Al sou die vyeboom nie bot nie

Natani-en-haar-verloofde-Charl

Natani en haar man, Charl. Foto: Verskaf.

Maroela Media se redaksie het gekies om die rubriek in Natani se eie taalgebruik te hou, om seker te maak haar eie woorde en boodskap word suiwer aan die leser oorgedra. -Red

Natani Gerber van Durbanville, Kaapstad skryf:

Eergisteraand kon ek amper niks slaap nie. Heelnag deur het ek bly bid en smeek vir die Here dat Hy die reën moet stuur. Dit het amper gevoel asof ek inderwaarheid stoei en worstel met die ding. Amper soos Jakob in die Bybel wat ʼn hele nag lank met ʼn engel gestoei het. Dis hierdie water ding. Dis omdat my foon se “Weather App” wys dit gaan kom reën. Van Vrydag af al hou ek die dae se voorspelling dop, ek raak kinderlik opgewonde oor die 60% reënwolkies en druppels wat met die ure nader kom. Maar nee. Dit kom nie. Die wolke kom dwaal net hier bo ons koppe rond, en dan waai hulle weg. Of hulle idle die hele dag en nag hier en dan vat hulle hulle pie en waai. Wil niks reën gee nie.

Vandat Kaapstad se burgemeester haar aankondiging gemaak het dat Dag Zero nie meer ʼn moontlikheid is nie, maar eintlik onafwendbaar, het die mense mal geraak. Dis ʼn sielkundige ding, dis daai survival mode. Dis mos die basiese en eerste vlak van Maslow se hiërargie. Jy moet eet, drink, slaap. Ensovoorts.

Ek en Charl loop gister in Spar, ons koop toe ook maar ʼn paar bottels 5ℓ water vir emergency drinkwater as die pawpaw die fan strike. Ek vra vir die cashier, “Koop die mense baie water?” “Joh! Mevrou wil nie eers weet nie. Hulle koep bokse van twentie op ʼn slag. Hele dag gaan dit al soe,” sê sy.

‘n Reënwolk sak met ‘n bui reën uit oor Phoenix, Arizona in die VSA. Foto: Kevin Dooley/Flickr.com

Van die water warriors op die Facebook-bladsy “Water Shedding Western Cape” is nogals ernstig oor die storie. Ek is ook, maar ek’s darem nog nie mal nie. Die een meisie plaas ʼn “before” en “after”-foto. Ja, sy het self haar mooi lang poniestert gaan afknip. Rekkie en al. Plaas nogals die foto van die arme verwerpte hare wat sy afgesny het, ná hulle jare lank getrou op haar kop gebly het. Sy staan trots en smile met haar kort krulle op haar kop. “Alles wat ek sal doen vir water spaar,” sê sy. Mense sê, “Oeee jy lyk mooier met die kort hare!” Maar ek dink hulle verwonder meer haar moed as enige iets anders. Ander vrou sê “elke keer as ek my kraan oopdraai raak ek paniekerig as ek dink aan Dag Zero”.

Dan hoor ek weer daar was ʼn bakleiery in Makro, mense slaan vuis oor 5ℓ-water op special. Die een ou wou al die water koop, toe wil ander mense ook hê. “Nee,” sê hy, “dis alles myne.”

Mense is bang. Hulle is bang vir siektes, hulle is bang vir die onbekende. Hulle is bang vir die tyd wat hulle gaan moet maak om in lang rye te gaan staan vir water. Hulle is ook bang vir die moeite. Maar, ander is kwaad vir die government. Ander span weer hulle breins in en maak allerhande sommetjies oor hoe lank jy by die waterpunt gaan staan en dink aan al die probleme. “Logistical nightmare” word in elke tweede sin genoem. Dan is daar weer die DIY-manne, hulle is my favourite soort. Hulle maak planne, en wys graag hulle tips en tricks. Ek gaan self só ʼn tip volg, jy koop ʼn 8ℓ- pressure sprayer wat mense gewoonlik vir gif of vir jou tuin gebruik (of so iets wat mans buite op ʼn Saterdag doen) en dan sit jy ʼn stortkop op en dan kan jy stort in jou eie waterdoeltreffende stort, met soos drie liter water. Die een ou sê hy is baie trots, hyself, sy vrou en seuntjie het almal gestort, en hare gewas met agt liter water. Darem nou nie almal gelyk nie. Dis nou impressive hoor, ek gaan dit definitief probeer.

So ja, mens kan kwaad wees en jy kan bang wees en jy kan dat jou emosies met jou weghol, maar dit gaan niks verander nie. Dit gaan ook nie reën bring nie. So nou sit ons in die penarie, daar is blykbaar minder as 80 dae van water in ons krane oor. Van water in die dam. Daarna kry elke persoon 25 liter water per dag. Daarby moet jy dit gaan haal by ʼn afhaalpunt. Not a pretty thought.

Ek dink die goeie wat hier uit kom, is dat mense ʼn bietjie van ʼn reality check gekry het, en besef hoe belangrik en kosbaar water is, en om dit spaarsamig te gebruik, en nie te mors nie. Nog ʼn positiewe punt is dat mense besef ons is nog altyd afhanklik van God. Al is jy hoe ryk en al bly jy in die grootste paleis, jy kan nie jou geld eet of drink nie.

Ek glo ook dit help ons as mense om saam te staan en mekaar te help in tye van nood. Dis so mooi om te sien van jong manne wat nou al aanbied om ouer mense te help water dra sou dié dag aanbreek. En dan laastens, ʼn bietjie suffer het niemand nog skade gemaak nie. Mens leer gewoonlik goeie goed daaruit, dit maak jou weer dankbaar en dit gee jou empatie en deernis vir die armer mense wat daagliks uit emmers water lewe en hulself en gesinne was, en aan die lewe hou. ʼn Mens is maar net ʼn mens.

Maar om terug te kom by my punt. Soos ek toe nou die reën te wagte is, pleit ek by die Here dat dit net asseblief moet kom. Ek bid al van laasjaar af dit moet reën, soos in behoorlik. Maar iets van daai sielkundige malligheid en oorlewingsinstink het gemaak dat dit my gedagtes oorneem. Dis warm in die kamer, dankie tog ons het aircons. Ek sit naderhand die aircon af want ek wil hoor as daai eerste waterdruppel die aarde tref. Ek wil dat dit in my gemoed insink en my volmaak van blydskap. Maar nee. Niks. Nie een druppel val nie. Ek hou my foon se “weather” dop. Volgens dit moet dit nou reën. Dit lyk soos reën, dit ruik soos reën, ek proe dit al, maar niks. Ek het met klomp vraagtekens en ʼn dowwe hoofpyn uiteindelik aan die slaap geraak.

Deur die nag het die gesnork langs my, en my katte se middernagpartytjie my kort-kort wakker gemaak. Dan staan ek op, trek die gordyn oop en soek vir daai weerkaatsing van water op die nat sement. Niks. Dorre droë siel. Dit voel of ek uit ʼn vliegtuig gegooi is in die woestyn met ʼn bek vol sand.

Toe ek die oggend wakker word, toe praat die Here met my deur die volgende woorde:

natani-al-sou-die-vyeboom-nie-bot-nieNet daar sê ek jammer. Oh you of little faith. “Ek sal jou mos nooit los nie,” het Hy gesê. “Vertrou my net.”

Jammer Here dat ek soos ʼn ongelowige mens begin worry het. Ja, mens moet spaar en ja, mens moet saamwerk, maar ek dien ʼn God van wonderwerke, en watter wonderwerk sal dit nie wees as Hy ons reën stuur en ons damme volmaak nie. Almal sal weet, dit was nie Mandela, die Pope of enige ander mens nie. Dis net God wat dit kan laat reën.

Ek het nog later die oggend die son gevloek omdat hy alweer op my kop skyn, maar gister is ek toe met ʼn vol hart werk toe. Nie vol van water of reëndruppels nie. Nee, vol van hoop en geloof vir die onwaarskynlike.

En net vandag sien ek toe daai “On This Day” van Facebook. Kyk wat het ek presies ʼn jaar gelede geshare, julle almal onthou dié video nè?!

natani-stofberg-se-weg-video

Grafika: Verskaf.

So om af te sluit. Ek glo ons reën gaan kom, want die Here is nooit te laat nie, en Hy weet wat ons kort. Hy weet ook daar bly nou soos dubbeld soveel mense in die Kaap as 20 jaar terug, en Hy het die means om vir ons te sorg.

Reënseisoen of nie – ons moet net GLO!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

christa ·

Ons moet net vertrou en bid sonder ophou. Ons dien ‘n God van wonders, Hy ken al ons probleme maar wil he ons moet Hom alleen aanbid en op Hom alleen vertrou.

Casper Labuschagne ·

Kroonstad het enkele jare gelede ‘n dag zero bereik waar geen water meer in die damme was nie en die Valsrivier se vlakke so laag was dat die pompe nie meer kon werk nie. Ons het deurgekom vanweë twee faktore, mense van orals het water na Kroonstad aangestuur, en ook het honderde plaasboere daagliks water tenke (wat hulle gebruik teen veldbrande) by hul boorgate volgemaak en water aangery dorp toe. Maar bowenal was daar ‘n yskoue Woensdagoggend in Augustus waar etlike duisende mense voor sonsopkoms op ‘n brug oor die Valsrivier gebid het. Heeltemal buite die normale reënseisoen het daardie selfde nag ‘n wolkbreuk plaasgevind en was die Valsrivier van wal tot wal vol water.

Natani ·

Dankie Casper, dis hoe ek ook glo – dat God gaan deurkom waneer mense dit die minste verwag. Mense se kommentaar en kommer en kritiek teenoor Hom sal weg gewas word deur die stortvloed as die hemele open met die reën waarvoor ons bid.

Andrea ·

Ek kry veral dié diere wat nie sorgsame eienaars het nie, jammer as ek dink hoe hul sukkel met die dors…

Reynier ·

Dankie Natani. Ek glo volkome in Jesus. Wat in die Kaap of ander plekke gebeur, die droogte, is God se oordele oor mense wat verskriklik afgedwaal het van Sy weë. Gebede sonder ware bekering en die belydenis van sonde en dit te laat staan , beteken nie veel nie. Jesus sien elke dag al die vreeslike sondes. Hoe kan Hy dit ongestraf laat. Goeie raad. Mense kom na Jesus in opregtheid en maak reg met Hom. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Hy wil vir ons reën gee, maar daar is so min mense wat werklik hul lewens wil verander. As my hart so seer is oor al die sondes, myne inkluis, hoe moet ons Here Jesus nie voel nie. Hy het immers vir alle mense van alle aan die kruishout gesterf. Kom mense. Kom ons eer Hom en maak reg met Hom.

Han ·

Reynier, ek sê AMEN! op jou kommentaar. God verwag opregtheid in die harte van mense.

Hannah ·

Ek bly reg langs die see… ek sit en verwonder my ELKE dag oor hierdie magdom van water wat HY ‘n streep voor getrek het. Ek loof HOM elke dag vir die SY genade en die voorreg om hier te kan bly. Natani dit was so verfrissend om jou skrywe te lees… so dankbaar dat ons wel besef dat HY is die een wat die reen terughou… die Skrif is duidelik daaroor – HY sal weer die sluise ook oopmaak. HEB 13 : 5 “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Jacobus de Bruyn ·

Besonderse artikel, dankie.

Tog kan ek net nie help om te wonder nie…
My vrou spoor ‘n ou koerantberig op van uit 1990 êrns. Daarin waarsku hulle ernstig dat Kaapstad se water teen 2020 op kan wees. Die redes wat hulle genoem het was maar een van die veranderde klimaat en moontlike droogtes. Nog ‘n paar ander redes is genoem soos die toestroom van mense.
Werk die Here dan nie ook deur ons verantwoordelikhede nie? Wat het die regeerders (van bo tot onder) van 1990 af nou al gedoen om die krisis te hanteer. Die Here het gewaarsku, maar niemand wou luister nie.
Ek onthou hoe ons in die Aardrykskunde klas ook geleer het van ‘n komente krisis en die planne wat in plek moet kom – soos ontsoutingsaanlegte. Hoekom miljoene Rande se stadions gebou vir 2010 se sokker, maar geen ontsoutingsaanlegte nie.

Dis reg en goed om te bid – ons moet, maar hoekom het ons nie geluister toe die waarskuwings gekom het nie?

Mari ·

Ja ek stem saam met jou. God waarsku ons sodat ons voorsorg kan tref. Josef was gewaarsku deur die uitleg van n droom van die sewe maer jare. Die rede : hy kon die skure vol koring maak. Wat het Kaapstad gedoen met God se waarskuwing?

Anton ·

Pragtige woorde Natani ! HY alleen is Almagtig. HY alleen is die Verlosser en HY alleen gaan ons verlos van die droogte as dit Sy Wil is. Daar is n groter droogte in ons land as n tekort aan water en ons kan net daarvan verlos word deur die bloed van Jesus ! Maranatha!

Willie ·

Natanie! Dankie vir die mooi rubriek om almal van ons weer terug te bring na ‘n druppel water op ‘n stofpad. Wat baie mense nie besef nie is dat soveel natuur elemente moet saamwerk om vir ons reën te bring. Die son moet warm skyn oor die seë om water verdamping te laat plaasvind en in die lug te laat opstyg. Dan het ons wind nodig om daardie damp bymekaar te waai om wolke te vorm. Die wind waai hierdie wolke dan binneland toe waar dit as reënbuie uitsak. Die gebed van die regverdige het groot krag. Ons bid dat ons liewe Vader al hierdie natuur elemente laat saamwerk om reën op die regte tye en hoeveelhede uit te stort na die behoefte van elke dorp in Suid Afrika. Vader! Ons vra asseblief vir 100 persent damvlakke in die Wes Kaap en in die res van ons pragtige land. In Jesus Naam vra ons Here! Ons prys reeds U Naam vir die reën wat oppad is! Ons dank U reeds daarvoor! Amen!

Sandra ·

Natani is reg, ek sê elke dag vir almal wat kan en wil hoor – ‘We live by faith and not by sight’ want wie anders kan ons help, dis net God Almagtig. Die mense skarrel soos miere rond en fokus op die ‘natural’ i.p.v die ‘supernatural’. Dankie Maroela dat julle sulke boodskappe ook plaas. Ons land moet in orde kom en die knie buig want ons dien ‘n God van orde. Maak reg SA, die rëen kom! God sal uitkoms gee aan Sy kinders.

Karin ·

So mooi en raak beskryf. Net ‘n voorstel – kan alle Kapenaars nie elke dag 12 uur vir 30 sekondes tot stilstand kom en bid nie? Soos die kanonskoot op Seinheuwel afgaan……

nella smith ·

*Ek is van NAMIBIE – en ons het baie Familie /Vriende in die Wes Kaap. Ek wil net vir almal se In ons GEBEDE onthou ons altyd vir S.A – So n mooi en pragtige land en kan byna nie glo waardeur dit nou gaan nie. Iets wat ek waarneem is dat daar nog nie BIDDAE VIR REEN gehou is nie. Dit beteken dit moet afgekondig word en Niemand werk die sekere Dag nie en almal in verskillende GELOWE BID VIR REEN die Dag. en kom bymekaar in Groepe, Kerke en verootmoedig hulle voor die Here. Ons doen dit so in NAMIBIE. Sterkte ons dink aan almal in hierdie Nood.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.