Boerseun by die VN maak appèl op gemeenskap om te help

jacobus-du-plessis

Jacobus du Plessis. Foto: Verskaf.

Jacobus du Plessis skryf:

As ʼn 24-jarige trots Suid-Afrikaanse man het ek al ʼn paar mylpale bereik, maar dis nog maar die begin van my lewenspad en ek het nog baie ideale wat ek nastreef.

Ek het in ʼn normale middelklashuis in Benoni grootgeword en nooit enige gunste en gawes ontvang nie. Ek het my skoolopleiding in staatskole gehad omdat private skole eenvoudig te duur was. Ek het al op ʼn jong ouderdom besluit om oorsee te gaan studeer weens die diskriminasie teenoor wit Afrikaanse mans.

Ek het aan Benoni High School gematrikuleer en met sewe onderskeidings geslaag. Daarna het ek by verskeie oorsese universiteite aansoek gedoen om regte te gaan studeer. Die doel was om soveel moontlik ondervinding oorsee op te doen en dan die kennis aan te wend as ek later na my geboorteland terugkeer. Die universiteit van Cardiff, een van die top-regsfakulteite in Brittanje, het my aansoek aanvaar. Maar dit was ongelukkig te duur vir my gesin om te bekostig. Daarom het ek op die Universiteit van Kaapstad (UK) besluit en beplan om op ʼn later stadium my studie oorsee voort te sit.

Ná afloop van my eerste jaar was ek een van die tien top-LLB-studente, maar ten spyte van die prestasie, het ek uiters onwelkom gevoel. As ʼn trotse Afrikaner het die weergawe van geskiedenis wat op ons afgedwing is, my dwars in die krop gesteek. Dit het my laat voel asof ek as die enigste verteenwoordigde Afrikaner persoonlik vir die verlede verantwoordelik gehou word. Dit was uiters frustrerend om nie my opinie in dié politieke omgewing te kon lug nie. Ek het aan die einde van die studiejaar weer aansoek gedoen by oorsese universiteite, waar ek myself kon uitleef en my volle potensiaal bereik, sonder die gepaardgaande politieke bagasie.

Met my uitstekende punte aan die einde van my eerste jaar aan UK het ek aansoek gedoen by verskeie universiteite waar die Engelse algemene regstelsel van toepassing is, onder meer in Brittanje, Australië, Singapoer en Hongkong. Ek was bevoorreg om ʼn beurs van die Hongkongse regering te ontvang, wat die grootste gedeelte van die onderrigkoste dek. Hongkong is een van die duurste stede ter wêreld, maar deur baie harde werk en onbaatsugtige ondersteuning van my familie het ek daarin geslaag om my studies voort te sit. My finale jaar begin in September 2017 en ek gradueer in Junie 2018.

Tydens my studie was ek bevoorreg om uitgebreide blootstelling te kry wat van toepassing is op internasionale reg en internasionale mensereg. Ek het waardevolle ondervinding opgedoen deur verskeie kursusse te voltooi en deel te neem aan kompetisies soos die Jessup International Moot (skynhofkompetisie). Ek was ook werksaam as navorsingsassistent vir verskeie professore wat in menseregte spesialiseer onder andere vir ʼn genoot aan die British Institute of International and Comparative Law, een van die wêreld se voorste navorsingsinstitute vir internasionale reg.

Vroeër vanjaar het ek aansoek gedoen vir ʼn internskap by die VN- kantoor van die hoëkommissaris vir menseregte (OHCHR) se eenheid vir spesiale prosedures in Genève in Switserland. Laasgenoemde is verantwoordelik vir die monitering van nasies wêreldwyd met betrekking tot hul verpligte nakoming onder sekere internasionale menseregteverdrae byvoorbeeld die internasionale verdrag vir burgerlike en politieke regte.

Met my hart in my keel het ek al die nodige aansoekvorms vir die VN-internskap ingevul en vol moed gewag om te hoor of ek gelukkig genoeg sal wees om aanvaar te word. Ek is verlede maand in kennis gestel dat ek vir die internskap gekeur is. Dit strek van 20 Junie tot 31 Augustus 2017. Dit is ʼn geweldige eer om daarvoor gekeur te word en laat my voel soos ʼn atleet wat vir die Olimpiese Spele kwalifiseer.

Dit is ʼn geleentheid wat min toekom en wat ek met albei hande wil aangryp. Alle VN-internskappe geskied op ʼn pro bono-basis. Die lewenskoste in Switserland is onsettend hoog en my maandelikse uitgawes word konserwatief op sowat R20 000 geraam. Daarom nader ek die Afrikaner-gemeenskap vir finansiële bystand en hoop om die kennis wat ek in die proses opdoen later te kan terugploeg.

  • Lesers wat Du Plessis wil ondersteun kan sy skarebefondsingblad gaan besoek vir meer inligting.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
catryn

Jacobus, sterkte met jou uitdaging en baie geluk met ‘n uitsonderlike prestasie. Hoop en vertrou jy is reeds vertroud met ‘n paar nuwe dinge en sal dit enduitvoer.

Delarey

Welgedaan Jacobus! Anton Rupert kon destyds kies en keur uit werksgeleenthede maar was vasbeslote om in besigheid in te gaan omdat daar destyds so min suksesvolle Afrikanersakemanne was. Die res is geskiedenis. Jou doelgerighteid en lojaliteit aan jou gemeenskap is inspirerend. Span jouself in, kry die ondervinding en kom ploeg terug in jou gemeenskap.

Dellaq

Baie geluk met jou wonderlike prestasies!. Wys net wat harde werk kan doen, hetsy werk, of studies. Voorspoed met jou toekoms. Jy sal ver kom

Nelia

Ek is die trots mamma van hierdie wonderlike seun!

JC

Welgedaan Jacobus!
Jy is voorwaar iemand om op trots te wees, en ‘n voorbeeld vir alle ander jong Afrikanermans.
Sterkte met alles, en ek weet dit sal voor die wind gaan.
Net ‘n vraag: kan Afriforum en Helpende Hand studiebeurse nie die uitmuntende en verdienstelike jong man finansieel ondersteun nie, dit is tog waarom ons as lede Solidariteit en sy susterliggame ondersteun, sodat jong Afrikaner mense soos Jacobus geleenthede soos die kan benut waarvoor hy nou gekeur is? EK WEET SOLIDARITEIT SAL ‘N PLAN MAAK OM HOM BY TE STAAN.