Alle dwelmverslaafdes lyk nie só nie

Foto ter illustrasie. Foto: Nik Shuliahin/Unsplash

Na aanleiding van twee voorvalle wat tans baie dekking geniet en waar dwelms betrokke is, wil ek graag my verhaal as gewone ma met lesers deel. Ek verkies om anoniem te bly. 

Dit was ‘n gewone dag toe my selfoon een oggend by die werk piep. Die boodskap was kort, maar kragtig. “Jou kind is op dwelms.” Naamloos.

Ek het gaan sit en na my foon gestaar. Hoe, wie, wat? Ek het net twee kinders. ‘n Seun en ‘n dogter. Watter kind? My dogter het self kinders, sou sy so onverantwoordelik wees? Nee, Here, asseblief net nie dit nie. Haar kinders is klein. Sou dit my seun wees? Nee, kan nie wees nie. Ek het hom die naweek gesien en al het hy bietjie gewig verloor, was hy homself en daar was nie fout nie.

Kan dit ‘n verkeerde nommer wees? Beslis, maar dit krap aan my.

Ek bel die nommer en ‘n man antwoord. Ek ken nie die stem nie. Ek val sommer net weg.

“Meneer, ek het hierdie vreemde boodskap gekry van dié nommer af. Kan jy asseblief verduidelik of net se na wie jy soek?”

Hy noem my op my naam en my knieë begin bewe. Hoe ken hy my?

Hy sê dat hy jammer is dat hy die boodskap aan my moes oordra, maar hy is bekommerd oor my seun. My seun? wil ek skreeu. Nee, Here, dit kan nie wees nie. Hy is oukei. Ek sien hom so een naweek per maand en hy is oukei. Die man begin praat en ek luister, want ek is skielik stom.

“Jou seun is al ‘n geruime tyd op dwelms. Hy werk lang ure, gebruik die middel om wakker te bly en meer ure in te sit. Hy is besig om uit te brand en hy kan nie so aangaan nie. Hy eet en slaap min en dit gaan sy tol eis. Praat asseblief met hom.”

Ek kry my asem terug en sonder veel woorde sê ek net dankie en lui af.

Nadat ek ‘n bietjie rustiger geraak het, bel ek my seun. Ek draai nie doekies om nie, want nou, ná die skok is ek kwaad. Ek wil weet, nóú!  Ek ken nie dwelms nie, ek weet nie eens hoe die goed lyk nie. Niemand in my familie gebruik dit nie. Ons is dan kerkmense, ons is goeie ouers met streng waardes. Waar, hoe, het ons iets verkeerd gedoen?

Hy ontken dit. Ek is woedend en sê vir hom ek kom deur, want ek gaan hom laat toets. Hy skop daarteen en verseker my dat as hy op dwelms was, hy nie meer ‘n werk sou gehad het nie. Ek begin hom glo, want hy is my kind. My vlees en bloed. Ek het hom grootgemaak.

‘n Paar weke gaan verby en my foon lui.

My kind het inmekaargesak en is per ambulans hospitaal toe. Ek jaag deur. Hy lê op suurstof. Die dokter praat met my.

“Mevrou, jou kind is ondervoed en uitgeput. Hy werk te hard. Hy moet afskaal. Hy het hartkrampe gekry. Ligte hartaanval, maar as hy nie gaan eet en rus nie, kan die volgende een fataal wees.

Nee, Here, wil ek skreeu. My kind is 22 jaar oud.

Ná ‘n week se herstel is hy terug by die werk en ek praat mooi. Seun, eet asseblief, werk minder ure, jou liggaam kan nie so aangaan nie.

Drie maande gaan verby.

Een aand kry ek weer ‘n oproep. Jou kind is in die hospitaal. Weer inmekaargesak. Ek jaag weer deur. Dié keer nie so ernstig nie, maar hy is siek. Hy is maer. Ek vra vrae en my kind knak en begin huil.

“Ma, help my asseblief. Ek kan nie meer nie. Ek is al twee jaar op dwelms. Ek het gejok soos alle druggies maar doen.”

Ek het my kind laat bedank uit sy werk, sy woonstel ontruim en hom saam met my huis toe gevat. Daar het ons hel begin. Hy wóú ophou. Ek het nagte om by hom gesit. Hy het ontrekkings gekry. Ons het saam geskreeu, saam gehuil, saam gebid. Bedags het ek iemand betaal om na hom te kyk. Snags het ek oorgevat. Ek het min geslaap.

Drie maande later was ons daardeur.

Dit is nou 10 jaar later. Hy is 10 jaar skoon.  Hy is ‘n suksesvolle besigheidsman en dit gaan goed met hom. Hy gebruik wel nog voorgeskrewe medikasie vir depressie as gevolg van die dwelms, maar hy cope goed daarmee.

Dit bring my by die punt van mense wat vra: “Hoe is dit moontlik dat ‘n onderwyser op dwelms kon wees en die skool het dit nie geweet nie” Die volgende vraag is: “Hoe het vriende en familie dit nie agter gekom nie?”

Mense wil glo dat verslaafdes soos dom goggas moet rondloop. Waterige oë moet hê, stadig praat, bewerasies kry…

Nee, nie noodwendig nie. My kind het gewig verloor, dis al! Hy was normaal soos ek en jy. As sy liggaam nie ingegee het nie, sou ek dit nie geweet het nie.

Ek het met ‘n skok uitgevind van ons vriende gebruik dagga. Ek wou dit nie glo nie. Hulle was normaal. Dagga sê vir my dis mense wat giggel en vlieënde olifante sien. Nee, dit is ook nie oral die geval nie. Ek ken die mense jare. Goeie beroepe. Goeie kinders. Gewone netjiese huise…

Dwelmverslaafdes is nie noodwendig stadig of vertraag nie. Hulle leer om te jok. Hulle steek dit ongelooflik goed weg. As jy niks weet van dwelms af nie en nie die tekens ken nie, gaan jy dit nie weet nie. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Genieve ·

Dis altyd n moeilike situasie om uit te kom maar as n mens heerlik is dan help die Here en ons as ouers kan net ons kinders ondersteun in so n geval waarin hulle hulp soek.

pietie ·

So waar, self beleef, my mooie seun van 24 gebruik ook dwelms pragtige kind niemand sal ooit kan glo nie, want hy lyk so normaal soos ek en jy . Daar is ongelukkig geen veskil tussen die persoon wat medikasie misbuik en die persoon wat dagga of ander “dwelms” gebruik nie ewe onwettig ewe gevaarlik

Kol ·

My sister is n verslaafde. Sy word 41 en woon nog saam my ouers. Sy lieg en bedrieg, jok vir mense om geld in die hande te kry. Con vir n lewe. Ongelukkig sien mens dit net as jy buite die boks staan. Hartseer en baie moeilik vir alle partye betrokke.

Wiekus De Beer ·

Ons is in ‘n bediening wat spesialiseer in dwelmverslawing. Die probleem is baie groter en raak meer aspekte van die samelewing as wat ons besef. Van laerskool tot professionele mense. Dit is ‘n multimiljoen rand besigheid in SA. My raad: As jy selfs net ‘n geringe vermoede het, laat toets jou kind. Rehabilitasie beloop R6000 tot R8000 per maand vir 8 maande. Voorsorg is beter as nasorg

Onkundig ·

Ek het my dogter op 29 jarige ouderdom aan die dood afgestaan weens dwelms en sy het n 8 mnde oue baba ook agter gelaat. Ek ken vandag nog nie dwelms of die tekens daarvan nie. Die eerste wat die mense se as jy dit agterkom, dis die ouers se skuld??? Dit maak seer want ek wens my kinders net die beste toe, en dwelms is NIE die beste nie. My hart is seer om dit te lees, maar die wereld se jong kinders van vandag is baie meer blootgestel aan dwelms en so baie gebruik dit. wens ek kon vir elkeen help om daarvan ontslae te raak. Maar dis n lang en moeilike pad, myne was 8 jaar!!

Ronel ·

Dis ‘n hartseer en n pad deur die hel wat ‘n ouer nie kan beskryf nie, sewe jaar terug het ek die oproep gekry om te se my seun is aan heroine verslaaf, hy het na sy ouer sus toe gegaan en by haar hulp gaan vra, dit was ‘n dag na sy 22’ste verjaarsdag. Sy, wat gelukkig n paramedikus was, het hom ingevat, hom deur ontrekking gehelp, hom weer leer eet, want die H het sy hele gestel verbrokkel, deur elke stap van absolute hel saam hom vir drie maande, vandag kyk ons terug, volgende week is dit 7 jaar wat hy skoon is, en ek het n kosbare vriend in die regsbedryf wat my laat besef het, dwelm verslawing tref nie onderskeid op ouderdom, geslag, ras, of status nie, dwelm verslawing kies sy slagoffers sonder onderskeid. Die jong man wat saam my seun groot geword het, en hom ook aan H voor gestel het se ouers het alles verloor om hul seun te red van een rehabilitasie tot die volgende, hul besigheid, hul huis, en onlangs sy moeder self haar lewe toe hy geweldadig haar aangerand het en sy omgekom het aan n hartaanval. Wees dapper, dis nie ‘n ouer se skuld maar wel ‘n ouer se hel. Sterkte

Lille ·

Ek leef saam met ‘n alkholis. Die ‘aanvaarbare’ dwelm. Dit is nie maklik nie. Hy het ‘n jaar terug sy werk verloor as gevolg van sy verslawing. Hy het inkomste van huur van eiendom, so hy voel hy hoef nie te werk nie. . Ek ry elke dag huis toe in vrees, want ek weet nie wat wag vir my nie. Ek probeer om my kinders te beskerm teen sy geskel, maar kry dit nie altyd reg nie. Ek wil net so graag genoeg bymekaar kan kry om ‘n deposito en een maand se huur te kan betaal.
Die “aanvaarbare” dwelm verwoes ook lewens…

R ·

Dagga en alhohol is dieselfde. Geen verskil nie, die effek is net effe anders. Een maak jou hiperaktief en die ander een rustig. Die rede hoekom dit so slegte stigma het is omdat mense nie weet wat dit is en hoe dit werk nie. Jou olifante laat sien? Ag asseblief, laat alkohol jou olifante sien? Nee. En terloops, ek is in n professionele bedryf en ek kan jou belowe meer as die helfde van die mense rook amper daagliks dagga. Is dit goed vir n mens, sekerlik nie, maar hoe is dit anders as alkohol? Myns insiens, as jy niemand om jou skade aan doen nie, en ook nie jouself nie, dan is daar geen rede om te kommer nie.

Die ander harder dwelms moet mens baie mee versigtig wees. Mens raak maklik verslaaf en dit beheer jou lewe.

charmaine ·

Lille, jy moet daaruit kyk hoe woes gaan die geweld teen vrouens en kinders. Ek ken nie sulke goed nie maar die afgelope tyd hoor ons so baie van vrouens wat swaarkry onder mishandeling. Ek is die laaste person om vir jou te se wat om te doen, maar ek glo as jy die regte hulp en mense nader gaan daar iemand wees wat jou kan help. Moenie jou en jou kinders se lewe op die spel plaas vir iemand wat jou nie waardeer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.