Lesersbrief: Boerseun by die VN maak appèl op gemeenskap om te help

jacobus-du-plessis

Jacobus du Plessis. Foto: Verskaf.

Jacobus du Plessis skryf:

As ʼn 24-jarige trots Suid-Afrikaanse man het ek al ʼn paar mylpale bereik, maar dis nog maar die begin van my lewenspad en ek het nog baie ideale wat ek nastreef.

Ek het in ʼn normale middelklashuis in Benoni grootgeword en nooit enige gunste en gawes ontvang nie. Ek het my skoolopleiding in staatskole gehad omdat private skole eenvoudig te duur was. Ek het al op ʼn jong ouderdom besluit om oorsee te gaan studeer weens die diskriminasie teenoor wit Afrikaanse mans.

Ek het aan Benoni High School gematrikuleer en met sewe onderskeidings geslaag. Daarna het ek by verskeie oorsese universiteite aansoek gedoen om regte te gaan studeer. Die doel was om soveel moontlik ondervinding oorsee op te doen en dan die kennis aan te wend as ek later na my geboorteland terugkeer. Die universiteit van Cardiff, een van die top-regsfakulteite in Brittanje, het my aansoek aanvaar. Maar dit was ongelukkig te duur vir my gesin om te bekostig. Daarom het ek op die Universiteit van Kaapstad (UK) besluit en beplan om op ʼn later stadium my studie oorsee voort te sit.

Ná afloop van my eerste jaar was ek een van die tien top-LLB-studente, maar ten spyte van die prestasie, het ek uiters onwelkom gevoel. As ʼn trotse Afrikaner het die weergawe van geskiedenis wat op ons afgedwing is, my dwars in die krop gesteek. Dit het my laat voel asof ek as die enigste verteenwoordigde Afrikaner persoonlik vir die verlede verantwoordelik gehou word. Dit was uiters frustrerend om nie my opinie in dié politieke omgewing te kon lug nie. Ek het aan die einde van die studiejaar weer aansoek gedoen by oorsese universiteite, waar ek myself kon uitleef en my volle potensiaal bereik, sonder die gepaardgaande politieke bagasie.

Met my uitstekende punte aan die einde van my eerste jaar aan UK het ek aansoek gedoen by verskeie universiteite waar die Engelse algemene regstelsel van toepassing is, onder meer in Brittanje, Australië, Singapoer en Hongkong. Ek was bevoorreg om ʼn beurs van die Hongkongse regering te ontvang, wat die grootste gedeelte van die onderrigkoste dek. Hongkong is een van die duurste stede ter wêreld, maar deur baie harde werk en onbaatsugtige ondersteuning van my familie het ek daarin geslaag om my studies voort te sit. My finale jaar begin in September 2017 en ek gradueer in Junie 2018.

Tydens my studie was ek bevoorreg om uitgebreide blootstelling te kry wat van toepassing is op internasionale reg en internasionale mensereg. Ek het waardevolle ondervinding opgedoen deur verskeie kursusse te voltooi en deel te neem aan kompetisies soos die Jessup International Moot (skynhofkompetisie). Ek was ook werksaam as navorsingsassistent vir verskeie professore wat in menseregte spesialiseer onder andere vir ʼn genoot aan die British Institute of International and Comparative Law, een van die wêreld se voorste navorsingsinstitute vir internasionale reg.

Vroeër vanjaar het ek aansoek gedoen vir ʼn internskap by die VN- kantoor van die hoëkommissaris vir menseregte (OHCHR) se eenheid vir spesiale prosedures in Genève in Switserland. Laasgenoemde is verantwoordelik vir die monitering van nasies wêreldwyd met betrekking tot hul verpligte nakoming onder sekere internasionale menseregteverdrae byvoorbeeld die internasionale verdrag vir burgerlike en politieke regte.

Met my hart in my keel het ek al die nodige aansoekvorms vir die VN-internskap ingevul en vol moed gewag om te hoor of ek gelukkig genoeg sal wees om aanvaar te word. Ek is verlede maand in kennis gestel dat ek vir die internskap gekeur is. Dit strek van 20 Junie tot 31 Augustus 2017. Dit is ʼn geweldige eer om daarvoor gekeur te word en laat my voel soos ʼn atleet wat vir die Olimpiese Spele kwalifiseer.

Dit is ʼn geleentheid wat min toekom en wat ek met albei hande wil aangryp. Alle VN-internskappe geskied op ʼn pro bono-basis. Die lewenskoste in Switserland is onsettend hoog en my maandelikse uitgawes word konserwatief op sowat R20 000 geraam. Daarom nader ek die Afrikaner-gemeenskap vir finansiële bystand en hoop om die kennis wat ek in die proses opdoen later te kan terugploeg.

  • Lesers wat Du Plessis wil ondersteun kan sy skarebefondsingblad gaan besoek vir meer inligting.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

catryn ·

Jacobus, sterkte met jou uitdaging en baie geluk met ‘n uitsonderlike prestasie. Hoop en vertrou jy is reeds vertroud met ‘n paar nuwe dinge en sal dit enduitvoer.

Delarey ·

Welgedaan Jacobus! Anton Rupert kon destyds kies en keur uit werksgeleenthede maar was vasbeslote om in besigheid in te gaan omdat daar destyds so min suksesvolle Afrikanersakemanne was. Die res is geskiedenis. Jou doelgerighteid en lojaliteit aan jou gemeenskap is inspirerend. Span jouself in, kry die ondervinding en kom ploeg terug in jou gemeenskap.

Dellaq ·

Baie geluk met jou wonderlike prestasies!. Wys net wat harde werk kan doen, hetsy werk, of studies. Voorspoed met jou toekoms. Jy sal ver kom

Jakalas ·

Nelia, baie geluk aan hom en julle. Dis ‘n groot prestasie. Hy moet die Afrikaner se naam hoog hou terwyl hy sy plig doen by die VN. Hoop hom alle beste toe vir die toekoms. Ek het nie veel nie, maar wat ek kan bymekaar krap, sal ek probeer gee.

JC ·

Welgedaan Jacobus!
Jy is voorwaar iemand om op trots te wees, en ‘n voorbeeld vir alle ander jong Afrikanermans.
Sterkte met alles, en ek weet dit sal voor die wind gaan.
Net ‘n vraag: kan Afriforum en Helpende Hand studiebeurse nie die uitmuntende en verdienstelike jong man finansieel ondersteun nie, dit is tog waarom ons as lede Solidariteit en sy susterliggame ondersteun, sodat jong Afrikaner mense soos Jacobus geleenthede soos die kan benut waarvoor hy nou gekeur is? EK WEET SOLIDARITEIT SAL ‘N PLAN MAAK OM HOM BY TE STAAN.

Jacobus ·

Baie dankie JC! Ek het al vir die Helpendehandstudiefonds gekontak en hulle het my ongelukkig laat weet dat hulle my nie kan bystaan nie omrede die fonds slegs vir opleiding binne Suid-Afrika is.

“Ons mandaat is om Suid- Afrikaners binne SA grense te help, ons kan ongelukkig nie jou help met opleiding buite SA se grense nie.”

Baie teleurstellend, maar nou ja hulle het seker goeie redes daarvoor…

Weereens baie dankie vir die gawe woorde.

Jakalas ·

Jacobus, dis mos nou nie reg van hulle om so te maak nie. Hulle behoort hulle te skaam. Ek glo die gemeenskap sal jou kan help.

Will ook net sê wel gedaan. Ek is nou 25 en ek wens ek kon beryk het wat jy bereik het toe ek 24 was. Baie mooi so man. Hou ons naam hoog.

Henry ·

Ek wonder waarom die boerseun wat ‘n Engelstalige skool in Suid Afrika bygewoon het, so verras en teleurgesteld is met Helpende Hand se antwoord.

Ek kan geen fout met HH se antwoord vind nie. Inteendeel, ek en my pelle sou vir seker bitter teleurgesteld en verras wees indien HH aan die boerseun se versoek voldoen het.

Wonder of die boerseun nie eerder by die Engelse skool wat hy bygewoon het en by Engelstalige instellings moet aanklop nie. Hulle het seker soortgelyke organisasies soos ons Afrikaanse mense se Helpende Hand, Afriforum of hoe???

Lee ·

Baie geluk Jacobus! Sjoe dis ‘n groot prestasie. Hoop en bid vir net die beste en blinkste toekoms planne vir jou. Hou so aan!

Lee ·

Het sopas op die skakel bo ingegaan en ietsie betaal om te help. Sterkte

Jacobus ·

Dis baie gaaf van jou Lee, ek waardeer dit ongelooflik baie.

Dries Theunissen ·

Baie geluk jongman, as ‘n mede Suid-Afrikaner is ek trots om van ‘n jong man te verneem wie se kop reg op sy lyf vasgeskroef is, jy gaan dit nog ver bring daavan is ek oortuig. Dit is goed dat jy nie na GB toe gekom het nie, en veral die Wallies universiteite is so lingsgesind veral teen wir Afrikaaners, ek praat van ondervinding. Sterkte vir die toekoms, ek is seker ons gaan nog baie van jou hoor.

Ken2 ·

Ek is baie trots op die jong man en hy gaan nog baie ver kom en nog baie mense help met hulle menseregte.

John ·

Een van ons Afrikaners se mooiste kenmerke is sekerlik ons innige nederigheid waaroor hierdie boerseun skynbaar in oordaad beskik.

Koos ·

Baie geluk aan die uitblinker en sy familie.

Ek wil graag help, maar kan dalk net ‘n privaat oorbetaling doen. Jul web program maak dit nie vir my moontlik nie. Besit nie ‘n Krediet kaart nie of RSA bankrekening nie.

Net ‘n vraag, in die berig word die datum van Junie -Aug deur gegee, Is jy tans in Switserland?

Jacobus ·

Baie dankie vir oom se gawe woorde. Ja, ek is tans in Switserland. Miskien kan ek persoonlik met oom kommunikeer per epos. My epos adres is [email protected].

Vannessa ·

Nie n gepaste berig nie. Daar is baie mense wat hul eie bordjie moet krap.
Moes ook maar al van baie goed afsien weens n tekort aan geldelike hulpbronne.
My voorstel is kry n betalende werk en takel dan jou ambisies later as jy dit kan bekostig.

Eugene ·

Vanessa ,die mannetjie dink maar net bietjie groter as jy.
Daar is plek in die samelewing vir alle denkers.
Gee eerder n woord van wysheid asseblief boervrou …

Vannessa ·

Ag kom ons wees realisties.
Die “boerseun” het na n Engelse skool gegaan en wil net by Engelse universiteite studeer. Nou soek hy geldelike ondersteuning vir n oorseese avontuur.
Die kanse dat hy ooit weer Suid-Afrika toe sal kom buiten vir n vakansie is uiters skraal.

Oomekonoom ·

Vanessa is reg. Daar is baie talentvolle mense wat in ons eie land wil studeer. Mens begin onder en werk jouself op met tyd. Daar is niks fout met potch, Akademia nie. Jy kan ook kortkursusse van top oorsese universiteite soos Stanford doen deur coursera vir R1000.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.