Brief aan NWU-raadsvoorsitter

Prof. Francois Venter, ʼn oud-dekaan van die Noordwes-Universiteit se regsfakulteit, het die onderstaande brief aan die NWU-raad geskryf na aanleiding van ʼn brief van prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, wat vroeër vandeesweek in Beeld verskyn het. Die brief is gerig aan adv. Johan Kruger, voorsitter van die NWU-raad.

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Geagte dr. Kruger,

Vir my as alumnus en voormalige lid van die NWU-raad is die verwikkelinge rondom die institusionele bestuur van die universiteit ʼn ernstige bron van kommer. My bekommernis dat die motiewe onderliggend aan die bestuur en strategiebeplanning toenemend irrasioneel en persoonsgebonde raak, is verdiep deur die brief van die visekanselier wat Beeld op 7 Julie 2015 geplaas het.

Dit blyk uit die brief dat die beweegredes agter verskeie optredes van prof Kgwadi sedert sy huidige aanstelling, te vinde is in ʼn siening dat hy ʼn persoonlike slagoffer van sy voorganger en kollegas se optrede is. Sy uitgesproke wens om die wêreld te oortuig van mense se veronderstelde bedoeling om hom in die uitvoering van sy verantwoordelikhede as bestuursleier van die universiteit aan bande te lê, blyk onder meer uit sy vrugtelose pogings (waarvan die gemelde brief die jongste is) om bestuurshandelinge van veral dr. Theuns Eloff en prof Herman van Schalkwyk as bedenklik of selfs wederregtelik te laat brandmerk.

Sedert sy benoeming as visekanselier het prof Kgwadi hom uitdruklik daarop toegespits om die fondamente waarop die sukses van die NWU sedert 2005 gebou is, af te breek deur goed-funksionerende strukture, verhoudinge en werkswyses met onbeproefde meganismes te vervang. Hierdie werkswyse het sonder twyfel toenemend ʼn destabiliserende uitwerking op die universiteit. Hoewel dit vanselfsprekend is dat strategie en struktuur deur ʼn instelling soos die NWU gereeld hersien en waar nodig in belang van konstruktiewe vernuwing aangepas moet word, het dit aanvanklik voorgekom asof die visekanselier bloot ideologiese oorwegings gehad het (saamgevat in sy vertolking van die eise van transformasie). Uit latere optrede, waaronder die irrasionele vrese wat hy uitgespreek het oor sy veiligheid in Potchefstroom en veral uit sy jongste brief in die media, kom dit egter voor asof hy beweeg word deur ʼn gebrek aan vertroue in sy eie gesag en die wens om sy posisie te versterk deur persoonlike vetes in die openbaar te voer.

Die proses wat die visekanselier geïnisieer het en steeds dryf om die NWU se strategie en struktuur dramaties te verander, het reeds aanleiding gegee tot heelwat onsekerheid en demotivering in die geledere van die universiteitsgemeenskap, insluitend alumni, personeel en studente op al drie die kampusse. Deur energie op ʼn futiele openbare najaag van ʼn vreesgedrewe persoonlike agenda te verspil, word die spanning en verdeeldheid binne die Universiteit uit die aard van die saak verhoog. Hierdie optrede strek nie net tot nadeel van diegene wat regstreeks by die NWU betrokke is nie, maar is skadelik vir hoër onderwys oor die algemeen en dus teen die belang van die land in geheel.

My doel met hierdie brief is in die eerste plek om die Raad te bedien met die perspektief van ʼn nabye waarnemer op die verloop van sake aan die universiteit en tweedens om die aandag daarop te vestig dat die wesenlike veranderinge aan die rigting en werking van die NWU wat die visekanselier najaag, met groot versigtigheid bejeën behoort te word, veral ook omdat dit oor weinig legitimiteit binne die universiteitsgemeenskap beskik.

Met hoogagting,

Francois Venter

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie van Staden ·

Die spyker word op die kop geslaan met die brief. Dit is soos in baie gevalle, sonder om te veralgemeen, die geval waar onbekwaam of nie geskikte persone in gesags posisies geplaas word dat hul aggresief optreë teenoor die onder hul of hulle voorgangers. Duidelik ‘n gebrek aan vertroue in sy eie gesag en om sy gebreke te verberg.

Veronika van Schalkwyk ·

Hierdie is die tweede brief van Francois Venter waar hy sonder omhaal van woorde die waarheid reguit uitspel. Wat ‘n die voorreg !! Graag sou ek sy hand wou skud en in die oë kyk om self aan hom dankie te sê want sy kaliber is nie meer so volop nie.

Nic Grobler ·

Daar is seker geen oud-PUK wat nie die verwikkelinge op Potch met groot kommer gadeslaan nie. Enige gesamentlike reaksie van ons kant sal Kwadi seker nog groter paranoia laat beleef en hom na sy politieke ‘hanteerders’ laat vlug. Sterkte Francois. Moenie opgee nie. Weet net dat ons jou steun.

HEVW ·

Ons wil net hier vanuit Namibie aan ons totale universiteitsgemeenskap die versekering gee dat ons onsself nie beleef as afgeskei van dit wat vir ons lief en dierbaar is nie. Ons verseker jul dat ons jul heelhartig ondersteun.

Tanja Davel ·

Prof. Venter het nog altyd die NWU eerste geplaas en het hy ‘n onomwonde liefde vir sy werk uitgeleef. Selfs teenoor ons as sy studente (ek is ‘n oud student – toe nog PU vir CHO) was dit duidelik dat hy nie gestuit sal word deur swakelinge soos Dan Kgwadi nie. Ek besef nou eers hoeveel respek Prof. Venter verdien!

Bruno Stef ·

Van my kommentaar is al by twee geleenthede verwyder kom ons pro beer maar weer, Die universiteits gebou met TOTIUS se standbeeld daarvoor was alreeds vanaf n park verwyder omdat die standbeeld seker aanstoot gegee het na die universiteits gebou toe. As hierdie tendens voorgaan sal later aangedring word op die verwydering van die standbeeld weereens MAW drie kommunistiese tree vorentoe een tree terug as daar te veel teenstand is.

Dup du Plessis ·

Vra maar net. Hoekom moes Kgwadi by Pukke aangestel word? ‘n Hoofsaaklike afrikaanse instelling. Dis soos om petrol op vuur te gooi en dink niks sal gebeur nie. Pateties – moes nooit gebeur het nie. Het ook ‘n seun in die koshuis op Pukke.

Henry ·

Goeie vraag.
Moenounie vir my vertel dat hulle nie kon waarneem wat in Bloemfontein aan’t gebeur is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.