‘Bewaring’ vir die Suid-Afrikaanse politikus en natuurliefhebber

Foto ter illustrasie. (Foto: AP Photo)

Deur Ron Thomson

Ron Thomson, skrywer en legendariese grootwildjagter, het in ʼn vorige berig gewaarsku dat diereregte-aktiviste die grootste skade aan die natuur berokken. In dié artikel verduidelik hy in meer besonderhede.

“Bewaring”, oftewel wildbestuur, is die kuns en vernuf om die prosesse wat die natuur beheer te manipuleer – om doelwitte te bereik wat tot voordeel van die mens strek. Daar is niks “natuurlik” aan wildbestuur nie, meen Thomson.

In die geval van die mens wat ʼn nasionale park bestuur, hoef die mens egter net een primêre bestuursdoelwit te hê – om die park se biologiese diversiteit te handhaaf. As hy daardie doelwit bereik, sal alle ander menslike uitkomste vir die nasionale park natuurlik in plek val. Hoekom is dit so? Om ʼn nasionale park se dierediversiteit in ʼn veilige en gesonde toestand te handhaaf, beteken die mens moet ook al die habitatte in die park in ʼn veilige en gesonde toestand onderhou. As die habitatte floreer, sal die diere wat spesiaal aangepas is om daarin te leef ook floreer.

ʼn Park se biologiese diversiteit dek natuurlik al sy lewende organismes, beide plante en diere. Baie mense sien egter ʼn nasionale park as ʼn toevlugsoord net vir diere. Dit is nie so nie. ʼn Nasionale park is ʼn komplekse lewende “organisme” op sigself, met die grond, die wilde diere en die wilde plante wat almal in ʼn toestand van homeostatiese harmonie saamleef – die een is ewe afhanklik van die ander.

Dit is egter nie heeltemal waar nie. Die feit is, omdat die diere meer aangewese is op die plante, wat hul noodsaaklike habitatte, voedsel en die lewensbelangrike omgewingstoestande vir hul oorlewing verteenwoordig, sou dit veilig wees om te sê dat die habitatte belangriker is as die diere. Die feit is dat die meeste plante in die afwesigheid van diere kan leef, maar diere kan nie sonder die plante lewe nie. Dit is dus ʼn betwiste punt watter van hierdie twee die grootste oorweging verdien, die hoender of die eier?

In 1948 het die Verenigde Nasies (wat die Volkebond in 1945 vervang het) ʼn  internasionale organisasie genaamd die Internasionale Unie vir die Beskerming van die Natuur (IUPN) gestig en alle soewereine state genooi om aan te sluit. Dit het egter min belangstelling gekry, want die meeste soewereine state ná die Tweede Wêreldoorlog, veral dié met oorvloedige en waardevolle wildbronne, wou daardie hulpbronne op ʼn volhoubare wyse tot voordeel van hul mense oes. Hulle het die IUPN as ʼn belemmering gesien.

Die IUPN het egter hierdie probleem verstaan. In 1956 is die organisasie se naam dus verander na die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUCN) en dit het almal se persepsie van die organisasie se bedoelings verander. Soewereine state het in groot getalle by die span aangesluit.

In die proses het die IUCN eintlik die betekenis van die woord bewaring herstruktureer, wat daarna volhoubare gebruik impliseer het. Die woorde beskerming en bewaring is heeltemal uit die volhoubare gebruik- idioom verwyder. Ongelukkig is dit nie heeltemal wenslik nie, want bewaring (beskerming teen benadeling) het ook ʼn belangrike rol om te speel.

Sedert 1956 gebruik lede in die samelewing egter die woord bewaring op ʼn  hele aantal verskillende maniere, baie met botsende betekenisse, insluitend die gebruik daarvan as ʼn sinoniem vir preservering. Dit het in die onlangse verlede bygedra tot die verwarring rondom die hele wetenskaplike konsep van wildbestuur.

Die internasionale diereregtebrigade noem homself byvoorbeeld selfs die bewaringsgemeenskap wanneer sy hele doel in die lewe is om die volhoubare gebruik van wilde diere te stop. Wat ʼn verkeerde benaming blyk dit te wees…?

Slegs wanneer die mensdom die wildbestuurswoordeskat verstaan en wat die terme daarvan is, wat dit beteken en hoe dit in die wetenskap van wildbestuur toegepas word, sal mense in staat wees om in dieselfde taal onder mekaar te gesels. Die mensdom is nog baie ver daarvan om daardie vlak van begrip te bereik. Boonop gebruik die diereregtebrigade die woord “bewaring” as ʼn rookskerm om hul werklike doel in die lewe vir die man op straat weg te steek.

Dit is vir my soveel van ʼn probleem dat ek geneig is om die woord “bewaring”’ heeltemal te vermy.

Wildbestuur is ʼn wetenskap wat op “ekologie” gebaseer is. Ekologie is die wetenskap om die verwantskap te bepaal wat bestaan tussen ʼn lewende organisme (ʼn lewende plant of ʼn lewende dier) en sy omgewing, en sy verhouding met die ander lewende organismes (plante en diere) waarmee dit daardie omgewing deel.

ʼn  Wetenskaplike sal dus ʼn wildreservaat se olifantbevolking bestudeer asook die impak wat die olifante op hul habitat het en die skade wat hulle aan die groot bome aanrig. Wanneer die bome skade ly, beïnvloed dit regstreeks die oorlewing van die groot arende, die aasvoëls en die grondneushoringvoëls in dieselfde wildreservaat.

Die ondersoek sal ʼn kombinasie van navorsing in ʼn enkele ekologie behels. Die wetenskaplike se gevolgtrekking (as hy ʼn eerlike wetenskaplike is) sal waarskynlik wees dat daar te veel olifante in die reservaat is en sy aanbevelings vir die bestuur sal heel moontlik wees dat die olifantbevolking onmiddellik met 50% verminder moet word.

Alvorens enige sodanige bestuur toegepas kan word, moet die wetenskaplike eers bepaal hoeveel olifante daar in die wildtuin is. Vervolgens moet hy vasstel wat die wildtuin se olifantdrakrag is.

Drakrag kan gedefinieer word as die maksimum aantal olifante wat ʼn reservaat kan dra sonder dat die olifante die habitat (die plantegroei) waarvan hulle afhanklik is vir oorlewing, permanent beskadig.

Die bestuur se besluit moet dus wees dat die habitatte van permanente skade gered moet word deur ten minste die aantal olifante te verwyder wat meer as die wildtuin se volhoubare olifantdravermoë is. Die ervare wildbestuurder sal aanbeveel dat ʼn aansienlike aantal ekstra olifante terselfdertyd verwyder moet word om die habitatte te help om vinniger te herstel. Onthou, die gesondheid van die habitatte is baie belangriker as die lewens van ʼn paar ekstra olifante.

Die basiese kwessie om te oorweeg, behalwe om die habitat se olifantdravermoë te bepaal, is die totale aantal olifante wat in die wildtuin teenwoordig is. As daardie getal ver onder die olifantdravermoë is, sal die bestuurder die olifantbevolking as onveilig kategoriseer. As dit min of meer by die regte nommer is, sal hy die bevolking veilig noem en as dit buitensporig hoër is as die volhoubare drakrag is, sou hy die bevolking uitermatig noem.

Hierdie verskille verskaf aan ons die riglyne wat ons nodig het om behoorlik te bepaal hoe ons die betrokke olifantbevolking moet bestuur.

  • Onveilige bevolkings moet aan “preserveringsbestuur” onderwerp word (beskerming teen enige skade). Geen uitdunning nie, geen jag nie, 100% beskerming.
  • Veilige bevolkings moet aan bewaringsbestuur onderwerp word. Dit beteken dat slegs die ekwivalent van hul jaarlikse toename uitgeskot word. Dit sal genoeg wees om die bevolking stabiel te hou en seker te maak dit word nie uitermatig nie.
  • Uitermatige bevolkings benodig drastiese verminderingsbestuur, wat ten minste ʼn onmiddellike 50% vermindering sal behels, wat volgende jaar dalk weer herhaal moet word.

Ek verstaan dat daar gesê word dat die Krugerwildtuin tans 34 000 olifante dra. My aanbeveling vir die Kruger is dus dat 30 000 olifante onmiddellik van kant gemaak word. In Botswana, waar die olifantbevolking op 220 000 staan, is my aanbeveling dat ten minste 100 000 olifante uitgeskot moet word.

Wanneer dit by Suid-Afrika se kommersiële wildbedryf kom, keur ek dit goed dat wildplaaseienaars die ekwivalent van hul hele jaarlikse aanwas laat jag en/of uitskot. Volhoubaarheid is waarna ons op ons wildplase soek. Dit wil sê volhoubaarheid in getalle en volhoubaarheid in trofee-eienskappe – niks minder behoort ons teikens te wees nie en hierdie doelwit is maklik haalbaar.

Ek het onlangs gehoor van ʼn senior politikus wat sê dat hy die Suid-Afrikaanse diereregtebrigade voor die volgende algemene verkiesing gaan benader sodat hy hul stemme op sy party se veldtogregister wil kry. Dit is die belaglikste stelling wat ek nog ooit uit ʼn politikus se mond gehoor het, want wildbestuurders kan nie by wyse van sulke politieke oortuigings optree nie. So ʼn benadering sê byvoorbeeld vir my dat die politieke party wat daardie opmerking gemaak het, totaal onverantwoordelik is, omdat sy politici net na hul eie politieke belange omsien en hulle geensins aan die bedryf gedink het en wat die land tans uit sy wildbronne benodig nie.

Belangrike wildbestuursbesluite kan nie by wyse van openbare referendums bepaal word nie. Omdat baie mense nie hou van die idee om wilde diere te jag of van kant te maak nie (die doodmaak van diere van enige aard, om die waarheid te sê), beteken dit nie dat daar regverdiging is dat hulle sulke aktiwiteite deur middel van openbare aktivisme probeer stopsit nie. Persoonlike opinies, grille en vooroordele het niks te doen met die wetenskaplike praktyke van wildbestuur nie.

Politici wat glo dat dit in orde is om politiek te gebruik om jag- of uitdunpraktyke te stop, net omdat hul politieke volgelinge wil hê hulle moet dit doen, is verwerplik. Net omdat buitelandse besoekers nie die nodigheid kan insien om byvoorbeeld die olifante in die Krugerwildtuin uit te dun nie, gee dit vir SANParke nie die reg om buitensporige getalle olifante in Kruger toe te laat nie. Net omdat sommige besoekers nie wil hê dat olifant uitgeskot moet word nie, beteken dit nie dat die ekologie daarvan hou nie.

Dit is SANParke se plig, en verantwoordelikheid teenoor Suid-Afrika, om die Krugerwildtuin se biologiese diversiteit in stand te hou. Tans doen SANParke se administrasie en sy wetenskaplikes niks om verliese in die park te stuit nie. Die feit dat die wetenskaplikes erken dat meer as 95% van die nasionale park se groot bome met ʼn wye blaredak sedert 1960 deur te veel olifante doodgemaak is, blyk nie een van hulle te pla nie.

Die feit dat almal in die regering, insluitend die minister van omgewingsake, baie gelukkig lyk om met die plaaslike en internasionale diereregtebrigade hand om die lyf te verkeer, is ʼn totale skande. Weet hulle nie dat diereregte-isme die grootste bedryf in die wêreld is wat op mense se vertoue teer nie? Kan hulle nie al die kolletjies verbind nie?

Na wat vir my vertel word, samel die diereregtebrigade elke jaar miljoene Amerikaanse dollar se bedryfskapitaal in, deur voortdurend bedrog in hul valse propagandaveldtogte te pleeg. Hulle kry dit reg deur leuens aan die algemene publiek te vertel dat hulle daardie leuens kan laat verdwyn wanneer hulle geld skenk. Een voorbeeld is dat hulle verkondig dat die Afrika-olifant uitwissing in die gesig staar en dan pleit hulle vir skenkings van die publiek om hulle (die mense wat daardie leuen gemaak het) te help om dieselfde leuen te laat verdwyn. Met genoeg geld, sê hulle vir die publiek, kan hulle seker maak dat die olifant nie sal uitsterf nie. Hierdie is ʼn deurlopende proses deur die jaar, elke jaar en al daardie geld gaan in hul koffers. Niemand kom terug na Afrika om die Afrika-olifant te “red” nie. Dit is per definisie bedrog, wat ʼn ernstige misdaad is.

Wanneer Suid-Afrikaanse politieke partye dus hul drankies in die geselskap van diereregte-drukgroepe begin meng, verbroeder hulle eintlik met internasionale georganiseerde misdaad op die hoogste vlak. Die diereregte-groepe is egter van ʼn ander soort as die berugte Guptas, want wanneer hulle die beskaafde samelewing betree, doen hulle hulself voor as die heiligheid vanself met ʼn heilsame strewe, iets wat hulle beslis nie is nie.

Dus sê ek aan my lesers: Om vooraf gewaarsku te wees, is om vooraf gewapen te wees!

  • Ron Thomson is uitvoerende hoof van die True Green Alliance.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Produksie, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nommer 7 ·

Ek stem saam. Die Kruger het hopeloos te veel olifante. Hulle verniel die Park. Dun uit en stel die olifantslagpale in Skukuza weer in werking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.