Bittereinders en verraaiers

NP-van-Wyk-Louw

NP van Wyk Louw. Foto: Af.wikipedia.org

Willie Jansen van Rensburg van Moreleta Village skryf:

In die drama Die pluimsaad waai ver van NP van Wyk-Louw kom die verwysing na die bittereinders en die verraaiers dikwels voor. President Steyn en generaal Christiaan De Wet is die helde wat bereid is om tot die bitter einde die stryd voort te sit. Daarteenoor staan generaal Piet de Wet bekend as een van die verraaiers, nadat die Engelse onder meer die hoofstede ingeneem het.

Generaals Piet de Wet en Marthinus Prinsloo het nie die sinvolheid van voortgesette militêre stryd ingesien nie. Reeds teen die einde van Junie 1900 was die hoofstede van die Boererepublieke ingeneem en was die Britte in beheer van die totale infrastruktuur en administrasies.

Terugskouend ontstaan die vraag of die volksleiers met wysheid opgetree het deur burgers te beveel om voort te veg. Indien die leiers teen Julie 1900 bes gegee het, sou die sterftesyfer veel laer gewees het. Sou ’n staatsman met wye visie ingesien het dat tydige oorgawe die geleentheid tot redding van ’n volk en heropbou bied? Nie net heropbou van die fisieke nie, maar ook die geestelike en kulturele sy. Geen plase sou vernietig word nie en weinig burgers sou in krygsgevangenekampe beland.

Dit blyk dus dat die twee gawes van heldhaftigheid en insig nie noodwendig in een mens gesetel is nie. ’n Bittereinder is dalk nie ’n kritiese denker nie, terwyl kritiese denkers dikwels gebrandmerk word as verraaiers.

Die toewyding en geloof van presidente Kruger en Steyn en die heldhaftigheid van generaals Christiaan de Wet en Koos de La Rey word nie bevraagteken nie. Hul bydrae tot ons volkwees is kosbaar.

Van Wyk-Louw vergelyk egter die bittereinders met koppiges, en enkele verraaiers met verstandiges. Heeltemal futiel, maar sake in die land sou ná tydige oorgawe heeltemal anders gelyk het.

Hou die verloop van die Tweede Vryheidsoorlog en ons volk se geskiedenis vandag vir ons lesse in? Net soos ons ’n taalstryd aan die begin van die 20ste eeu gehad het, woed daar nou ook ’n stryd om die behoud van Afrikaans. Dieselfde gebeur met die onderwys van ons volk. Daar word ook ’n stryd gevoer op ekonomiese, arbeids- en ander terreine. Afrikaners moet hulself op elke lewensterrein verdedig.

Tans poog talle organisasies en groepe om op terreine soos politiek (Vryheidsfront Plus HNP, AVP, Front Nasionaal, VVK), arbeid (Solidariteit), landbou (AGRI SA, TLUSA) kultuur (FAK, Verkenners, Aksie Vrouekrag, Dames Aktueel, Orania Beweging, Pretoria FM), onderwys (AROS, BCVO) vir Afrikaners op te tree sonder om andere te benadeel.

Sommige maak gebruik van die ruimte wat die wetgewing en die grondwet ons bied. Hulle wend hulle na instellings van die owerheid soos die Nasionale Vergadering, openbare beskermer en die howe om vir Afrikaners op te tree. Hoewel nie altyd opspraakwekkend nie, word nieteenstaande teenstand, tog suksesse behaal, sonder prysgawe van geloof en taal.

Tog word sekere organisasies deur sommige Afrikaners as verraaiers bestempel.

Enkele organisasies wil niks met die huidige owerheid te doen hê nie. Hulle sien hulself as bittereinders, vermy diegene wat van die wetlike ruimte gebruik maak en beskou diegene wat owerheidsmiddele gebruik as vyande en verraaiers.

Etlike vrae kan hieruit voortspruit:

Watter hedendaagse organisasies het iets geleer uit die verloop van die Tweede Vryheidsoorlog en ons geskiedenis daarna?

Wie volg vandag die leiding van onderskeidelik Christiaan of Piet de Wet?

Is ’n bittereinder net koppig en is sommige verraaiers verstandig?

Wie is vandag die koppiges en die verstandiges?

Dit behoort tog duidelik te wees dat jy niks vir jou volk kan doen deur asketies te wees en jouself in ’n kasteel af te sonder nie. Sedert die bestaan vanaf die Boere-republieke tot vandag het koppigheid geen voordeel vir die Afrikaner meegebring nie – slegs hartseer, lewensverlies en armoede. Ons hoef nie onderling te veg nie. Gee ruimte aan mekaar en gee krediet vir suksesse wat behaal word. Die Afrikaner het wysheid en insig nodig.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

35 Kommentare

Nico K ·

Baie interessante artikel en natuurlik ‘n saak wat 2 kante het en moelik om regtig te weet wie is reg. En om die geskiedenis terugwerkend te oordeel is moeilik. Daardie tyd se mense het gedoen soos hulle dit in daardie tyd gesien het. Die term verraaier is in elkgeval baie relatief. Maar ons moet leer uit die geskiedenis en dit is ‘n baie geldige punt wat gemaak word. Daar is vandag nog mense wat glo ons moet baklei. Ek glo dit sal baie meer skade doen as goed. En dit is ‘n oorlog wat ons nie kan wen nie.

John ·

Why not write the above article in English since this is/was the only way to go? How certain are you that things would have turned out better for the Boers? Maybe Britain should have done things differently, not we. Engelse het nog altyd net in een ding belanggestel, skatte. Ons land se minerale-rykdom was/is no1-doelwit en daarom moes die Boere daarvan weerhou word om in die noorde nes te skrop of ‘n gaatjie in die grond te boor veral sedert een van die kerklikes ‘n stukkie spoelgoud opgetel het. Die aanslag was dus eintlik teen die Afrikaner se ondernemingsgees. Na die oorgawe het hierdie beheermentaliteit voortgeduur. Die vreeslike mensliewenheid van uitlanders tot vandag toe (nou weer Oosterlinge) gaan oor presies dieselfde ding. Besit ons boere ondergrondse regte? Watter regte het Afrikaners nou eintlik? Het die benadering teenoor Afrikaner enigsins verander sedert Brittanje voet-aan-wal gesit het? Wat staan geskryf in die ANC-vryheidsmanifes? Hoekom bly ons huidige verraaiers steeds in die land in huise en poste wat aan ander behoort en eet kos wat die ware eienaars, toekom? Is hulle nie ook maar verskuilde banggat bittereinders nie? Wie is die bewese ware eienaar van SA?

Piet ·

Indien die Britte die Boere Republieke nie aangeval het nie nie was die sterftesyfer zero en het ons nie vandag se gemors in die land gehad nie.

JC ·

Ek stem saam Piet, 100%, dankie! en almal weet by nou, of behoort te weet, dat die “heilige” GW slegs ‘n versinsel was, ten einde op nie-gewelddadige wyse magsbeheer te verky, net om mooitjies daarna die werklike doeleindes van die verdrukkers te bewerkstelling. In die verband het die howe wat veronderstel is om geregtigheid te laat geskied, hulle bewys as net ‘n verlengstuk van die ANC korrupte elite; wat ons land in die afgrond in dryf TOT NADEEL VAN ALMAL. Let wel, indien jy oenskynlik bereid is om jou siel, menslikheid, kultuur en taal en die SOMTOTAAL van wat jy is; te verwerp; en die polities korrekte of polities byderwetse pad van minste weerstand te loop; word jy skynbaar nie onderdruk nie, OF SO VERTEL JY JOUSELF…
Asseblief, moenie dit doen nie, moenie jou volk verloen nie, nie wanneer ons jou die nodigste het nie!

CJ ·

Willie se slotsom is dat Piet de Wet en die ander “verraaiers” eintlik die navolgenswaardige leiers was. Eerstens is dit onwys om ‘n direkte vergeleiking te maak tussen wat meer as ‘n 100 jaar gelede gebeur het, en waarna ons nou met ‘n mate van objektiwiteit en “hindsight” kan terugkyk, en die huidige, waarin ons persoonlik vasgevang is en nog nie die luuksheid het om te weet hoe die storie toe uiteindelik afgespeel het nie. Die oorvereenvoudigde siening dat dit die koppiges was (in hierdie geval Presidente Paul Kruger en Steyn, asook Generaals Christiaan de Wet en De la Rey), wat “hartseer, lewensverlies en armoede” oor die Afrikaner gebring het, maar dat die wyse verraaiers se voorbeeld nagevolg moet word, is jammer. Weet Willie hoe aktief verraaiers was in die verskroeide aarde beleid (oa afbrand van 30 000 plaashuise, asook dorpe en kerke; die vernietiging van boorde, landerye en vee en vergiftiging van water)? Weet Willie hoe aktief verraaiers was in die konsentrasiekampe. In die Irene kamp het die inwoners versoek dat ‘n verraaier as kampkommandant onthef moet word en liewer ‘n Engelsman aangestel moet word. Dit het feitlik onmiddelik daartoe gelei dat die sterftekoers afgeneem het. Weet Willie hoe aktief verraaiers was in die militêre stryd teen die Bittereinders – dat hulle formele soldate in Britse diens geword het teen hulle eie mense? Willie, ek verskil van jou. “Bittereinders” is vir my ‘n erenaam waarop ek trots is, “joiners” en “verraaiers” iets waaroor ek skaam is.

JC ·

Geagte Skrywer, lees asseblief Albert Blake se noukeurige geskiedenis oor Piet de Wet se optrede, te wete Broedertwis: Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet; en dan sal die antwoord tot jou vrae en die heldestatus van ons geliefde Genl. Christiaan Rudolf de Wet en die afstootlike optrede van die joiner Piet de Wet duidelik blyk.

Zumie ·

Twee kort opmerkings:
1) In die tyd van die koue oorlog was daar ‘n politieke party in (ek dink) Noorwee wat se beleid was – As die Russe inmasjeer speel ons oral oor luidsprekers dat ons oorgee en hulle is welkom. So ‘n beleid sal ALLE bates geboue en menselewens beskerm – nie waar nie- maar dit is maar net lafhartigheid en geestelike selfmoord vir ‘n volk. Jy sal lewende mense en geboue en selfs welvaart kan he maar geen (volks)trots en eiewaarde nie – en dan geen volk. Herman, (onthou – die verraaiers het geen nageslag nie ) as dit is wat wat jy wil se kan jy dit maar hou! Ek sou ook aanraai dat jy nooit so-iets voor oorlede genl de Wet sou se binne karwatslengte nie. Ek sal eerder met toiings aan my lyf en die trots van voorgangers soos de Wet en del la Rey as volk voortbestaan as n menslike identiteitlose tolbos in ‘n goue kou.
2) As die Piet de Wet en kie in beheer was tydens die vryheidsoorlig WAS daar NIE die geestelike volkswees skatte van ‘n genl de Wet en de la Rey nie. Die lewe laat mens ongelukkig kies – ek sal kies op ‘n basis wat ek selfrespek behou.

Veritas ·

Toé was toé en noú is noú. Daar is geen manier dat ‘n parallel getrek kan word tussen omstandighede toé en omstandighede noú nie. Hanskakies sal ons altyd by ons hê. Dit is die manier waarop ons hulle hanteer wat van tyd tot tyd verskil. Die sogenaamde ‘verligtes’ van die vorige bestel, is die liberale van vandag. Diegene wat die meeste praat en hulle dit aanmatig dat hulle die oplossings vir die probleme het en dat andersdenkendes nie die vermoë het om intelligent te redeneer nie. Dít wat die sogenaamde ‘verkramptes’ voorspel het, is tans besig om te gebeur en die einde is steeds nie in sig nie. Hoe gouer mense besef dat daar ‘n verskil tussen geleerdheid en wysheid met visie is, hoe beter sal dit gaan in Suid-Afrika.

Lynne ·

Kolskoot! 10/10 vir jou insiggewende en wyse perspektief! Baie dankie!

CJ ·

Willie. Dit is jammer dat jy so onverskillig met die geskiedenis is. Jy skeer generaals Piet de Wet en Marthinus Prinsloo sommer oor dieselfde kam. Daar is ‘n reuse verskil. Marthinus Prinsloo het op 30 Junie 1900 met omtrent 4 314 man te “Surrender Hill”, naby Clarens in die Oos-Vrystaat oorgegee, nadat die Boere daar tussen die berge vasgekeer is. (Terloops, generaal Christiaan de Wet en President Steyn het daar met omtrent 2000 man ontsnap en die stryd voortgesit.) Daar is diegene wat glo dat Marthinus Prinsloo ook moes probeer uitkom het, dat hy te maklik oorgegee het. Feite is, hulle het in ‘n geveg oorgegee en krygsgevangenis geword. Dit is nie wat Piet de Wet gedoen het nie. Hy was ook nie ‘n “hensopper” nie (Boere wat die moed en/of lus om verder te veg verloor het, die wapen neergelê het en die meeste het ‘n “eed van neutraliteit” afglê). Nee Willie, Piet de Wet het ‘n “joiner” (verraaier) geword. Hy het aktief saam met die Britte teen sy eie mense geveg. Maar jy dink die “wysheid en insig” van Piet de Wet en andere soos hy, is wat die Afrikaner vandag nodig het? Ek verskil van jou Willie – met alles in my, verskil ek van jou!

JC ·

Baie dankie tamboti, jy het die drade van die hele beginsel mooi saamgetrek, veral in die laaste sin. (woord en sin-JC Steyn-wat ‘n pragtige Afrikaanse gedig!)
Daar is dus ‘n duidelike keuse vir ons almal, net soos daar ‘n keuse was vir Genl. de Wet en ook ons ander geliefde; Genl. de la Rey.
Wat nie uit die oog verloor moet word nie, en wat pasifiste dikwels vergeet, is dat dit wat ek en jy nou doen, om te argumenteer en redeneer in ons geliefde taal, nie moontlik sou gewees het nie, was dit nie vir die optrede van ons helde nie. “Ons” sou nie gewees het nie, ons sou kultuurloos, eerloos, doelloos en erfenisloos rondgedobber het in die Suid-Afrikaanse landksap sonder enige anker, sonder ENIGIETS!

TDW ·

Goeie rubriek. Ek het al dikwels gewonder oor die 2de vryheidsoorlog, en hoe die arme vegtende boere self verantwoordelik was vir die dood van hul eie geliefdes deur die opblaas van treinspore en die buit van die goederetreine. Hulle het die kos basies uit hul kinders se monde gevat en die res verbrand, want die voedsel en medisyne kon nie die kampe bereik nie. Ook hoe hul eie mense wat die mees gehate hensoppers genoem was en aangestel is oor die mense in die kampe, wat in soveel boeke genoem word hoe hul die vrouens die wreedste hanteer het. Geen oorlog is rooskleurig met duidelike vriend en vyand nie. Die boere kon wreed opgetree het en al hul Engelse gevangenisse summier vermoor het, maar hulle het hul net verneder deur hulle naak terug te laat hardloop. Enige weermag leier sal dit nie eers oorweeg nie. Tot vandag toe is dit ons geloofsoortuiging om nie wreedhede met wreedhede te vergoed nie. Ons witmense word ook bevlek met slegte mense nes in enige ras, mens kan dit nie net aan een ras of geloof koppel nie. Dis ongelukkig wat ons regering nou spreek. Witmense en Westerse invloed het die swartskaap geword om hul eie onbevoegdheid toe te smeer. Dis nie goeie nuus vir ons nie. Want die swartmense se wreedheid teenoor hul vyand was deur die geskiedenis legendaries.

JC ·

Lees asb. ook Albert Blake se boek “Broedertwis: Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet” en sy “BOEREVERRAAIERS”. Dit gee ‘n akkurate en suiwer; EN NIE “HERSIENE” NIE; weergawe van die geskiedenis. Daarna sal daar bes moontlik saamgestem word dat die joiners en hendsoppers (1/5 van die totale manlike boerebevolking-O, WAT KON GEWEES HET WAS, DIT NIE VIR HULLE LAFHARTIGE EN AFSTOOTLIKE OPTREDE NIE????????) heel waarskynlik verantwoordelik daarvoor was, of ‘n rol gespeel het, dat ons die oorlog verloor het, dat ons vrouens en kinders so op allerverskriklikste wyse gely het in die ABO konsentrasie kampe, en dat hulle hulself aan die wreedste moontlike dade skuldig gemaak het deur vroumense en kinders op die plase aanhoudend te teister saam met swart bendes, en gesteel en geplunder het, en dat die joiners en hendsoppers verkwalik moet word en nie die bittereinders ons helde nie!! Ten slotte, moet in ag geneem word wat die die vyande self van die joiners gedink het…en of die Britte ENIGSINS lof gehad het vir die individue. NEE, die Britte het die joiners as lafharte gesien, en as bruikbare pionne in hul stryd teen die boere en as “disposable”.

CJ ·

TDW. Dit is die eerste keer ooit dat ek ‘n bewering hoor dat die gebrek aan kos in die konsentrasiekampe die Boere se skuld was omdat hulle treine opgeblaas het! Dit is doodeenvoudig nie die geval nie. Tydens die tyd van die konsentrasiekampe was die spoorlyne met blokhuislinies beskerm. Die ontwrigting deur Boeremagte was so min dat dit beslis nie die oorsaak van voedseltekort in die kampe was nie. Hoekom het die Britse soldate dan nie ook uitgehonger en uitgeteer nie? Nee, die redes is die veskroeide aarde beleid van die Britte (sien my ander skrywe), asook blatante opset – toe Swartmense vanaf die kampe vervoer is om Blanke plase te beset en te bewerk ten einde daardie las van die Britte af te haal, was daar skielik honderde treintrokke beskikbaar.
Dat dit in enkele gevalle mag voorgekom het, is moontlik, maar dit was beslis nie standaard praktyk om Britse krygsgevangenis “naak terug te laat hardloop” soos waarna jy verwys nie.

Tommie ·

Ek onthou die staaltjie wat iemand ons vertel het rakende die Tweede Vryheidsoorlog. `n Groepie van hierdie verraaiers het so ewe net na die Vredesluiting, hulle by `n Briste offisier gaan aanmeld om aanspraak te maak op die vergoeding wat hulle dan nou sou toekom vir hul aandeel om die boerewonings uit te wys, vroue en kinders te help aanjaag na konsentrasiekampe, en al die gruwelikhede tot voordeel van Brittanje. Die offisier het blykbaar heel belangstellend en aandagtig na die lang lys van “goeie dade” geluister.

Toe hulle uiteindelik klaar was, met hulle motivering, vir die betrokke vergoeding, het die offisier hulle gevra: “Now gentleman, what do you do with the water after you have used it to wash your dishes in?” Waarop een van die manne sê: “Ag ons skiet dit sommer by die deur uit”. Daarop het die offisier heel ernstig geantwoord: “Well there you go gentleman, thank you” en hulle die deur gewys. Druipstert en bedremmeld is hulle toe daar weg.

Dit illustreer hoeveel waarde die vyand regtig aan verraaiers heg. Hulle gaan jou maar net gebruik om hulle doel te bereik, met geen verdere eer en erkenning aan jou nie. In jou eie mense se oë is jy `n verraaier en sal daarvoor onthou word.

JC ·

Dankie Tommie, jy stel dit so, so mooi en korrek:) Die joiners het daarvoor gesorg dat daar vir dekades daarna nog wrewel en tweedrag was (want baie van hulle het geweier om te erken dat hulle optrede laakbaar en aaklig was, en dit bly verdedig teen alle logika in- dis omtrent die ergste van alles!) , selfs ‘n skeuring in die kerke het hulle voor gesorg!

Wessel ·

Willie, jou bron (NP van Wyk Louw) is waar jou probleem begin.

Frans C ·

Die oorsaak van die oorlog het nie by die Boere gelê nie ,maar wel in “Rhodes’s “Big Idea”.
In ‘n geheime brief skryf Cecil Rhodes aan Alfred Beit in Augustus 1895,soos volg:
‘Johannesburg is ready… (this is) the big idea which makes England dominant in Africa,in fact gives England the African continent.’

Die Boererepublieke het dus net eenvoudig in die pad van die ‘groot idee’gestaan.
En toe alles nou verby is hoe het die Engelse oor die Boere gevoel:
Op 21 Januarie 1901 skryf Milner in ‘n brief aan Richard Haldane soos volg:
‘Low types of animal organism will survive injuries which would kill organisms of a higher type outright.They die,too…but it takes time.For the moment the severed pieces wriggle very vigorously.’
‘n Minder bekende feit is dat die Engelse 10 000 swart mans bewapen het,wat ‘n skrikbewind onder die agtergeblewe plaasbewoners gepleeg het deur moord en verkragting.

Kry gerus Thomas Pakenham se ‘The illustrated Boer War’ in die hande as jy kan om van meer skokkende feite te leer.

JC ·

Frans, ek het Pakenham se hoog aangeskrewe boek aangeskaf, net nog nie tyd gekry om daaraan te lees nie, te midde van al die ander leesstof, maar dat dit een van dei mees bekendste en lofwaardigste boeke oor oorlogsgeskiedenis is, is gewis seker!
Ek sien Prof. Fransjohan Pretorius het ook nou ‘n nuwe boek uitgebring (by al die boekwinkels beskikbaar) juis met tema die verskroeide aarde beleid.
Die Britte was die agitators/aggressiewes/antagoniste, die feit dat hulle die ultimatum om hul troepe van die grens te verwyder geignoreer het bewys dit.

rassie ·

Moontlik moet ons as Afrikaners ons emosie eers bietjie opsy skuif en nugter oor ons bestaande realiteit besin voordat ons terme soos “joiners”, “hensoppers” “volksverraaiers” en “bitter einders” ligtelik op huidige omstandighede van toepassing maak.

Die verdeeldheid binne Afrikaner geledere is tans so groot dat daar slegs sprake is van Afrikaner splintergroepe en nie van “die Afrikaner” met ‘n eenheidsvisie nie. Dit ontbreek ook aan ‘n sentrale Afrikaner nasionale gesag wat oor die politieke mag beskik om die Afrikaner se toekoms te verseker.

Elke Afrikaner is dus aan homself oorgelaat.

Wanneer dit kom by ‘n praktiese bydrae dan is die getalle nog baie minder. Talle is apaties, ander assimileer of emigreer. Nog ander kritiseer enige goedbedoelde pogings deur Afrikaners vir die Afrikaner en hoop dat dit nie sal realiseer nie.

By gebrek aan ‘n wettige Afrikaner owerheid en ‘n gemeenskaplike Afrikaner toekomsvisie is die apate, assimilasioniste en emmigrante dus onder huidige omstandighede ook nie noodwendig “hensoppers”, “joiners” en “volksverraaiers” nie. Ten einde vir enige van hierdie te kwalifiseer moet daar allereers ‘n volkseenheid met ‘n eenheidsvisie wees. Dit bestaan ongelukkig nie en niemand kan dus namens die Afrikaner as geheel praat of vinger wys nie.

Die enigste oplossing vir diegene wat hulself oor die toekoms van die Afrikaner en Afrikaans bekommer en iets prakties daaran wil doen, is om by ‘n groep aan te sluit met ‘n wettige, moreel aanvaarbare en prakties uitvoerbare toekomsvisie vir die Afrikaner. Hulle sal moontlik eendag in die geskiedenis bekend staan as die “bitter einders”.

JC ·

Solidariteit, rassie? Daar is jou antwoord. Dit moet ook in ag geneem word dat daar(net soos vroeere jare) wesenlike verskille in benadering en uitkyk bestaan tussen die meer “kultuur-afdwingende/kultuur- aggressiewe” noordelike Afrikaners, en die meer liberale, gevestigde en “gemaklike/knus” Kaapse Afrikaners, wat nie noodwendig ‘n slegte ding is nie, en wat niemand se skuld is nie, maar ‘n historiese realiteit en verskynsel is. Enigiemand wat nie die verskille [en die wesenlikheid daarvan] erken nie, en dit nie inreken by ‘n oplossing nie, is besig met oeverblindery. Dit is nie nodig om alewig te bekommer, spekuleer of the debatteer oor ons toekoms nie, maar ons is in gevaar, en moet dienooreenkomstig optree. Bring net jou opregte kant, erken jou erfenis, en sluit aan by soveel as moontlik Afrikaner kultuurgroepe/instellings as jy kan(‘n goeie voorbeeld om ons kultuur lewend te hou is bv. die Eugene Marais Stigting, die FAK e.a.) en ondersteun nuwe kultuur-opvoedkundige instansies wat verantwoordelik sal wees vir kultuur en kennis oordag soos Akademia, Aros en die APA. Dring aan op Afrikaans, koop Afrikaans(boeke en literatuur) en ondersteun inisiatiewe soos Solidariteit se “Afrikaans Vriendelik” inisiatief. Afrikaners is ononderskeibaar van Afrikaans, en daarin le ons heil en toekoms. Ons kan!!

humor ·

Willie wanneer jy in die toekoms jou pen wil opneem moet jy sorg dat jy deur deeglike navorsing gerugsteun word. Dit gaan nie alleen oor wysheid aan die kant van die verraaiers nie maar ook aan die gebrek aan integriteit en morelewaardes wat geopenbaar is. Die eed van neutraliteit was grotendeels nie gevolg nie en hul aktiewe deelname was walglik. Na vreedesonderhandelng het n sekere engelse offensier aan general De Wet gevra wat dink hy van die verraaiers wat in n peliton verby masjeer het. Sy antwoord was:” Ek vervoei hulle soos die hel.”

JC ·

Korrek humor, het dit maar by die neutraliteits eed gebly ne…

humor ·

Ons moet ook in ag neem dat dit nie alleen die leiersfigure was wat bittereinders was nie maar ook talle ander o.a ook vroue in die haaglikste omstandighede wat n groot aansporing was dat tot die einde geveg moet word. Een faktor wat daartoe aanleiding gegee het was die immorele wyse waarmee die engelse die oorlog gevoer het.

JC ·

Definitief humor, daardie was brawe vroue, met murg in hul pype!

Lampies ·

Willie se beredenering is ‘n kwalik-bedekte vergoeiliking van die begrip “verraaier”. Hy benader sy onderwerp bepaald uit die oogpunt van die liberalis, wat hy inderwaarheid gelykstel aan die destydse “verraaiers” en “joiners”. Dit is duidelik dat hy die sogenaamde insigvolle optrede van ‘n Piet de Wet verhef bo die patriotisme en volkstrots van die ware bittereinders. Nee dankie, Willie, verfoeilik bly verfoeilik, al wil jy dit klee in mooiklinkende terme soos “insig” wat aan die dag gelê is, teenoor die dommes wat aanhou veg het. In elk geval, wat het die Engelse en hul “empaaier”hier kom soek? Wou hulle koekies en tee kom uitdeel in ruil vir die twee republieke se skatte?

Banggat ·

Daar is ook ondergrondse magte wat dwarsdeur die geskiedenis ‘n groot rol gspeel het. En daardie onheilige wêreldmagte is steeds aan die werk en as ‘n mens kyk na die “verstandiges” van ons dag se verbintenisse, sien jy hoe diep hierdie magte se invloed en beheer onder ons mense ingesluip het. Ongelukkig is dit lewensgevaarlik om meer besonderhede te noem. Wie ‘n oor het, laat hom hoor.

Susan de Klerk ·

Daar was nog altyd die verlange na Afrikaner-eenheid en dit is soos Jan Celliers dit verwoord het:
Daar klink ‘n lied,
daar bruis ‘n roep,
van Kaap to ower Vaal,
van Oos tot Wes, van strand tot strand,
Ons gee mekaar die broederband,
ons smee ‘n sterke eenheidsband
van Afrikaanse staal!

Wat sou hy vandag dink???????

CG ·

Willie. Dink jy regtig die verraaiers het insig gehad? Het wat hulle gedoen het die situasie beter gemaak? Bo en behalwe hulle aandeel in verskroeide aarde, konsentrasiekampe en Boere verliese op die slagveld, wat was hulle bydrae tot Afrikanereenheid? Tot vandag nog is daar verbittering. Het die verraaiers die realiteit in berekening gebring dat daar Boere was vir wie vryheid dierbaar was? Wat nie sommer net sou oorgee sonder om tot die uiterste te probeer om hulle vryheid te behou nie? My mening is dat die verraaiers juis nie wysheid en insig geopenbaar het nie, deurdat hulle optredes daartoe gelei het dat Afrikaner teen Afrikaner geveg het en dat die wonde daarvan tot vandag toe nog rou is. Insig is dat alle realiteite erken en in berekening gehou word. Die vryheidsideal van sommige Afrikaners is so n werklikheid.

CG ·

Willie. Jy het die versugting dat volksleiers teen Julie 1900 die visie moes he om oor te gee en die fisieke, geestelike en kulturele heropbou van die Afrikaners te begin. Hoe realities is dit? In Maart 1900 het die Boere Brittanje versoek dat vrede gesluit moet word. Die antwoord het behels dat onafhanklikheid van die Boererepublieke in so n vrede buite die kwessie is. Die Boere het reeds sedert 1806 probleme met die Engelse gehad. Hulle was so oortuig dat hulle net hulself kan wees indien hulle oor hulself regeer dat hulle reeds n Groot Trek onderneem het, n Vryheidsoorlog gevoer het (1880-81) en vir jare met die Britte onderhandel het om hulle vryheid te erken. Op grond waarvan sou hulle in 1900 n wonderlike toekoms vir hulself onder die Britte voorsien? Hulle kon nie die toekoms voorspel nie, soos die Unie in 1910 of Republiek in 1961 nie. Kon enige Afrikanerleier in 1994 voorsien het dat n staat binne sewe jaar en n republiek binne 61 jaar n Afrikaner as staatshoof sou he? Jou versugting is dood eenvoudig totaal onrealisties. Al waarop die Boere kon hoop was dat hulle weer hulle vryheid sou herwin wanneer die probleme in Europa tot uitbarsting kom – die Eerste Wereldoorlog. Min het hulle geweet dat eense Bittereinders teen daardie tyd “joiners” sou wees (Louis Botha en Smuts). Onrealistiese versugtinge oor hoe die geskiedenis moes wees, help glad nie ons pogings om lesse uit die geskiedenis te probeer leer nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.