Lesersbrief: Alles is nie reg in Suid-Afrika nie

paadjie-in-ierland

‘n Paadjie in Ierland. Foto: Verskaf.

Skarrelkind van Ierland skryf:

Ek het die skrywe in verband met die groener weivelde van ander lande, “Die gras is toe nie groener elders nie”, interessant gevind. Ek verstaan egter nie die doel van die skrywe nie.

Ek gaan aannames maak en vra: Is dit een of meer van die volgende redes?

  • Jy is werklik hoopvol en wil almal bemoedig om deel te wees van die oplossing;
  • Jy wil nie hê meer mense moet die land verlaat en gapings in die ekonomie laat nie;
  • Jy weet nie van beter nie (wat ek sterk betwyfel)
  • Jou lense is net eenvoudig rooskleurig;
  • Jy probeer jouself oortuig.

Om watter rede jy ook al die stuk geskryf het, een ding is gewis: Alles is nie oukei in Suid-Afrika nie.

Op sosiale gebied gaan dit power in Suid-Afrika. Dis ʼn gemors. Dit maak nie saak wat die Instituut vir Rasseverhoudings opdis nie. Ek gaan nie ʼn lang storie maak nie: Penny Sparrow, die Spur-insident, ensovoorts. Wit mense word uiters onregverdig behandel en dit lyk nie vir my of dit beter word nie.

Ons is almal besig om te ontaard as gevolg van die geweldige sosiale spanning waar onder ons voortdurend verkeer.

En hoe pas Suid-Afrikaners nie meer kultureel aan by Europa nie? Europa is deurtrek van vreemdelinge. Hulle bring kos, taal en kultuur saam. Daar was twee weke gelede ʼn kerkbasaar in Dublin en Amazon UK verkoop Freddy Hirsch-biltongspeserye in hulle aanlynwinkel. ʼn Mens kies om aan te pas of nie.

Jou opinie in verband met die ekonomiese faktore is, met alle respek, ongegrond. Ierland byvoorbeeld is duur. Die minimum loon per uur is ongeveer €9,50. As die twee van ons elkeen 40 uur per week werk, is ons lewenskwaliteit bykans wat dit in Suid-Afrika was. As ʼn mens nou ʼn ordentlike werk kry, meer in ʼn mens se veld, dan is die lewenskwaliteit beter as wat dit vir ons in Suid-Afrika was. Plus ʼn klomp ander pluspunte, wat ek nie in Suid-Afrika het nie.

“Vir wat,” vra die skrywer. Dis eenvoudig: Vir veiligheid en vryheid. Vir eerstewêreldse standaarde, al moet ʼn mens soos jy sê, jou standaarde aanvanklik effe verlaag en alles wat jy ken agterlaat.

Om jou lewe daar agter te laat, verseker vir jou ʼn lewe hier. Vir ons was dit ʼn “no brainer”.

Jy verwys na misdaad as ernstig, maar ʼn mens moet die bul by die horings pak en maar die beste daarvan maak. Hoe? Hoe maak jy die beste van ʼn ouer/eggenoot wat wreedaardig deur ses gewapende mans vermoor is? Moenie dat vrees jou vries nie – met ʼn 9 mm teen jou kind se kop? Dis nonsens, niemand behoort in vrees te lewe en hulleself maar tot die beste van hulle vermoë te beskerm nie.

As ek hierdie gru-stories hier vertel, dan sê baie vir my dat dit onmoontlik is dat dit op enige plek op aarde só wild kan wees. Hulle ken dit nie. Hulle glo dit nie. Een verkragting in Ierland maak sulke opslae in die media dat mens vir ʼn hele week niks ander nuus hoor nie. In Suid-Afrika is moord en verkragting algemeen.

En polities gaan dit nie te sleg nie want ons kan darem nog die president kritiseer? My liewe aarde, die man het ʼn staatskaping toegelaat, miljoene gesteel en het honderde kriminele klagtes hangende teen hom; en ons kan nie van hom ontslae raak nie. Wanneer sou jy dink dit gaan regtig sleg? Etniese uitwissing? Plaasonteinening? As die wisselkoers ZAR R50 vir €1 is?

Die vraag is dus nie of dit groener is nie, die vraag is of alle Suid-Afrikaners kan aanpas in weivelde wat anders proe, en of hulle sukkel om gewoond te raak aan die smaak en verkies om, ten spyte van wat alles in Suid-Afrika verkeerd loop, eerder aan die bekende smaak van die Karoobossie te wei.

En dis goed so, elke mense doen die beste wat hulle kan. Hulle gaan, hulle bly, hulle skerp sekuriteit op en byt vas, kies die pad en kom terug, as hulle wil.  Elkeen moet self kan besluit en nie veroordeel word nie.

Maar daar is baie groener weivelde, en ʼn mens maak opofferings om ʼn nuwe lewe te begin, maar ek weet daar is ʼn 95% kans dat ek nie ʼn gewelddadige dood aan die hand van kriminele gaan sterf nie.

Ons gaan ook nie hongerly nie en die weer kan oorkom word. En dit is genoeg vir ons vir nou.

En terloops, Europese bier proe baie beter as plaaslike bier (dit was net ʼn grap!).

Sterkte aan almal. Ons lees gedurig Suid-Afrikaanse nuus en dink aan julle.

Hierdie brief is verkort om by die voorgeskrewe lengte vir briewe te pas – Red.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Disselboom ·

In blote praktiese huidige terme is Skarrelkind natuurlik reg oor die verskrikkinge wat ons in Suid-Afrika beleef. Daar is ook wel ‘n groter vraag, soos as die Voortrekkers bv nou nie binneland toe getrek het nie, en nie volhard en deurgedruk het nie, daar ooit ‘n Suid-Afrika sou gewees het wat toe in die 20ste eeu vir bv heelwat Hollanders ‘n heenkome gebied in die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog nie; en as daar nie hard geveg en gewerk is in eeue en dekades nie, sou die voorspoed om in te leef van die 1950 – 1980’s nie beskikbaar gewees het nie. As ons voorouers net elkeen na homself en sy eie gesin gekyk het, was daar nie ‘n Suid-Afrika nie. Wat van ons verantwoordelikheid teenoor ons nageslag? En gaan lees bietjie die Ierse geskiedenis: daardie land waar Skarrelkind nou so veilig woon, is ook voorberei en reggekry deur mense wat opgeoffer het.

Paul ·

Dis eintlik erg ironies dat jy noem oor hoe Ierland “voorberei” is in die konteks van emigrasie, Disselboom.
Ken jy self die geskiedenis van Ierland. Dis ‘n geskiedenis van ‘n krimpende bevolking vanaf die middel 1840s tot in die 1960s. Die bevolking is vandag nog nie eers weer so hoog as wat dit was in die 1840s nie.
Teen 1890 het meer as 40% van al die mense wat in Ierland gebore is, nie meer in Ierland geleef nie. Byna die helfte van die land se bevolking het geemigreer in minder as 50 jaar, en die massa-emigrasie het voortgegaan tot in die 1960s.

Disselboom ·

Paul – korrek, Ierland het ‘n geskiedenis van emigrasie, wat dit ‘n land maak wat gretig is vir immigrasie, beide vir indiwidue en besighede. Jou beklemtoning van die emigrasiegebeure steun egter die eensydige uitkyk wat woonplek net vanuit die indiwidu en kleingroep soos gesin beskou, maar nie die ander kant, naamlik die wat daar bly woon het en die land aan die gang gehou het, se noodsaaklike rol bekyk nie.

Disselboom is nugter daaroor dat elke mens en elke gesin en familie (en besighede) eie omstandighede het, en keur nie verskuiwing tussen lande as sodanig af nie, maar die gesprek is onvolledig sonder om te verantwoord wie dan die land waarnatoe uitgewyk word, in stand moet hou.

Zak ·

Baie goed gestel Skarrelkind. Ek het ook die vooreg gehad om die veiligheid en gemoedsrus van n 1ste wereld land te ervaar. Toe besluit ek om terug te kom SA toe. Groot fout, berou dit nou na 10 jaar.

bollie ·

Ek ook!! Ek is bitter spyt ek het huis toe gekom. Vir die jong kinders wat klaarmaak met skool…VERLAAT hierdie land!! Sosiaal en ekonomies doen jy jouself ‘n enorme guns. My vriende het my aangemoedig om terug te kom en nou sit hulle almal in europa! Permanent.

Verwonderd ·

Ek was net ‘n bietjie meer as 2 jaar in Engeland, dmv ‘n werksvisa so 10 jaar gelede. Soms wens ek werklik ek het maar eerder daar agter gebly. Die artikel herriner weereens aan hoe weerloos ons in ons eie land geword het. My persoonlike opinie is: as ons nie ons eie toekoms kan bestuur nie, ons geen toekoms het nie. Mense van geweld/ mags lus het geen medelye met die Afrikaner nie. Dankie vir die artikel, dit bring ‘n soberheid aan ons realiteite.

ZA in BE ·

Skarrelkind is reg. Dis n groot opoffering om jou land te verlaat Niemand doen dit omdat hulle dit WIL doen nie. Wie sou nou al hulle vriende, familie en land willekeurig agter laat as hulle nie basies gedwing word om n beter toekoms vir hulle kinders te soek nie. Dis nie altyd maklik of lekker nie maar n mens maar opofferings vir jou kinders. As SA se toekoms so sleg gelyk het nie sou ek raai 95% van die Saffas wat land uit is graag dadelik terug wou kom. Helaas lyk dinge nie so goed nie. En dit is BAIE jammer.

SakrrelKind ·

Goeie middag aan julle almal, baie dankie vir julle belangstelling en kommentaar, groetnis

Henry ·

Dankie vir jou raak insigte Skarrel ou Kjeend!
Bly daar en skep vir jou en jou gesin ‘n veilige, nuwe huis en haard.
Die Iere se Guinness is in ieder geval lekkerder en beter as die namaaksels wat hier aan ons voor gesit word.

Woestynkind ·

Goeie leesstof en so waar.

Kyk om in buiteland te werk en leef is groot aanpassing. Familie en vriende is ver. Ons mis hulle, mis die natuur, wimpy burgers, braai …..

Maar op die einde van die dag – hier het geld meer waarde, jy kan met min geld baie verder kom, darem bietjie spaar, publieke vervoer is betroubaar en veilig en BEE word nie in ons kele afgedruk.

Daar is niks erger as mense huis toe was en daai “tyd om te groet” breek aan. Mens sien die seer in ons ouers se oë, ons harte breek maar na ñ besoek tuis weet mens jy is ñ kans op ñ beter toekoms gegun – en mens kan dit nie deur jou vingers laat glip.

Dit was ñ skok om vinnig ñ bietjie in SA te kuier – alles is vrek duur en misdaad en geweld is buite beheer.

Mag die Here SA genadig wees want dit gaan beroerd.

Dit was en bly een van die moeilikste keuses ooit maar defnitief was dit die regte een.

SkarrelKind ·

Dankie Woestynkind vir jou mooi reply. Jy verstaan so goed – ons voel presies dieselfde. Gaan jou goed.

pie in the sky ·

Skarrelkind jy verdien n Oscar vir jou skrywe! Na n geruime tydperk oorsee, moes ons terug vir ouers wat terminaal siek is, en is geskok oor hoe erg die paddas in hierdie kookpot al gewoond geraak het aan die borrelende water… Dis elke dag ontstellend om te sien hoe dies wat agtergebly het bedeesd voortsleep asof net mooi niks verkeerd is in hierdie Animal Farm nie. Intussen is SA byna op alle vlakke verwoes en die sg “Reënboognasie” net nog n gestorwe politikus se droom. Bly waar julle is en byt vas want hier sink die skippie vinnig!

SkarrelKind ·

Pie in the Sky, baie dankie, ons druk maar deur. Ons harte is in Afrika – sal altyd wees, maar ons is bly dat ons die skuif gemaak het, en bevoorreg. Pas julleself mooi op.

SkarrelKind ·

Henry, ek sien jou kommentaar en mooi wense nou eers. Baie dankie vir die bemoedigende woorde (in mooi Afrikaans). Gaan jou goed, wees veilig.

Johan Neuteman ·

In die jaar van herdenking van die reformasie (31 Oktober 1517 – Luther se 95 stellinge en wat alles daarop gevolg het), is dit besonder aktueel dat ons in Suid-Afrika nog een voorreg het wat elders al baie verflou het: om gereformeerde kerke in veelvoud te hê waar die wonderlike evangelie van God se genade nog openlik gepreek word. Ook al baie verflouing in eie geledere, maar my beskeie ervaring van Europa (en neem aan Ierland maar dieselfde trant) is een skaarsheid van kerk en om Christus te aanbid. Suid-Afrika in baie opsigte woes, en tog nog besonder geseënd met kerklike teenwoordigheid, en Afrikaans ‘n wonderlike geskikte taal om gereformeerde belydenis uit te druk. My kerk is kragtige oorweging dat ek nog nie kans sien om te vlug en elders te gaan woon nie. Dis waar my skat is, ongeag die vele bedreigings.

SkarrelKind ·

Johan, dankie vir jou kommentaar. Ek is is nie gelowig nie, en ek verstaan jy is, maar die kerk (as ek gelowig was) kan my nie die vryheid en veiligheid van Ierland verseker nie. Die Iere is Katolieke – iets waarmee ek my in elk geval nie sou kon vereenselwig nie. So vir ons maak dit nie regtig ‘n verskil nie. Die Iere is wel oor die algemeen goeie mense wat bereid is om te help en nie maklik veroordeel nie. Dit maak die aanpassing makliker.

Meatloaf ·

Mooi opgesom. Na ons uittog 1994 om in California lewe te hervat, het my oudste dogter, toe 18 besluit om haar studies in SA te hervat, skaars twee maande in die VSA. Ons was hartseer oor haar besluit, maar moes verstaan. Sy het toe ook haar groenkaart twee jaar later dus verloor. Na haar studies het sy haar man ontmoet, drie jaar later getrou, en ons kleinkind is vier jaar later gebore. Ons het elke twee jaar gaan kuier, en toe al besef sy sou nooit in Amerika wou kom woon. Uiteindelik, na 18 jaar besluit hulle om Suid-Afrika te verlaat. Na vele huisbrake, n hijack, en gebeure wat ek nie hier wil noem, het ek hul gesponser vir groenkaarte wat toegestaan was n paar maande gelede. Hul aankoms hier maandag 28 Aug. Ons jare van bekommernis als tot n einde. Al ons kinders, kleinkinders vir die eerste maal saam.

SkarrelKind ·

Meatloaf, julle tel seker die laaste dae af – hoop alles verloop goed vir julle gesin, geniet dit, ek is regtig bly vir jou.

rassie ·

Skarrelkind, Woestynkind en almal van julle wat daar anderkant ‘n toekoms gevind het. Ek is bly vir julle part as julle vir julself en jul kinders ‘n goeie toekoms gevind het.

Eientlik is julle net soos jul Voortrekker voorouers. Hulle het almal ‘n beter toekoms gesoek. Die enigste verskil tussen hulle en julle is dat die ossewa stadiger as die vliegtuig was.

Die Afrikaner volk gaan julle nie help om ‘n goeie toekoms te verseker nie. Hulle is nog eers te besig om onder mekaar te stry oor wat die toekomsvisie moet wees.

Geniet dit net daar anderkant.

SkarrelKind ·

Rassie, ek voel ook so, my voorouers het Nederland verlaat vir beter – ek dink die Afrikaner se voortbestaan gaan gebasseer word op kleiner gemeenskappe, buite SA, wat taal en tradisie behou, al is dit in die verte. Mens kan elders woon maar mens se hart klop nog altyd Afrika, sal ook altyd so wees vir ons.

Hermanus ·

As iemand uit hierdie droewige land kan wegkom en ‘n nuwe toekoms elders kan bou, gun ek dit opreg aan so ‘n persoon. My hart wil skeur oor wat aangaan met my land asook my volk. Wat my egter grensloos grief is dat die oorgrote meerderheid Afrikaners en blankes wat na 1994 kón, gevlug het uit Suid-Afrika ná hulle in 1992 ons land by die stembus in ellende laat verval het. Verseker is die gras groener op baie ander plekke as donker Afrika en almal met verstand besef dit. Ek sê geensins dat die briefskrywer aandadig was aan wat met ons land nou gebeur nie maar vir elke ja-stemmer van 1992 wat nou knus in die buiteland woon kan ek absoluut géén respek hê nie. Daar is derduisende van ons wat nee gestem het destyds wat nie die geleentheid gehad het of ooit sal hê om te ontsnap van hierdie omstandighede nie. Dis tragies ironies, maar dis die wrange realiteit.

SkarrelKind ·

Die Nee-stemmers is uitgelag in my tyd, ons is as agterlik bestempel. In in ‘n mate sou ‘n NEE stem meer bloed vergiet het, maar ek hoor jou lied en ek stem saam. Ons is uitverkoop en wegggegooi. Kyk nou …

anton ·

Ek wou 8 jaar gelede ook s.a verlaat het en my planne was mooi agter mekaar.
Noodloos om te sê het een persoon dit verongeluk en kon ek nie verstaan hoekom dit nie kon werk nie want vandag sou ek soveel verder aanbeweeg het in n ander land.
Nou dat ek ouer as 50 is, is dit bitter moeilik om die land te verlaat want jy word gesien as oud en oor die muur, wat ek beslis nog nie is nie.
Ek maak dit nou my missie om die land weer te probeer verlaat en hoop om oor 18 maande dit te kan doen.
Dit is nie maklik om alles wat jy n leeftyd aan opgebou het, net so te laat gaan nie maar jou veiligheid en menswees ens. tel op die einde baie meer as dit.
Ek wil beslis nie oud word in n land waar niks meer goed is behalwe die natuurskoon en die weer nie.

SkarrelKind ·

Anton, ek weet nie wat jou omstandighede is nie, maar daar is heelwat Suid-Afrikaners wat in hulle 50’s Ierland toe gekom het en met ‘n bietjie gesukkel en aanpassing nou hier woon en werk. Moet Ierland nie mis kyk nie. Ek kan jou meer inligting stuur as jy wil.

Rooiwillem ·

Skitterende opsomming skarrelkind. Ek is al 10 jaar in Australië en nog nie een dag teruggekyk nie. Ek het ook nie gesukkel om voete te vind of ordentelike bier te leer drink nie. Almal doen wat hy moet en sy lewensplanne pas. Ons vergeet vinnig ons voorvaders was self swerwers en wêreldburgers van Duitsland, Nederland, Indië, Maleisië, Frankryk en baie ander lande af. Ek lees wyd en Suid-Afrika is al land wat heeldag bangmaakstories oor die wêreld daar buite het.

SkarrelKind ·

Hello Rooiwillem, goed om te hoor julle kap mooi aan in Aus. Ek is van Hollandse en Duitse herkoms. En ons voorvaders, moes ook, glo ek, uit moeilike omstandighede wegkom en was bereid on die wildernis aan te durf. En hoe wild was Afrika nie vir hulle nie?! Ek dink ons wat nou ander lande ons nuwe woning maak het dit veel makliker. En ding is ook verseker, ons is rateltaai in vergelyking met baie ander nasies. En ek is trots daarop. Alles te danke aan die waagmoed van ons voorouers…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.