As die plaaslewe roep

Zaniël van Huyssteen (Foto: Verskaf)

Zaniël van Huyssteen, ʼn graad 11-leerder aan Hoërskool Salomon Senekal op Viljoenskroon, skryf:

Ek word wakker van die irriterende geruis van voertuie en verkeer. Ek hoor toeters uit verskillende rigtings. Tipies stadsmense. Tipies stadslewe. Dit is nog nie eens sesuur nie en die mense is klaar ongeduldig met mekaar. Vroegoggend is hier geen rus en vrede in die stad nie; dit laat my na die stilte van die plaaslewe terugverlang.

Ek staan op en trek die gordyne oop. Dit is nog donker, maar daar is geen môrester in sig nie. My oë word eintlik seer van die stadsliggies se geflikker. Ek wil huis toe, plaas toe.

Ek wil plaas toe na die sterre in die nag. Ek wil plaas toe na die reuk van mieliepap en plaasbrood wat geurig in die kombuis hang. Ek wil plaas toe na die soet moerkoffie en my ma se anysbeskuit. Ek wil plaas toe na die gedreun van trekkers op die werf en op die lande, en na daardie verslawende grondreuk.

Ek wil weer Oupa se oorlogstories hoor. Ek wil weer Pa se beeste voer en myle en myle se drade reg span. Ek wil weer op ʼn donker, yskoue Vrystaatse oggend in die stroper klim. Ek wil hê die stof moet op my kakiebaadjie vasplak.

Ja, ek wil die koue, nat plaasgrond in my hande voel.

Ek wil plaas toe na waar die Augustuswinde waai as die swart roet swaar op almal se harte druk. Ek wil die Oktoberreën oor my gebrande skouers voel en ek wil die Novembermielietjies bo die grond sien kop uitsteek. Ek wil Junie se gevriesde waterpype stukkend stamp. Ek wil Viljoenskroon se sonsak op my gesig voel en die jakkalstjank tussen die sonbesies en skaapblêre hoor.

Ek wil in vrede ʼn vleisie op die kole braai.

Ek verlang na my boerboel wat sy slobberbek teen my broek afvee. Ek verlang na my skaaphond wat stertswaaiend en vol blydskap oor die werf draf as hy my sien.

Ek wil weer op ʼn Sondagoggend ongestoord by ʼn klipkerk instap en daardie vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan. Ek wil soos ʼn sorgelose kind kleilat gooi en sien hoe die modderstrepe van die laat reën op my bakkie se bliklyf vasklou. Ek wil weer my vellies aantrek en my Gerber-knipmes in my broeksak dra. Ek wil weer vir ʼn lammetjie melk gee en vir daardie parmantige hoenderhaan weghardloop.

Ek wil weer volwaardig mens wees …

Die stad raas en my ore suis. My hart is rou en seer. Ek verlang na my honde, my mense, my grond.

Die plaas is in my hart. Die plaas vloei deur my are. My hart klop reën.

Ek is ʼn boer. Ek hoort nie hiér in die stad nie! Ek gaan plaas toe …

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Hoe pragtig is dit nou nie gesê nie .

quartus

Verkeer in Viljoenskroon??

Ouvrou

Wat ‘n gevoelvolle brief. Beskryf al my “ek wil” … Wel gedaan ….

Dapper Patriot

Pragtige skryfstuk Zaniel!
Mens kan sommer sien jy is ‘n plaasmeisie in murg en been!

Boomspan

Baie mooi