Lesersbrief: Berader-leraar praat oor Bultfontein se boere

droogte

Foto: Daeron/Pixabay.com

Dr. Johan Nel van die Hervormde Kerk Bloemfontein-Wes skryf:

Droogte, en die kerk se hart van omgee

“…die man van die bank het net sy kop geskud,

want my oom was te diep in die skuld…”[1]

Hier in die stad word die impak van die droogte eintlik net gesien in verdorde tuine en dooie bome. Daar buite, in die veld, tref die realiteit. ’n Droogte wat maak dat mense knak.

“Weet jy,” vra ’n boer, “weet jy hoe dit voel wanneer ’n plaas wat al ses geslagte in die familie is, by jóú eindig?”

Natuurlik weet ons nie. Hoe kan ons? Maar dit beteken nie dat ons nie omgee nie, en dat ons nie kan luister nie.

Dit is hierdie behoefte wat ds. Barnard Steyn, direkteur van die Eenheid vir Bedieningsbegeleiding in die NG Kerk in die Vrystaat, raakgesien het. ’n Kenmerk van die kerk in die Vrystaat is om waar daar nood is in gemeenskappe, daadwerklik betrokke te raak, ongeag kerkverband. Tragedies soos plaasaanvalle, rampe, en nou die droogte – die kerk gaan na die mense. Om te help, te luister, die las te help dra. So is dit vir jare reeds my voorreg om oor kerkgrense heen saam met mense te reis.

Uitreik en aanraak volg. Bultfontein, Hoopstad, Dealesville – die kosmandjie van die Vrystaat. Ringe, kerkraadslede, lidmate, individue word ondersteun deur bemoediging, gebedsgeleenthede, toerusting en terapie. Angs en vrees word nie besweer nie, maar wel gedeel. Bid kry nuwe betekenis.

“Ek wil nooit weer sonder die gemeenskap van die gelowiges wees nie,” sê ’n boer. “Ons het altyd gedink die kerk stel net in ons belang wanneer ons kan bydra. Nou beleef ons hoe die kerk na ons toe kom in ons uur van nood. En die mense van die land – toe die vragmotors met voer hier aankom, het ek skaamteloos gehuil van dankbaarheid.”

Maklik is dit beslis nie. In die eensame ure wanneer jy alleen is met jou gedagtes, begin jy twyfel aan dit wat altyd vir jou vanselfsprekend was. “God sal sorg” begin dun klink. Uiteindelik ontdek ek: Dit is gesond om soms te twyfel; dit is goed om eerlik te wees daaroor.

Gelowiges ontdek: Iewers tussen die wanhoop en die hoop kom die besef: My hele lewe is geskud. Familie, plaaswerkers, almal ly. Ag, om van die diere nie te praat nie. Oud en jonk.

Ek ontvang deernis, en vind dat ek ook self meer deernis het. Ek waardeer die ruimte wat mense my gee, maar ek gee ook ruimte. Ek voel dat ek gehoor word, daarom luister ek, ek voel dat ek verstaan word, daarom probeer ek ook beter verstaan. Ek ervaar dat mense my nie afskryf omdat ek anders geword het, of kwaai of depressief is nie. En ek is dankbaar daaroor.

Vir baie het die ondenkbare nou gekom: Plase word opgeveil. Niemand word oorgeslaan nie. Besighede trek swaar. Daar is veral nie kitsoplossings en maklike antwoorde nie. Maar daar is deelneming, geloof, nuwe hoop en baie liefde. Dit is die hart van die kerk. Dít is kerk.

Voetnota:

[1] Aanhaling uit “Stuur groete aan Mannetjies Roux” deur die liedjieskrywer Christopher Torr.

Die NG Kerk in die Vrystaat het tot die besef gekom dat daar ernstige nood is, ook geestelike nood, onder die boere van veral Bultfontein wat besonder hard deur die droogte geraak is. Dr. Johan Nel, ’n leraar van die Hervormde Kerk Bloemfontein-Wes, is aangewys om spesiale aandag aan hierdie boere te skenk. Nel is ’n deeltydse predikant (tentmaker) wat ook ’n praktyk by die Eenheid vir Professionele Opleiding en dienslewering in die Gedragswetenskappe (Epog) aan die Universiteit van die Vrystaat het, asook deeltydse dosent by die universiteit se fakulteit Teologie is. Hier deel hy sy ervaring by Bultfontein en omgewing, soos gepubliseer in die NHK se elektroniese nuusbrief, Blitspos.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Produksie, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stephan de S ·

Dankie vir die kosbare artikel wat diep in die hart gryp, lyding en swaarkry wat alle mense belewe sonder aansiens des persoons…….op plase en in die knusse stede.

ANA ·

BAIE DANKIE,VIR/AAN ÁLMAL, WAT ONS KOSBARE BOERE ONDERSTEUN,
BYSTAAN,BEMOEDIG EN BEDIEN MET SÝ VADERHART !
WEES ASB.ONS BOERE, HIER IN AFRIKA GENADIG MET U HEMELSE GENADE WATER,BEHOED EN BEWAAR HULLE OP HUL PLASE EN SEËN ONS BOERE

Jerry ·

Dr. Johan Nel doen goeie werk daar tussen die boere wat erg swaartrek en hy bring hoop. Ek wil net vir Dr. Johan vra hoe sal die boere weet wanneer die skrif aan die muur is, is dit eers wanneer daar nie meer hulp is wat opdaag nie, of wanneer? en wat se die Skrif vir ons, wat moet ons doen of eerder dalk, wat moes ons al gedoen het indien die skrif reeds aan die muur is? Hierdie is van die tergende vrae wat boere behoort te vra en net dalk het Dr. Johan n antwoord vir ons, vanuit die skrif!

Papa G ·

” Daar’s nie ń fout nie of ons het hom, want ons is sterker as die res van die mensdom…” Jo Black. Daar is nie antwoorde op die vrae nie. Iemand wat antwoorde gee verkondig”cheap grace”. Ek weet net verseker, sonder twyfel: God is God. Hy was altyd, is steeds en sal altyd wees. Ek glo dit nie, ek WEET dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.