Blind is my wêreld

blind-blinde-persoon

Foto: Societyfortheblind.org

Tanya Blignaut van George het die volgende skrywe gedeel:

Ek is die trotse “kleinsussie” van Quinten Pendle. Hy is ’n blinde man van 47 wat die onderstaande stuk geskryf het. Vir my was dit ʼn reuse-openbaring, asof my eie oë letterlik oopgegaan het, want ek het saam met hom grootgeword, en vir my was hy maar nog altyd normaal soos enige iemand anders se ouboet was. Maar hierdie stuk wat hierdie briljante man geskryf het, wil ek graag met Maroela Media se lesers deel.

 Ek hoop dit kan iets vir iemand beteken.

Quinten aan die woord:

Daar is al so baie gepraat en geskryf hieroor, maar vandag gaan ek op my eie seepkis klim en my eie perspektief deel met wie ook al belangstel om te luister.

Of dit nou weens die aard van die werk is wat ek doen, of dit nou ʼn skoolfunksie van my vrou of seuntjie is, en of dit nou ʼn familiegeleentheid of iets by die kerk is, gebeur dit gereeld dat ek by plekke en geleenthede is waar groot groepe mense byeen is. So is dit dan ook dat ek gereeld “nuwe” mense vir die eerste keer by hierdie funksies ontmoet. Baie mense kies om met my kennis te maak, en heelwat van hierdie mense het deur die jare lewenslange vriende geword.

Die een ding waarmee letterlik elke persoon wat my pad kruis, gekonfronteer word, is my blindheid. (Kom ons noem dit nou maar prontuit en op die naam.) Vir baie mense is dit nie ʼn probleem nie, want hulle het dit reggekry om verby die “algemene” stigma van die sogenaamde breë publiek te kyk, en om my as mens raak te sien, te midde van al my tekortkominge.

Maar kom ek deel gou ʼn paar geheime: Ek word ook elke dag, elke oomblik, elke sekonde van elke liewe dag met my eie blindheid gekonfronteer.

Gaan dit my help om ʼn vloermoer te gooi en om met alles in my daarteen te stry en baklei? Gaan dit my blindheid wegneem? Raai wat? Dit gaan nie… nie as dit nie deel van die Voorsienigheid se groter plan vorm nie.

Kom ek verduidelik gou: Goed wat vir jou en die volgende persoon tweede natuur is, is nie altyd oral heeltemal so eenvoudig en maklik hier nie… daar moet party keer maniere gevind word om sekere dinge te hanteer. Die groot geheim hier, is om doelbewus probleme te oorkom, en om nie maar net bes te gee omdat jou blindheid in jou pad staan nie. In verstommend baie gevalle kan ek en jy presies dieselfde werk doen en het ons waarskynlik dieselfde kwalifikasies – al beteken dit dat ek, om dieselfde dinge in die lewe te bereik as jy, twee keer, selfs drie keer so hard soos jy moet werk, drie keer so veel effort as jy moet insit.

Om ʼn eenvoudige, maar praktiese voorbeeld te noem: By ʼn geselligheid, soos byvoorbeeld ʼn vingerete ná afloop van, sê nou maar, ’n konsert, gaan ek regtig sukkel om vir myself ietsie te eet en te drink te kry as daar ʼn klomp ander mense is wat tegelykertyd probeer om dieselfde gedoen te kry, en dit is dus net meer prakties dat iemand anders my daarmee help.

Maar, as daar ʼn wil is, is daar gewoonlik ʼn weg. Regtig, glo my.

Maak my blindheid my anders as jy? Dit hang af van hoe jy daarna kyk. Miskien tog wel in ʼn baie klein mate, want hoe ek dinge en gebeure beleef en ervaar, mag dalk verskil van hoe jy dieselfde goed beleef. Maar oor die algemeen is ek en jy presies dieselfde geskape, albei met ore, hare, hande, vingers, bene, tone, ʼn neus, hopelik ʼn gesonde verstand en goeie sosiale vermoëns, en dalk met ewe min of baie geld in die bank. Ons stel waarskynlik in ʼn klomp gemeenskaplike goed belang – ek en jy kan eintlik so baie by mekaar leer: ek het, soos jy, ʼn gesin, ʼn vrou en ʼn seuntjie – albei “normaal”. Daar is wel een klein verskilletjie: My oë werk nie heeltemal so lekker saam nie. Maar, is ek regtig soveel anders as jy?

Wat is die een ding wat vir my die moeilikste is om mee saam te leef? Ander mense se self-opgelegde of self-uitgedinkte of geformuleerde persepsies en veralgemening oor my as persoon, as gevolg van my blindheid. Mense is verbasend flink om persepsies te vorm, of om sommer net iemand anders se wanopvattings oor jou as mens aan te neem en slaafs aan te hang.

So het ek al verskeie kere in my lewe heel per ongeluk moes aanhoor hoe mense met, byvoorbeeld, my “arme vroutjie” simpatiseer, oor sy dan nou met ʼn blinde man gaan staan en trou het. Die arme vrou van my moet nou net mooi alles in ons huishouding doen, want “shame, haar arme blinde man kan mos nou amper niks doen nie”. En nee, ek oordryf nou glad nie. Daar is steeds, vandag, in 2018, mense wat onder so ʼn tragiese wanopvatting asemhaal.

Om sulke goed te hoor, maak tog bietjie seer, weet jy? Ja, ons as gesin moet aanpassings maak, dis onafwendbaar, maar hierdie aanpassings sny na twee kante toe… daar is sekere goed waarmee ek my vrou help wat ander “siende” mans nie noodwendig doen nie. En ek sê nou niemand sleg nie, hierdie is net ʼn feit.

Sou ek graag wou sien? Hel! En hoe! Jy het nie ʼn idee hoe bitter graag nie! As ek kon sien, sou ʼn klomp goed soveel makliker gewees het, nie net vir my nie, vir al die mense na aan my ook. Maar, weer eens: as dit nie so bestem is nie, dan is dit doodeenvoudig nie, en dan moet ek die beste maak van my omstandighede. Dan moet ek vrede maak met wat ek het, dankbaar wees vir die res van die talente en kwaliteite wat die liewe Heer aan my toevertrou het. En dis wat ek elke liewe dag probeer doen.

Sommige dae werk dit beter as ander, maar of ek slaag daarin, hang daarvan af dat ek elke dag ʼn paar doelbewuste besluite neem om situasies, sommige nogal taai, te oorbrug. En met vrede in my hart is dit makliker, hoewel die begeerte om te kan sien altyd iewers, onderliggend bly… Ek is, alles in ag genome, presies nes jy: net ’n mens.

Die ander dag gesels ek met iemand baie na aan my, en die persoon kom toe tot die gevolgtrekking dat baie meer mense gemaklik gaan wees in my geselskap as hulle my “net eers gewoond geraak het”. Daar is seker bietjie waarheid hierin, hoewel ek nie kan help om te wonder oor die gewoond raak-deel nie. Waar lê die eintlike struikelblok, in my blindheid, of in ander mense se persepsie daarvan?

Vir my as blinde is elke liewe dag eintlik ʼn opvoedingstaak ten opsigte daarvan om sogenaamde normale of siende mense te probeer leer dat blinde mense oor die algemeen eintlik net so normaal soos hulle is. Ek gee toe dat daar soms goed gebeur wat blinde persone pateties laat voorkom, en ek kan seker nie mense kwalik neem wat as gevolg van sulke voorvalle vasklou aan hul ou persepsies nie… Tog wonder ek dan net of ʼn mens ooit in hierdie opvoedingstaak gaan slaag? Of is hierdie nou louter wensdenkery?

Ek sluit af: Soms kom die volgende sin onwillekeurig by my op: “Daar is niemand so blind soos hy wat nie wíl sien nie.”

Ek sien dalk nou nie met my oë nie, maar glo my vry, ek sien diep, en ek sien báie. Nou wonder ek maar net: Wat sien jy?

 (Vrywaring: Menings wat die skrywer hier uitspreek, is sy eie, en verteenwoordig glad nie enige ander persone met watter gestremdheid ook al nie, hoewel jy baie welkom is om hierdie met ander te deel.)

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Maria ·

Baie dankie goeie woorde wat jy met ons deel dit waar…..Mense dink aan gestremdes wat van jouself1
Weet jy…. dit so hardseer dat die gesonde mense met geen gestremde het nie PAS nie hulle eie liggaam mooi op nie asook nie waardeering nie vernietig dit!. Ek reeds doof gebore dit niks gewoond daaraan……maar om ook sig te verloor besef alles mooi is sien sien jy mis en om sport te kan doen. Dink daaroor elkeen wat lees …..wees dankbaar!
Gestremde mense Here maak ons sterk!

Salomè ·

Die stuk het my Hart aangeraak.

Ek het self verskeie swaksiende en blinde vriende. (Hulle is almal so spesiaal in my lewe!)
My lewensmaat Dian is ook blind.
En alhoewel ons aanpassings maak en ek as vrou bv. bestuur wanneer ons iewers heen gaan en hom lei as ons in ‘n vreemde plek is.
Hy kan nie sien hoe ek lyk om vir my te se ek lyk goed as ek o.a. met n nuwe haarstyl by die huis kom of n nuwe rok aan het nie. Wat hy WEL kan doen is om vir my te se ek is PRAGTIG van Binne en dit beteken so veel meer!!
Hy is ook op soveel ander maniere daar vir my en help hy my met dinge wat ek nooit voorheen in my huwelik met ‘n ‘Normaal Siende’ persoon ervaar het nie. Dit was net aanvaar dat sekere dinge nie nodig is nie.
Hy is emosioneel daar vir my en ondersteun my in als wat ek aanpak!
Dit als maak die paar aanpassings soveel keer die moeite werd!

Ongelukkig is daar soveel ‘Normaal Siende’ mense wat nie weet hoe om sy blindheid te hanteer nie. Praat eerder met my as met hom, wanneer die vraag bv deur hom geantwoord moet word en soveel meer!!

Dis nie altyd maklik nie maar ek veruil nie my blinde man vir enige ander ou nie!!

ou joe ·

So inspirerende skrywe, ek dink aan Andrea Bocelli julle altwee inspireer my en ek kan sien. Traan in die oog. Waardeer.

Blommie ·

Dis verskriklik mooi en waar en ek is so bly vir hierdie brief en ek kan met eerlikheid se dat mens altyd die een of ander persepsie sal he. Mens veralgemeen tog so maklik en ek het as kind altyd “soos ons die tannie geroep het” blinde ou tannie gaan kuier en ek het soveel vra gehad wat ek net nie oor my hart kon kry om te vra vir die tannie nie.
Soos bv: sal Tannie wil sien, wat het gebeur, het tannie al gesien, het tannie drome… En soveel meer en uit hierdie brief het ek vandag n baie beter persepsie van iemand wat blind is en ek is dankbaar vir hierdie brief en ek sal nooit weer dieselfde dink oor iemand wat blind is nie. Jy is 101% reg, jy is ook net n mens soos elke een op aarde.
Baie sterkte en baie dankie dat jy my meer sin in hierdie saak gegee het!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.