Lesersbrief: Beroep op Suid-Afrika

Megan Meyer as uitreiker in Namibië. Foto: Verskaf.

Megan Meyer, ʼn matriekleerder van die Oos-Kaap, skryf:

Ek wil vandag ʼn beroep op Suid-Afrika maak. So baie mense in ons land streef na blydskap en geluk, maar raak verlore langs die pad.

Ek wil hê mense moet verstaan dat die opperste vorm van blydskap is wanneer jy gelukkig is oor jy iemand anders gelukkig gemaak het. Dis só kosbaar om ʼn glimlag op iemand anders se gesig te sit met wie dit broekskeur gaan. In ʼn wêreld vol selfbehepte mense kan jy die een wees wat anders is! Inspireer mense om hul medemens te begin help. Ek weet daar is derduisende mense daar buite wat sukkel en dat ʼn mens nie almal kan help nie, maar alles moet iewers begin, dan nie?

Ons is almal mense en almal verdien om ʼn dak oor hul koppe en kos op die tafel hê. HOP-huise bring ʼn groot verligting vir baie mense, maar inwoners van Suid Afrika moet HOP-harte ontwikkel. Geld kan nie ʼn goeie hart koop nie en ‘n mens is eers werklik ryk wanneer jy iets het wat geld nie kan koop nie.

Dit, liewe leser, is waarom ek jou sterk aanbeveel om te begin deel en te begin gee. Dit hoef nie duur, waardevolle dinge te wees nie. Dit is die klere wat net in jou kas lê en nie gedra word nie, die kos wat nie geëet word nie, die ekstra komberse en die vuil munte wat in jou kar se asbakkie lê wat die verskil maak. Al het jy nie veel nie, gee nog steeds, want dié wat met ʼn oop hand gee sal weer ʼn volle hand ontvang. Dit is dalk net wat Suid-Afrika nodig het.

Dit is onmoontlik dat jy nie ʼn gevoel van blydskap in jou hart sal kry wanneer jy iemand anders se swaarkry probeer verlig nie. Doen dit vir jouself. Alles sal eendag terug kom na jou toe. Daarvan is ek seker.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Deon ·

Baie mooi geskryf. Ek gee en help in my gemeenskap, gemeenskappe wat nie n sent sien van die staat af nie, as iemand staathulp kry, bly ek verby.

Henning ·

Deon, jy is doodreg, die engelse sê mos “charity begins at home”.

Stem ·

Baie mooi versoekie, maar ons doen dit al lankal my liewe mens. En die aanvraag word net groter, dit is soos ‘n bodemlose put, meer mense verhoor hulle huise, meer mense verloor hulle werk, meer mense kan nie eers meer hulle kinders se skoolgelde bekostig nie. Alhoewel as elke persoon ten minste net vir die handjievol mense om jou sorg doen jy alreeds baie.

Avokado ·

Ek het in die eerste 6 maande van hierdie jaar 2 fietse, 3 laptops, 1 selfoon, 1 boor, 1 grinder en 1 figuursaag gegee. Ek hoop dit kom terug na my toe.

foxi ·

Dit is wonderlik om te gee…jy voel goed….maar o wee…..hoe meer jy gee…hoe meer word daar agteroor gesit. Gee jy nie meer soveel as wat jy gegee het nie…..word jy verneder en gevloek!
So….wat nou gedoen?

Johan. H. ·

Wil met jou saamstem, maar word nog n bietjie ouer laat die lewe jou bietjie slyp, Die is suid afrika, kom ons kyk hoe lank jy hou, Jy is n pragtige mens

Lizzie ·

Hoe meer jy gee juffie, hoe langer word die arm met die bakhand. Word maar eers groot en vat vir Helen Zille as voorbeeld.

Boerseun ·

Die onskuld en naiwiteit van die jeug. Die meeste van ons het al tot vervelens toe al skoolgeld betaal. Hierdie is Afrika!

hannes marais ·

ekt bankrot geraak van gee en ander mense help….as jy gee dan het jy minder…nou wat dit met my broekskeur gaan ontvang ek geen hulp van niemand

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.