Zaniël van Huyssteen, ʼn graad 11-leerder aan Hoërskool Salomon Senekal op Viljoenskroon, skryf:
Ek word wakker van die irriterende geruis van voertuie en verkeer. Ek hoor toeters uit verskillende rigtings. Tipies stadsmense. Tipies stadslewe. Dit is nog nie eens sesuur nie en die mense is klaar ongeduldig met mekaar. Vroegoggend is hier geen rus en vrede in die stad nie; dit laat my na die stilte van die plaaslewe terugverlang.
Ek staan op en trek die gordyne oop. Dit is nog donker, maar daar is geen môrester in sig nie. My oë word eintlik seer van die stadsliggies se geflikker. Ek wil huis toe, plaas toe.
Ek wil plaas toe na die sterre in die nag. Ek wil plaas toe na die reuk van mieliepap en plaasbrood wat geurig in die kombuis hang. Ek wil plaas toe na die soet moerkoffie en my ma se anysbeskuit. Ek wil plaas toe na die gedreun van trekkers op die werf en op die lande, en na daardie verslawende grondreuk.
Ek wil weer Oupa se oorlogstories hoor. Ek wil weer Pa se beeste voer en myle en myle se drade reg span. Ek wil weer op ʼn donker, yskoue Vrystaatse oggend in die stroper klim. Ek wil hê die stof moet op my kakiebaadjie vasplak.
Ja, ek wil die koue, nat plaasgrond in my hande voel.
Ek wil plaas toe na waar die Augustuswinde waai as die swart roet swaar op almal se harte druk. Ek wil die Oktoberreën oor my gebrande skouers voel en ek wil die Novembermielietjies bo die grond sien kop uitsteek. Ek wil Junie se gevriesde waterpype stukkend stamp. Ek wil Viljoenskroon se sonsak op my gesig voel en die jakkalstjank tussen die sonbesies en skaapblêre hoor.
Ek wil in vrede ʼn vleisie op die kole braai.
Ek verlang na my boerboel wat sy slobberbek teen my broek afvee. Ek verlang na my skaaphond wat stertswaaiend en vol blydskap oor die werf draf as hy my sien.
Ek wil weer op ʼn Sondagoggend ongestoord by ʼn klipkerk instap en daardie vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan. Ek wil soos ʼn sorgelose kind kleilat gooi en sien hoe die modderstrepe van die laat reën op my bakkie se bliklyf vasklou. Ek wil weer my vellies aantrek en my Gerber-knipmes in my broeksak dra. Ek wil weer vir ʼn lammetjie melk gee en vir daardie parmantige hoenderhaan weghardloop.
Ek wil weer volwaardig mens wees …
Die stad raas en my ore suis. My hart is rou en seer. Ek verlang na my honde, my mense, my grond.
Die plaas is in my hart. Die plaas vloei deur my are. My hart klop reën.
Ek is ʼn boer. Ek hoort nie hiér in die stad nie! Ek gaan plaas toe …
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
7 Kommentare
Hoe pragtig is dit nou nie gesê nie .
Verkeer in Viljoenskroon??
Wat ‘n gevoelvolle brief. Beskryf al my “ek wil” … Wel gedaan ….
Pragtige skryfstuk Zaniel!
Mens kan sommer sien jy is ‘n plaasmeisie in murg en been!
Baie mooi