Bittersoet beproewing

sonondergang_voels_vlieg_stiltetyd.jpg

Foto: kids-myshot.nationalgeographic.com

Deur Karin Venter

Wat is die ware betekenis van sukses volgens hedendaagse standaarde?

Word sukses gemeet aan die model kar waarmee jy ry of bloot net dat jy ’n kar het? As hy afbetaal is, nog beter. Of is sukses gelyk aan ’n graad met ’n bestuurspos by ’n bekende maatskappy? Met die huidige inflasie is dit dalk net om getroud te wees, met ’n paar kinders in die huis, en om vir almal te kan sorg!

Ek is 35 jaar oud, manloos, kinderloos, huisloos en die afgelope maand boonop werkloos. Ek kan nie plante aan die lewe hou nie, nie eens kaktusse nie, en my aardse besittings kan nie naastenby vergelyk word met ander jong werkendes van my ouderdom nie.

Ek voldoen glad nie aan die tradisionele standaarde van sukses nie en dit is ’n bitter beproewing. Hoe het ek tot hier gekom? Hoe “doen” ’n mens die lewe dan reg? Benoudheid het my begin beetpak oor die lys van suksesmeter-mislukkings agter my naam.

Dit was egter tyd om my af te vra waarom ek so angstig voel as ek ook vas glo God sal vir my sorg. Om brutaal eerlik met jouself te raak en boonop die tyd te hê om baie daaroor te dink, bied geen wegkomkans nie. My gevolgtrekking was sekuriteit en identiteit. Om Afrikaans en bo 30 te wees sonder ’n ring aan die vinger laat reeds wenkbroue lig. Ewe skielik het ek nie eens meer ’n werk of posvlak om my waarde aan te meet of sekuriteit te bied nie. Ek het gestroop gestaan, totaal buite beheer van my lewe en op my knieë. Die gedagte dat ek ’n klaaglike mislukking as mens en gelowige is, het al meer in my kop begin draai, want hoe leef jy jou Godgegewe roeping uit sonder ’n werk of mense om te versorg? Waarin vind jy jou identiteit sonder ’n “titel”, al is dit net Mevrou? Saam met die gevoel van mislukking het my vreugde in die Here bedreig begin raak.

Ek het toe begin doen wat elke beheervraat met te veel tyd doen: Lysies maak. Lysies van alles wat ek kan beheer. Eers was dit lysies van agentskappe, webblaaie vir werksoekers en name van alles en almal wat dalk ’n werkie vir my kon hê, skaamteloos. Daarna het ek begin met lysies van al die goedjies wat ek nou kan doen waarvoor ek nooit tyd gehad het nie, sommer ’n lys van potensiële dates ook …

Namate my regmerkies agter die take meer geraak het, het ’n gedagte stadig by my begin posvat. Ek het begin besef dat ek myself oorweldig deur te fokus op alles wat ek NIE het nie. Ja, ’n mens moet doen wat in jou beheer is, maar dit moet jou nie begin insluk nie. Diep binne my het ek begin tel – nie my uitdagings nie, maar my seëninge.

  • Ek het ’n asemrowende familie wat soos ’n laer om my getrek het.
  • Ek het vriende met reuseharte wat my met klein goedjies ondersteun en seker maak ek hou moed.
  • Ek het kos vir elke dag.
  • Ek het ’n plekkie om te bly waar ek warm slaap en my aardse besittings veilig kan hou.
  • Ek het soveel besittings dat ek nog kan uitdeel vir ander. Eintlik te veel, het ek besluit toe ek begin inpak vir die trek.
  • Ek het ’n gesonde liggaam.
  • Ek het ’n kar waarmee ek kan rondry en ’n geleende skootrekenaar met internettoegang om werk te soek.
  • Ek het TYD! Tyd om te dien, ondersteun en meer kans vir stiltetyd.

Die soet gedagte het tot my deurgedring dat ek nie ’n enkele ding kortkom van dit wat ek nóú in my lewe nodig het nie. God het in alles voorsien en dit is vir my genoeg. Dit is miskien nie baie gemeet aan tradisionele standaarde nie, maar dit vul my hart met ’n diep vrede om te weet God sien my. Ek het ook besef dat my identiteit en sekuriteit in Christus is, as sy kind wat Hy wil versorg. Ek voel miskien buite beheer, maar Hy het my hele lewe in sy hand. Ek het nog steeds nie ’n werk, ’n man of kinders nie, maar ek konfronteer myself nou om te fokus op die lysie van seëninge en my vreugde daarin te vind. Ja, in dit wat God voorsien het. Dit is my sukses, my bittersoet beproewing.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leon ·

Pragtig geskryf en verwoord. Sal nie se ek is bly nie, ek weet ten minste net daar is nog mense soos ek! Hoe harder ons probeer, hoe meer is die pyne! Maar hou moed soos ‘n Job van ouds.

Xa ·

Om vir n groot matskappy te werk beteken die persoon is n volger, nie n skepper van nuwe sukses nie. Dit verg baie meer om iets kleins te begin en self te groei as om deel te wees van n groot monopolie wat ander onderdruk.

naetta ·

Al waaraan ons ons ooit MOET meet is die lys wat God vir ons gegee het. Ja ander goed lyk vir ons belangrik want ander mense het dit dan maar alles hier is net n tent woning so dis belangrik om jou regte huis eerder op te bou volgens God se lys as n tent volgens ons lys wat so maklik kan omwaai.

Elizabeth ·

Toe ek geskei is en in die proses my man, huis en adres, my droom om ‘n gesin te he verloor het was ek verslae. Metterwoon het ek in my hart van harte agtergekom ek is nie alleen nie want God is nog by my. My lewensuitkyk het radikaal verander. Voorheen het dit meer oor my gegaan as ander. Vandag gaan dit vir my meer om ander te bemoedig en by te staan wat ook deur die lewe ontnugter is.

SkarrelKind ·

Karin – as mens ‘n mens aaan ander gaan meet, put dit ‘n mens uit. Daar sal altyd iemand wees met ‘n groter huis, duurder televisie en die 4×4 wat ek nie kan bekostig nie. Maar die ander kant van die munt is ook waar: daar sal altyd mense wees met minder as ek – en hulle “maak dit”.
So, om net moed te hou en jou seëning en jou ervarings te verwelkom, is wys van jou.
Ek hoop jy kry ‘n werk wat jou baie gelukkig sal maak sodat jou lewe na normaal terugkeer. In tussen leer jy baie en jou word sterker. Sterkte vorentoe.

En rykdom lê in mens se hart. ‘n Groot huis en vet bankrekening beteken niks as daar nie ook goud in die hart is nie. Ek steur my nie aan “die eksterne” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.