Beste matrikulant…

Carien Bloem (foto verskaf)

Deur Carien Bloem

Die matriekeksamen wat vandeesweek begin, laat dwaal my gedagtes terug na November 2004. Ek was in matriek – agttien, volwasse en amper klaar met skool. Hoewel ek nie die presiese datum kan onthou nie, onthou ek die dag soos gister toe ek my wiskunde-eindeksamenvraestel moes skryf.

Die aarde was lekker nat van die vorige aand se somerreën en ondanks die senuwees wat in my binneste gewoel het, was ek positief oor die vraestel wat vir my voorgelê het.

Kyk, wiskunde was nog nooit een van my talente nie. My arme ouers het duisende rande aan ekstra wiskundeklasse bestee; tannie Juleen, wat die ekstra klasse aangebied het, het die allermooiste kleurpenne gebruik om meetkunde aan my te verduidelik. Maar ek kon dit eenvoudig net nie baasraak nie.

Tog het ek op dié dag selfversekerd gevoel, vasberade om my matriekjaar op ’n goeie noot af te sluit. Ek het so goed voorberei as wat ek kon.

Omdat ek reeds 18 was en ’n leerlinglisensie gehad het, was ek fluks aan die oefen om my rybewys nog voor die einde van daardie jaar te kry. My pa het boonop vir my ’n pragtige silwer Toyota Tazz gekoop. Maar in dié Tazz mag ek net gery het as hy saamgery het.

Só spreek ons toe af dat ons die oggend van die wiskundevraestel met die Tazz gaan ry en ék sal bestuur. Baie opgewonde het ek my vriendin Karin Roos, wat onder in my straat gewoon het, laat weet om ook saam te ry.

Ons het beoog om lank voor 09:00 daar te wees sodat ons koel en kalm ons sitplekke kan inneem en nie gejaagd te wees nie. My pa het sy eie gastehuis sowat ’n kilometer van die skool af besit. En soos die noodlot dit wou hê, was daar daardie oggend ’n gas wat net nie sover kon kom om uit te teken nie, wat beteken dat ons nie kon ry nie … En daar vind hy my: die senuweemonster wat ek al heel oggend ontduik het.

Nodeloos om te sê, het ek so net voor 09:00 met my Tazz skool toe gejaag. My Pa het soos ’n neet aan ’n haar geklou, en ek en Karin het ’n benoude sweetjie uitgepêrel. Ons was net betyds. Uitasem en senuweeagtig, maar betyds.

Ek het die vraestel verwoed afgelê en stellings bewys soos net ’n regterbrein kon. Intussen het ek gehoop dat die nasiener my tog net genadig sou wees.

Dit was wild, maar ons is deur.

Die eindeksamen vir die matrieks van 2018 het Maandag begin.

Jare later gaan julle ook stories hê om te vertel en sal julle hopelik ook kan terugkyk en daaroor lag.

Matrieks, ongeag jul omstandighede, is my wens dat julle rustigheid oor hierdie eksamen sal ervaar. Leer hard, wees positief, konsentreer en druk deur. Weet dat hierdie beslis nie die moeilikste toets van jul lewe gaan wees nie, maar wel een van die belangrikstes.

STERKTE!

Groetnis,
Carien

* Carien Bloem is die projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Ouerskap, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Abe ·

Carien Bloem se brief was baie opbouend. Elke matrikulant behoort dit te lees.

leser ·

en so het elke matrikulant sy eie storie om te vertel
in my eind eksamen was ek net ‘n nommer soos vele ander
in daardie tyd was daar nie iemand wat jy kon omkoop of be-invloed nie
eksaminator kon enige plek oor sa wees
deurdruk en vertrou op jou leer vermoe is al wat tel
sterkte aan 2018 matrikulante

Kallie Grafie ·

Matriek is nie die alfa en omega nie. Matrikulante moet dit eerder sien as deurgang na die “grootmenswêreld”, waar jy ongenadiglik gejag gaan word deur jou baas en die horlosie. Daar is lewe sonder matriek, en daar is lewe na matriek. Moenie jouself uitbrand om `n fantastiese matriek te hê, en dan die res van jou lewe niks/gemiddeld te wees nie. Nadat jy aangestel is, kyk werkgewers nie meer na jou matriek nie, maar eerder hoe jy “perform” in die regte lewe.

Op 18 was ek nog onvolwasse; dit het eers gebeur toe ek my diensplig doen. Ek dink daar word `n te groot ophef van matriek gemaak. Menige jongmense kannie matriek skryf nie, weens menige redes, bv swak gesondheid, sosio-ekonomies omstandighede (boetie moet gaan werk om kos op die tafel te sit), en meer. Die meeste matrikulante is myns insiens onbevoeg om `n gewone lewe te lei, en daarby is die fokus op `n akademiese matriek, in plaas van vakke wat jou voorberei vir vakmanskap soos loodgieter, motorwerktuigkundige, bouer, IT, ens, besig om ons land te skaad. Ek mag verkeerd wees, maar ek sien nêrens in die wêreld hierdie manie met matriek en matriekafskeid nie. Jammer vir die katarsis.

Abe ·

Kallie Grafie,
Matriekafskeid is ‘n ander debat vir ‘n ander dag. Ek sal graag Carien Bloem se siening daaroor wil hoor. Hoe lyk dit Carien met ‘n mooi ope briefie daaroor?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.