaners ? Ons is bangatte, dit is waarom!

Waar het ons al met meer as 3 000 mense saamgekom en werklik teenstand gebied? Sover ek weet was die laaste keer 1899. As 3000+ Afrikaners by Kovsies opruk volgende jaar en vreedsaam betoog vir die behoud van die twee ou presidente, gaan Jonathan Jansen dit ernstig heroorweeg om die standbeelde te verwyder.

As ons dit kan regkry, gaan ons meer regkry as om net die twee standbeelde te behou. Ons gaan vir die ANC, SAKP en die EFF wys dat hulle op dun ys loop. Ons gaan dit ook regkry om die 2.7 miljoen Afrikaners in die land te inspireer en te wys die Afrikanervolk is nie iets van die verlede nie, ons is hier en ons gaan nou begin om terug te baklei.

Asseblief, begin om meer te doen as om net petisies te teken. As elke Afrikanerstudent en hul ouers besluit om by Tukkies, Pukke, Kovsies en Maties bymekaar te kom en vreedsaam te betoog vir die behoud van Afrikaans en Afrikaner erfenis by die onderskeie instansies, sal daar ongeveer 120 000 mense wees. Dit sal die #FeesMustfall veldtog soos ‘n kinderspeletjie laat lyk en dit sal opskudding veroorsaak.

Die tragieste ding is mense gaan hierdie brief lees en sê, “Ja, kom ons doen dit! Kom ons staan saam!”, maar daardie gedagte gaan nie verder gaan as die Maroela Media kommentaar nie. ‘n Fantastiese voorbeeld hiervan is die gerugte dat Tuks moontlik Afrikaans gaan skrap!  Waar is ons en wat doen ons hieraan?Ons as Afrikaners dra net al te lekker by tot ons ondergang deur ons apatie.

Pieter Burger

Derde Jaar Ingenieurswese Student, Universiteit Stellenbosch

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Derick ·

Ek dink die Afrikaners vertrek met spoed en in groepe oorsee, waar daar net ‘n tikkie meer beheer en minder onwelvoeglikhede is as hier.

Perine ·

Jou vraag is waar is ons?
Antwoord: Wyd versprei oor die aardbol .
Sommige mag dalk dink dat indien ons nie meer in die land woon nie – ons dalk nie meer belangstel nie of selfs moed verloor het.
Ek dink die meeste van ons stel WEL belang en voel wel aangespreek deur die gebeure van die laaste paar jaar.
So wat verhoed ons om meer pro-aktief te wees?
Daar is n groot behoefte aan n stem wat duidelik namens ons kan praat oor sake wat ons na aan die hart le SONDER om ons ongemaklik te laat voel met rassitiese en/of onverdraagsame ondertone.
Ek stem byvoorbeeld saam met sommige van Steve se standpunte maar omdat hy homself laat assosieeer met mense soos Sunette Bridges kan ek en ek glo ander ook – nie daadwerklik agter hom staan nie.
Ek het met groot belangstelling alle berigte rondom die aksies op kampusse noukeurig gevolg – dit het my veral opgeval dat daar tot vervelens video op sosiale media verskyn wat fokus op die intimidasie. Toe ek soek na video oor afrikaanse studente wat die Totius momument probeer beskerm kon ek niks daarvan terug vind nie.
My advies – begin daar – maak julle stem dik en gebruik sosiale media. Doen dit op n manier wat ons naam waardig is sonder n geskreeu en gevloek – sonder om ons te laat lyk soos onverdraagsame dom boertjies en ek glo julle sal veel meer sukses bereik as n vreedsame betoging van 3000 man.
Elke nou en dan verskyn daar n video waar Afrikaners hulle self wangedra . So iets skep alleen maar n gevoel van skaamte.
Onlangs was daar n insident tussen Afrikaans sprekendes en iemand van die Metro Verkeers polisie. Die taal gebruik en geskreeu sou geen simpatie wek met die internationale gemeenskap nie. Wanneer so iets die wereld ingestuur word toon dit alleen maar dat die vlakke van onverdraagsaamheid by ons nog maar vlak le, dit ondermyn enige meriete wat hulle saak kon he en maak dat die res van ons liewers ander pad kyk.

Pieter ·

Perine

Baie dankie vir jou bydra. Ek voel net asof jy die punt wat ek probeer maak het, heeltemal mis.
Eerstens was my vraag van waar Afrikaners tans is, nie i.t.v geografiese verspreiding nie. Hier is tans ongeveer 2.5 miljoen Afrikaners in Suid-Afrika, ‘n getal wat groot genoeg is om ‘n verskil te maak.

Tweedens, wat ek probeer oordra is juis dat ons NIE afhanklik moet wees van iemand wat die voortou neem nie, want as dit die saak is, gaan ons nog baie lank wag. Dit is tyd dat Afrikaners jonk en oud begin om pro-aktief op te tree as ‘n kollektief, en nie soos skape agter ‘n wagter aan te loop nie. Dit sal ook die gevolg he dat mens elemente soos Sunette Bridges (alhoewel sy goed bedoel) se stem kan verdoof.

Derdens, sosiale media is nie naastenby die uitweg nie, maar dit kan gebruik word ter ondersteuning, maar dit kan nie die grondslag wees van ‘n protes aksie nie. Jy kan die inhoud wat verskyn op sosiale media filter, maar jy kan nie 3000 studente op Stellenbosch se Rooiplein filter nie. As #FeesMustFall ‘n sosiale media aksie was sou dit nie die selfde resultaat gehad het nie. Sosiale media was, word en sal nog deur die veldtog gebruik word om dit te bevorder.

Ons moet nie meer bang wees om en masse saam te staan nie.

Groete
Pieter Burger

Adam Stander ·

Perine, wat het Sunette gedoen dat niemand met haar mag assosieer nie?
Sy hou n lys van name van blankes wat uitgemoor word deur swartes en dis verkeerd?
Sy is besig met n projek om blanke haweloses te help om hulleself te help, en dis verkeerd?
Sy werk letterlik haar vingers stomp vir blankes, en dis verkeerd?
So sy mag nie passievol wees oor haar en my herkoms nie?
Want dan is sy mos n rassis ne.
Die skrywer is reg, ons is n klomp slapgatte, maar die vrou waarvan jy hier praat is dit beslis nie.

Justa ·

Pieter, die Afrikaner kon nog nooit saamstaan nie. Die geskiedenis het dit bewys. Aan die ander kant dink ek die Afrikaner het moed verloor. Hulle probeer net oorleef in n land waar hulle nie meer welkom voel nie en as buitestanders behandel word.

Pieter ·

Justa, dit is so, ek gaan nie stry nie. Maar daar is altyd ‘n eerste keer vir alles. Ek gaan die Afrikaner se huidige posisie met die volgende analogie oordra:

Wanneer gas in ‘n buis gesit word met eenkant wat afgesluit is en die anderkant ‘n saampers silinder het, en daar word geen druk toegepas nie, beweeg die gas se molekules vrylik in verskillende rigtings. As ‘n genoegsame verlaging in temperatuur en verhoging in druk plaasvind, gaan die gas oor na ‘n vloeistof. Hier is die molekules nader aanmekaar en die stof is meer dig, meer molekules begin in die selfde rigting beweeg, maar oor die algemeen is die meeste nog in ‘n warboel. Herhaal die proses weer en mettertyd sal jy jouself bevind met ‘n vaste stof. Hier is die molekules styf saamgepak.

In Suid-Afrika word die druk verhoog en die temperatuur verlaag. Ons is klaar besig om oor te beweeg na die volgende fase. Kyk net na Solidariteit se lede tal, of die Voortrekkers s’n. Of oorweeg net die tipe rubrieke wat besig is om te verskyn.

Alhoewel ons almal verskil het Afrikaners almal eending in gemeen. Ons taal, ons trots en ons erfenis. Ons hoef net saam te staan oor dit, Nie politiek , aan watter kerk jy behoort of vir watter party jy stem nie (Tensy jy ANC/EFF stem).

Johannes ·

En Justa, is dit maar nou dit? Ons kon nog nie saamstaan nie, so ons gooi maar nou tou op en laat alles maar net gaan? Ek weet nie van jou nie, maar om die Engelse uitdrukking te gebruik ” I will go down fists swinging” al is ek die laaste een.

Pieter ·

Ek se dat dit een ding is, want my vir my is daardie drie goed onafskeidbaar.

tyd om te doen-kom los uit passiwiteit! ·

pieter – begin jy net doen – jy is geinspireer – nou moet jy net doen
lees ester en ps37 bid en vra die Here se wil

Henry ·

Gelukkig is dit so dat Justa nie namens my, my pelle, ons familielede, of die meerderheid Afrikaners praat, wanneer die afgesaagde ou sprokie van “Afrikaners-wat-nie-kan-saamstaan-nie”, verkwansel word.

Terloops. Waar en wanneer het ander volkere so geredelik en eensgesind met mekaar saamgestem oor alles, hande gevat en eendragtig hul probleme aangespreek??? Die Britte, Franse, Hollanders, Italianers, Amerikaners, Belge…??? Asseblieftog!!!

En nee wat Pieter Burger. Die probleme op die tradisionele Afrikaanse kampusse is slegs een van ‘n verskeidenheid bedreigings wat ons Afrikaners in hierdie droewe land konfronteer en wat ons op ‘n daaglikse wyse moet bestry. Julle stryd is uiteindelik een van vele.

Gaan gerus terug na die Stellenbosch kampus.

Organiseer en mobiliseer 3000 ondersteuners. Loop doen julle ding en sien hoe dit die siele op die ander kampusse inspireer om geregtigheid te laat seëvier ipv om te teem oor die sukses wat die anti Afrikaanse piete behaal en oor die ondersteuners wat hulle ge-mobiliseer het.

My pelle en ek wag hoeka, hoelank al vir enige noemenswaardige optrede van julle studente se kant om die onheilighede van die huidige regime en hul meelopers aan te spreek. Nie met allerlei slim praatjies en “ag-hulle-makie-reggie” jermiades nie, maar met dade, aksie en magsvertoon soos ‘n mens van jong studente kan verwag wat veg vir dit wat hulle mag verloor.

willem ·

Ek het die land verlaat maar my lot is nogsteeds by die Afrikaner, my mense in SA. Die rede hoekom ek werk in die buiteland is heel eenvoudig. Ek is moeg vir politieke korrekte Afrikaners wat lyk my nie die wil het vir oorlewing nie. Afrikaners kan vinnig bladsye oor Steve se uitlating skryf op sosiale media maar sal niks se oor Zuma se uitlatings dat hy SA na ‘n kommunistiese stelsel lei nie. Hier in die buiteland doen ek tans meer vir my Volk se voort bestaan as baie Afrikaners binne SA. Want dit lyk vir my, Afrikaners oor die algemeen stel meer belang in die volgende fees of wie die volgende Springbok afrigter moet wees as wat hulle belangstel om oplossing te kry vir ons oorlewing. Ons slaap en ek hoop nie dit gaan ‘n oorlog vat om ons wakker te laat skrik nie.

Therese van Schalkwyk ·

Pieter Burger, geluk met hierdie uiters nodige oproep tot “vreedsame betoog”. Stem met elke woord daarvan saam en deel jou frustrasie met die gebrek aan daadwerklike optrede deur Afrikaners. Enige ander nasie wat tot hierdie mate verguis word, sou lankal spontaan in hul duisende opgeruk het. Ons sien tog gereeld die wêreld oor hoe mense geraas maak as iets vir hulle na genoeg aan die hart lê.

Jy is reg, petisies teken is die maklike uitweg. Die tyd is lankal meer as ryp vir ‘n massa-vertoning van honderdduisende Afrikaners wat hul saak helder en duidelik stel. Dit mag nie net ‘n paar verdwaalde siele wees wat beteuterd rondstaan en belaglik gemaak word nie. Na meer as 20 jaar van ANC-regering behoort dit tog vir almal duidelik te wees dat die Afrikaners wat nog in SA woon ernstig is om die land te maak werk. Hulle kan dus nie meer van “laer trek en eksklusiwiteit” beskuldig word nie, selfs al indoktrineer dit ook vir ‘n vale van Naspers en RSG se kant af.

Perine (hierbo) se skrywe beantwoord egter jou vraag en illustreer presies waarom so ‘n Afrikaner-saamstaan nooit gaan realiseer nie. Hy/sy verteenwoordig ongelukkig die gevoel van die meerderheid Afrikaners. Afrikanersake is vir hulle relatief belangrik en plaasmoorde skok hulle dalk nog so bietjie, maar moet tog net nie dat ons ons vir “julle” skaam oor “wangedrag” nie. Ons “assosieer nie met mense soos Sunette Bridges nie” en kritiseer eerder van die kantlyn af. Selfs al is dit duidelik dat Bridges meer empatie in haar pinkie het as al die “Perines” tesame.

Sterkte, Pieter. Dis verblydend dat daar jongmense soos jy in SA is. Mag jy sukses behaal met jou poging.

Elmarie ·

Dankie Pieter vir Afrikaners soos jy. Daar is hopeloos te min van jou soort daarbuite. Ons kan saamstaan en iets bereik, elke Afrikaner kan met hom/haarself begin, bure, vriende, en familie. Staan een dag af van jou lewe EN DOEN IETS VIR ONS NASIE.

charmaine ·

Is dit ook nie maar omdat ons nie grootgemaak en groot geword met sulke gedrag van breek af, plunder, brand af en gooi stukkend nie? Ons, soos ons geslagte voor ons het geleer gaan skool, leer hard, werk hard om iets van jou lewe te maak niks kom verniet nie. Ja dit is waar ongelukkig is ons n nasie wat nie kan saam klippe optel en vensters stukkend gooi nie en gebou af brand nie.
Ons is geleer jy bou op, jy bele in iets vir jou nageslag, werk hard, spaar en bele jou geld vir kinders en kleinkinders.

Waar is die Afrikaner? hard besig om hard te werk ons families veilig te hou deur al hierdie chaos prober ons net kop bo water hou ons kinders deur matriek en universiteit te kry om dalk vir hulle n goeie toekoms te bied in hier donker SUID AFRIKA.

Frank Pretorius ·

Ek hou nie van konflik nie. Ek wil nie regtig in ‘n straat gaan stap met ‘n plakkaat nie. Ek wil nie uitdagende swart massas of polisie met traangas en rubber koeels met my plakkaat van ontevredenheid konfronteer nie. Ek is juis in hulle visier. Hulle soek ‘n verskoning om my te ‘tackle’. Ek kan verstaan hoekom ons afrikaners nie in massas opdaag om ons ontevredenheid te wys nie. WANT ons het meer om te verloor in so ‘n konfrontasie … hulle kan laer daal as jy…

OK, so wat KAN ons doen as ons nie wil optogte bywoon nie?

Gebruik jou brein! Jou intellek.
Het jy al ooit gedink wat sal gebeur as die HELE Pretoria se afrikaners vir 3 maande ophou om hul munisipale belasting te betaal? CHAOS! Dit sal uitmekaar val. En daar is nie veel risiko vir jou nie…
Hou op om nuwe karre te koop, want so skenk jy belasting aan ZUMA. Koop jou kos by ‘n boeremark – geen belasting. Sink ‘n boorgat en deel hom met die bure reg rondom jou, deel ook die koste. Deel jou huisbediende en tuinwerker met die bure reg rondom jou. Minder uitgawes en minder vreemdes in jou omgewing, minder taxis. Ek is seker daar is ‘n hele paar ouditeurs wat fantastiese kreatiewe idees kan gee om jou belasting ondersteuning aan die staat tot die minimum te beperk. Besef julle nie deur te lewe soos ons lewe is ons besig om die sisteem te ondersteun en aan die lewe te hou nie.

Glo dit as jy wil of nie MAAR hulle is afhanklik van ons!

Jy hoef nie te gaan betoog in ‘n optog nie.

Jy kan betoog met die manier hoe jy lewe.

Betzie ·

60 % banggat , misleibare blankes het in 1992 ja vir die ANC gestem . Die gevolge van daardie kapitulasie lei direk tot die riool-tsunami wat ons in toenemende mate tref . Ons is dermate verswak dat elke verset-stemmetjie soos mis voor die son verdwyn .

tamboti ·

Betzie bravo! en ander geleerde vriende; Afrikaners wil nie saamstaan nie omdat hulle bang is om rassiste wat laer trek, genoem te word.
Ek is nie bang nie, om jou volk se voortbestaan te verseker vereis rassisme, aanvaar dit, maak vrede daarmee. Die buiteland en almal wat nie Afrikaner is nie, glo net dit van ons. Jammer aan almal wat dit probeer toesmeer.
So leef dit uit of begin engels praat, ‘joiners’ sal nooit weer die mag terug wen nie.

Dee ·

En Betzie, dieselfde 60% ja-stemmers waarvan jy praat probeer nou hulself verskoon en hul eie gewetes salf deur FW sleg te sê asof die referendum met slegs een stem gewen is.

oud puk student ·

Ons het a vreedsaam saa gestaan en betoog by die puk. Honderde, as dit nie duisende studente was nie, swart en wit en bruin AFRIKAANSE studente, vir die behoud van Afrikaans, so netna dai Dan oorgeneem het.

niks is verwoes nie, en studente wat om my geloop het het hande gevat met mekaar en vreedsaam gewees, die wat wou rasisties wees en wou verwoes is gou uitgeskyf en still gemaak op n vreedsame manier.

Ons memorandum is oorhandig aan Dan voor die kantoor waar daar net nou die dag deur ‘ander studente groepe’ wou ingebreuk word. En alles is voorgele en bespreek. Ek onthou ons het toe uitmekaar gegaan terug klas toe en gedink daar sou na ons eise geluister word. Tog nie.

ons was te wit, te vreedsaam en manierd, te rustig en te beskaaft om na geluister te word. Ons het nie genoeg geskree, gevloek en klip gegooi nie, ons was nie beledigend genoeg nie, ons het niks aan die brand gesteek nie. Daar was nie genoeg konflik tussen ons en die swart mense wat saam met ons gestaan het nie. Daar was niks nuuswaardig aan ons betoging nie, ons was maar net studente wat gedoen het wat normaal behoort te wees, ons het sy aan sy met ander gestap vir ons taal op n vreedsame manier.

Ek weet nie hoe dit op ander plekke in die groep gelyk het nie, maar waar ek gestaan het was dit soos ek beskryf het, vreedsaam en soos normaal behoort te wees. Maar normaal en beskaafdheid gaan niks verander in ons abnormale onbeskaafde land nie.

En ek weier om soos die abnormale en onbeskaafde massas op te tree om iets hier reg te kry. En daarvoor is ek baie jammer. Ons kan saam staan, maar wat help dit as ons nie ‘conform’ tot hullr manier van goed doen nie?

(Verskoon my swak spelling, eks deel van die generasie wat lelik in die steek gelaat is deur ons ‘nuwe, beter Suid Afrikaanse kurukilum’)

Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi ·

Oud-Puk, jy slaan die bal mis. Prof Kgwadi (die visekanselier wat jy bloot Dan noem) ondersteun nie gewelddadige betogings deur studente nie. Daarom het hy streng teen studente opgetree by die Mafikengkampus van die NWU. Hy het die afgelope week weer in The Star hom sterk teen die afbrand van geboue uitgespreek en gesê dit is onaanvaarbaar dat mense beter fasiliteite vra, maar dan afbrand wat hulle wel het. Hierdie standpunt maak hom nie gewild onder sommige studente nie.
Verder: Hy en die res van die topbestuur luister inderdaad na Afrikaanse studente se versoek om Afrikaans op die Potchefstroomkampus. Daarom kan studente steeds hier in Afrikaans klas loop. Ook volgende jaar.
Teen hierdie agtergrond is dit darem baie jammer dat daar mense is wat prof. Kgwadi in eposse en elders op ‘n kras manier beledig. Is dit die taal van beskaafde Afrikaners?
En, oud-Puk, leer maar om alle mense, ook diegene van wie jy verskil, op ‘n eerbiedige wyse aan te spreek.

Pieter ·

Boerie, alle betogings draai nie so uit nie. Ek was deel van die betoging ‘n week voor dit waar 200 Afrikaanse studente saam betoog het vir die behoud van Afrikaans. Ons het geloop, ons memo oorhandig en uitmekaar gegaan. Vreedsaam, ordelik en met dissipline .

Hoe jou betoging uitdraai word bepaal met die houding wat jy dit betree. Ons het daar 200 sterk gestaan, en ons het Afrikaans effektief terug gebring na Elsenburg.

LD ·

Ek begin al hoe meer dink ons behoud is om terug te val Kaap toe. Die groot trek terug. In n demokrasie gaan die klein groep nie n kans staan nie. Hoe gaan 2.5 mil se belange in pas by 40 mil ander wat nie n saak het met jou nie. Dis onmoonlik vir almal om dit te doen, maar as mens genoeg Afrikaanse mense in een provinsie kan kry wat dan kan aan dring op ‘n meerderheid dan het mens darem ‘n kans. Jy kan sien dat die taktiek al lank teen die DA ook gebruik word, as die DA ‘n distrik wen met ‘n verkiesing dan vergroot die ANC net die distrik sodat meer mense daar inval en daar wen die ANC weer die verkiesing. Saam staan gaan verg dat ons genoeg is om dit te doen, ons is te versprei om te kan saam staan.

Dee ·

So, jy stem saam met die DA vir regstellende aksie en grondhervorming en waarlikwaar probeer jy meer stemme werf vir hulle.

LD ·

Umm nee, die DA voorbeeld is om te wys hoe n minderheid sal moet saam staan en genoeg getalle te he dat die taktiek nie gebruik kan word nie. Die kaap was my voorstel oor dit ‘n groot getal Afrikaanse mense het. Maar Dee gee vir my asb ‘n voorstel van jou eie hoe dink jy gaan ons die probleem benader?

Dee ·

Alles behalwe deur bloot ‘n ander liberalistiese groep te ondersteun, LD. Ek vertrou jou ook nie want jy begin deur te sê ‘nee’ en daarvandaan, veral jou laaste sin, vertel my jy soen Zille se voete.

Die onderwerp was nie mý siening maar of jy mense vanaf die ANC probeer lok na die identiese DA. Jy is egter steeds vry om my eie mening te vra en my mening sal ook die beoogde ‘Boerestaat’ uitsluit want dìt word beoog binne die hartjie van swartland. Ek sal dit slegs ondersteun as dit kuslyn met ‘n moontlikheid van ‘n hawe sou insluit. Dàn sal ek veg en werk daarvoor! Andersins moet ons hoop en veg om toegewing van ‘n land (anders as Europa wat besig is om te vermoslem!) om ons toe te laat as vlugtelinge. En moet nie ‘n storie opsit dat ek wil hardloop want ek praat is is logika. As jy dink dat ons teen Afrika, Sjina en die res van ons vyande kan veg, leef jy in droomland.

[email protected] ·

So jou oplossing is om n volkstaat teen die kus te begin in SA goeie idee hoe?
Of om land uit te gaan en almal saam te vat daar dan Afrikaans te bevorder basies Perth? Want die Afrikaanse gemeenskap groei by die dag daar?

Pas my voorstel nie tussen in jou twee oplossings nie maar dankie vir jou gedagtes oor die saak eks sal nou van die punt af stap jy weet als van almal jy weet tot wat ek stem.

Disselboom ·

Dis goed om te sien dat die jong Afrikaners self na vore kom, dink en debatteer; en praat oor optrede. Die fokus van die gedagtes is steeds pogings tot behoud van dit wat daar is; gaan dit help, aangesien dit maar steeds net ‘n smeking rig tot ‘n regering wat aan bewind is om dat die mag aan hom oorhandig is, en duidelik die Freedom Charter en ander kommunistiese doelwitte deurdryf. Is die trek hierdie keer terug Kaap toe, of Orania of Kleinfontein toe, of moet ons in die debat ook die opsie bespreek om met weerstandige daadkrag en ons vermoëns te benut om langs die puinhoop van amptelike regeringsinstellings ons eie dinge te doen – en nie daar ver nie, maar hier waar ons regtens woon en dit bly beset.

Dee ·

Heeltemal reg Disselboom. Waarom Kaap toe trek om daar saam met die DA te gaan stem vir regstellende aksie en grondhervorming. Die wat dit graag wil hê kan maar van hul huise af by die ANC stem daarvoor.

Nicola Blignaut ·

Al wat ek kan sê is ek is trots om n Afrikaner te wees. Ek sal saam staan, sê net wanneer en waar en ek is daar. Ek wil nie hê my taal moet uit sterf nie. Ek wil help, weet net nie waar om te begin nie. Ek glo en vertrou op die Here, Hy gaan ons red. Hy het dit een keer gedoen Hy sal dit weer doen.
Ek glo ons kan dit saam doen.

Koos ·

Ek weet net as my Afrikanerkind in die kamer wegkruip terwyl die res van die studente betoog vir ‘n gesamentlike doel sou ek my morsdood skaam. Ek praat nie van anargie en chaos nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.