Al sou die vyeboom nie bot nie

Natani-en-haar-verloofde-Charl

Natani en haar man, Charl. Foto: Verskaf.

Maroela Media se redaksie het gekies om die rubriek in Natani se eie taalgebruik te hou, om seker te maak haar eie woorde en boodskap word suiwer aan die leser oorgedra. -Red

Natani Gerber van Durbanville, Kaapstad skryf:

Eergisteraand kon ek amper niks slaap nie. Heelnag deur het ek bly bid en smeek vir die Here dat Hy die reën moet stuur. Dit het amper gevoel asof ek inderwaarheid stoei en worstel met die ding. Amper soos Jakob in die Bybel wat ʼn hele nag lank met ʼn engel gestoei het. Dis hierdie water ding. Dis omdat my foon se “Weather App” wys dit gaan kom reën. Van Vrydag af al hou ek die dae se voorspelling dop, ek raak kinderlik opgewonde oor die 60% reënwolkies en druppels wat met die ure nader kom. Maar nee. Dit kom nie. Die wolke kom dwaal net hier bo ons koppe rond, en dan waai hulle weg. Of hulle idle die hele dag en nag hier en dan vat hulle hulle pie en waai. Wil niks reën gee nie.

Vandat Kaapstad se burgemeester haar aankondiging gemaak het dat Dag Zero nie meer ʼn moontlikheid is nie, maar eintlik onafwendbaar, het die mense mal geraak. Dis ʼn sielkundige ding, dis daai survival mode. Dis mos die basiese en eerste vlak van Maslow se hiërargie. Jy moet eet, drink, slaap. Ensovoorts.

Ek en Charl loop gister in Spar, ons koop toe ook maar ʼn paar bottels 5ℓ water vir emergency drinkwater as die pawpaw die fan strike. Ek vra vir die cashier, “Koop die mense baie water?” “Joh! Mevrou wil nie eers weet nie. Hulle koep bokse van twentie op ʼn slag. Hele dag gaan dit al soe,” sê sy.

‘n Reënwolk sak met ‘n bui reën uit oor Phoenix, Arizona in die VSA. Foto: Kevin Dooley/Flickr.com

Van die water warriors op die Facebook-bladsy “Water Shedding Western Cape” is nogals ernstig oor die storie. Ek is ook, maar ek’s darem nog nie mal nie. Die een meisie plaas ʼn “before” en “after”-foto. Ja, sy het self haar mooi lang poniestert gaan afknip. Rekkie en al. Plaas nogals die foto van die arme verwerpte hare wat sy afgesny het, ná hulle jare lank getrou op haar kop gebly het. Sy staan trots en smile met haar kort krulle op haar kop. “Alles wat ek sal doen vir water spaar,” sê sy. Mense sê, “Oeee jy lyk mooier met die kort hare!” Maar ek dink hulle verwonder meer haar moed as enige iets anders. Ander vrou sê “elke keer as ek my kraan oopdraai raak ek paniekerig as ek dink aan Dag Zero”.

Dan hoor ek weer daar was ʼn bakleiery in Makro, mense slaan vuis oor 5ℓ-water op special. Die een ou wou al die water koop, toe wil ander mense ook hê. “Nee,” sê hy, “dis alles myne.”

Mense is bang. Hulle is bang vir siektes, hulle is bang vir die onbekende. Hulle is bang vir die tyd wat hulle gaan moet maak om in lang rye te gaan staan vir water. Hulle is ook bang vir die moeite. Maar, ander is kwaad vir die government. Ander span weer hulle breins in en maak allerhande sommetjies oor hoe lank jy by die waterpunt gaan staan en dink aan al die probleme. “Logistical nightmare” word in elke tweede sin genoem. Dan is daar weer die DIY-manne, hulle is my favourite soort. Hulle maak planne, en wys graag hulle tips en tricks. Ek gaan self só ʼn tip volg, jy koop ʼn 8ℓ- pressure sprayer wat mense gewoonlik vir gif of vir jou tuin gebruik (of so iets wat mans buite op ʼn Saterdag doen) en dan sit jy ʼn stortkop op en dan kan jy stort in jou eie waterdoeltreffende stort, met soos drie liter water. Die een ou sê hy is baie trots, hyself, sy vrou en seuntjie het almal gestort, en hare gewas met agt liter water. Darem nou nie almal gelyk nie. Dis nou impressive hoor, ek gaan dit definitief probeer.

So ja, mens kan kwaad wees en jy kan bang wees en jy kan dat jou emosies met jou weghol, maar dit gaan niks verander nie. Dit gaan ook nie reën bring nie. So nou sit ons in die penarie, daar is blykbaar minder as 80 dae van water in ons krane oor. Van water in die dam. Daarna kry elke persoon 25 liter water per dag. Daarby moet jy dit gaan haal by ʼn afhaalpunt. Not a pretty thought.

Ek dink die goeie wat hier uit kom, is dat mense ʼn bietjie van ʼn reality check gekry het, en besef hoe belangrik en kosbaar water is, en om dit spaarsamig te gebruik, en nie te mors nie. Nog ʼn positiewe punt is dat mense besef ons is nog altyd afhanklik van God. Al is jy hoe ryk en al bly jy in die grootste paleis, jy kan nie jou geld eet of drink nie.

Ek glo ook dit help ons as mense om saam te staan en mekaar te help in tye van nood. Dis so mooi om te sien van jong manne wat nou al aanbied om ouer mense te help water dra sou dié dag aanbreek. En dan laastens, ʼn bietjie suffer het niemand nog skade gemaak nie. Mens leer gewoonlik goeie goed daaruit, dit maak jou weer dankbaar en dit gee jou empatie en deernis vir die armer mense wat daagliks uit emmers water lewe en hulself en gesinne was, en aan die lewe hou. ʼn Mens is maar net ʼn mens.

Maar om terug te kom by my punt. Soos ek toe nou die reën te wagte is, pleit ek by die Here dat dit net asseblief moet kom. Ek bid al van laasjaar af dit moet reën, soos in behoorlik. Maar iets van daai sielkundige malligheid en oorlewingsinstink het gemaak dat dit my gedagtes oorneem. Dis warm in die kamer, dankie tog ons het aircons. Ek sit naderhand die aircon af want ek wil hoor as daai eerste waterdruppel die aarde tref. Ek wil dat dit in my gemoed insink en my volmaak van blydskap. Maar nee. Niks. Nie een druppel val nie. Ek hou my foon se “weather” dop. Volgens dit moet dit nou reën. Dit lyk soos reën, dit ruik soos reën, ek proe dit al, maar niks. Ek het met klomp vraagtekens en ʼn dowwe hoofpyn uiteindelik aan die slaap geraak.

Deur die nag het die gesnork langs my, en my katte se middernagpartytjie my kort-kort wakker gemaak. Dan staan ek op, trek die gordyn oop en soek vir daai weerkaatsing van water op die nat sement. Niks. Dorre droë siel. Dit voel of ek uit ʼn vliegtuig gegooi is in die woestyn met ʼn bek vol sand.

Toe ek die oggend wakker word, toe praat die Here met my deur die volgende woorde:

natani-al-sou-die-vyeboom-nie-bot-nieNet daar sê ek jammer. Oh you of little faith. “Ek sal jou mos nooit los nie,” het Hy gesê. “Vertrou my net.”

Jammer Here dat ek soos ʼn ongelowige mens begin worry het. Ja, mens moet spaar en ja, mens moet saamwerk, maar ek dien ʼn God van wonderwerke, en watter wonderwerk sal dit nie wees as Hy ons reën stuur en ons damme volmaak nie. Almal sal weet, dit was nie Mandela, die Pope of enige ander mens nie. Dis net God wat dit kan laat reën.

Ek het nog later die oggend die son gevloek omdat hy alweer op my kop skyn, maar gister is ek toe met ʼn vol hart werk toe. Nie vol van water of reëndruppels nie. Nee, vol van hoop en geloof vir die onwaarskynlike.

En net vandag sien ek toe daai “On This Day” van Facebook. Kyk wat het ek presies ʼn jaar gelede geshare, julle almal onthou dié video nè?!

natani-stofberg-se-weg-video

Grafika: Verskaf.

So om af te sluit. Ek glo ons reën gaan kom, want die Here is nooit te laat nie, en Hy weet wat ons kort. Hy weet ook daar bly nou soos dubbeld soveel mense in die Kaap as 20 jaar terug, en Hy het die means om vir ons te sorg.

Reënseisoen of nie – ons moet net GLO!

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
christa

Ons moet net vertrou en bid sonder ophou. Ons dien ‘n God van wonders, Hy ken al ons probleme maar wil he ons moet Hom alleen aanbid en op Hom alleen vertrou.

Esme

Pragtig – baie dankie dit is bemoedigende woorde.

Tess

mooier as mooi-DANKIE

Casper Labuschagne

Kroonstad het enkele jare gelede ‘n dag zero bereik waar geen water meer in die damme was nie en die Valsrivier se vlakke so laag was dat die pompe nie meer kon werk nie. Ons het deurgekom vanweë twee faktore, mense van orals het water na Kroonstad aangestuur, en ook het honderde plaasboere daagliks water tenke (wat hulle gebruik teen veldbrande) by hul boorgate volgemaak en water aangery dorp toe. Maar bowenal was daar ‘n yskoue Woensdagoggend in Augustus waar etlike duisende mense voor sonsopkoms op ‘n brug oor die Valsrivier gebid het. Heeltemal buite die normale reënseisoen het daardie… Lees meer »

Andrea

Ek kry veral dié diere wat nie sorgsame eienaars het nie, jammer as ek dink hoe hul sukkel met die dors…